Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Barmy Army: Meer as net mal ondersteuners

Swem jy by Hobie-strand in Port Elizabeth se Somerstrand-gebied, sien jy gereeld vliegtuie bo jou kop na die lughawe aangevlieg kom, soos veerpyltjies na hul teiken.

As jy die afgelope week daar in die seewater van die versengende hitte probeer ontsnap het, sou jy gou besef die meeste van daardie vliegtuie het onlangs wavragte vol Britte die Baai ingedra. Jy kan hulle op ’n myl uitken – rooigebrande gesigte, sneeuwit bene en die meerderheid met kledingstukke waarop ’n bekende embleem pronk: Dié van die Barmy Army.

Engeland se Barmy Army was in volle swang op Nuweland. Foto: Gallo Images

Port Elizabeth het die laaste week in die opbou tot die derde toets tussen Engeland en Suid-Afrika soos Southampton gevoel.

Donderdagoggend, op dag een, voel St. Georgepark soos die Oval. Tientalle Engelse vlae hang oor die reëlings van die Duck Pond-paviljoen.

Nadat Vernon Philander die eerste bal boul, sing die Barmy Army “Jerusalem”. Hulle doen dit ná die eerste bal van elke dag se spel in alle Engelse toetse.

Dit is een van die tradisies wat dié nie-amptelike ondersteunersklub van die Engelse krieketspan die bekendste krieketliefhebbers in die wêreld maak sedert dit in 1995 gestig is.

’n Handvol Engelse ondersteuners het toe tydens ’n toets Doer Onder begin sing hulle is die Engelse kaptein Michael Atherton se “Barmy Army”.

“Dit was in Adelaide, in die vierde toets van die reeks,” vertel Atherton in die persbank by St. Georgepark.

“Ons het die reeks om die As verloor en was met 0-2 agter. Ons het slegs 11 fikse spelers gehad, so ons was op ons laaste bene met baie beserings.

“ ’n Klein groep Engelse ondersteuners het ’n paar T-hemde gevat en hulself die Barmy Army genoem omdat hulle ’n hopelose spul ondersteun het.”

Hulle was “barmy” – gek, mal, getik – om daai vrot Engelse span te ondersteun.

Maar hulle het geluk gebring: “Op die ou end het ons daardie toets gewen.”

Sedertdien het die klub tot 30 000 lede gegroei, waarvan 3 500 betalende lede is, vertel hul mediabestuurder, Toby Marriot.

Terwyl die spelers middagete geniet en die Engelse ondersteuners meer vertroud raak met Castle Corner, vertel Marriot dat “A-klas-lede” 30 pond per jaar betaal (sowat R565).

Hulle kry toegang tot kaartjies en afslag by van die Barmy Army se vennote soos New Balance en Avis.

Tussen 700 en 800 lede het die toer na Suid-Afrika meegemaak. Die Barmy Army het ’n reisagentskap, Barmy Travel.

Dit kos ’n klomp geld, maar daar is selfs Barmy Army-lede wat op elke liewe Engelse kriekettoer gaan.

“Ons noem hulle die lunatics,” sê Marriot. “Daar is seker 30 of 40 van hulle.”

Dit gaan oor kameraadskap, soos wat die storie van twee van die lunatics, Decco en Mike, illustreer.

“Decco se bynaam is kort vir decorator, want hy is ’n verwer in Engeland. Hy woon alleen, hy het geen familie nie en hy spaar al sy geld om te reis en deel te wees van die Barmy Army.

“Hy is beste vriende met Mike, ’n fondsbestuurder, wat miljoene gemaak het. En hulle is beste pêlle danksy die Barmy Army en krieket. Dit som dit op vir my.

“Ek is mal oor die kameraderie en die wyse waarop ons die plaaslike kultuur omarm – ons sing liedjies saam met die tuisskare, samel geld in vir hul liefdadigheidsorganisasies en speel krieket teen plaaslike spanne.”

Opsoek na Decco en Mike stap ons Castle Corner toe. Die grasbanke ruik na sonbrandroom. Dit wemel van die Engelse ondersteuners. Daar is mense van alle ouderdomme – nie net afgetredenes soos ’n mens dalk dink nie. Jong mense spaar lank om saam met vriende op ’n toer saam met die Barmy Army te gaan.

Hulle noem my Funtime Tony.
Tony Emmerson

Tony Emmerson, ’n Engelsman wat al vir nege jaar in Sydney woon, staan met ’n plastiekglas vol jenewer en pienk tonikum.

“Hulle noem my Funtime Tony.” Hy wys na sy rooi skoene waarop sy bynaam gedruk is. Hy is een van die Barmy Army se beste liedjieskrywers.

“Ek toer sedert al 2010/’11. Ek was op 95% van die toere sedertdien. Die een in Suid-Afrika is altyd lekker.”

’n Mens wonder natuurlik hoe mense dit regkry om soveel tyd weg van die werk af deur te bring, maar Emmerson het ’n baie grootmoedige baas.

“Ek kan nie namens die ander mense praat nie, ek dink baie van hulle werk nie, hulle het die lotto gewen en vir niemand gesê nie. Maar my baas laat my toe om van hier af te werk.”

Funtime Tony is baie opgewonde oor die toets. En nie net oor die krieket nie.

“Mark Wood maak sy langverwagte terugkeer en ek het ’n liedjie oor hom geskryf, wat nogal gewild is.”

Ek vra of hy weet waar Decco is, ek wil graag met hom praat.

“Hy is genadiglik nie nou hier nie. Ons het ’n uitval gehad ’n paar toere terug. Ons kom nie oor die weg nie. Hy is egter mal oor die Wood-liedjie. Ek dink nie hy weet ek het dit geskryf nie.”

Marriot wil my aan ander lunatics gaan voorstel en ons stap om die veld na die ou paviljoen. Daar is “familie-politiek”, soos in enige gemeenskap, verduidelik Marriot die Emmerson-Decco-intrige terwyl ons verby rooigebrande Engelsmanne stap. En dit is wat die Barmy Army is, sê hy. ’n Familie, ’n gemeenskap.

Ons stap by die PE Crusaders-klub in. Giles Wellington en Chas Fulton drink albei ’n Castle Lite.

“Hulle is lunatics,” sê Marriot.

“Noem ons liewer veterane. Ek het ’n werk, so dit sal nie goed wees as ek ’n lunatic genoem word nie,” sê Wellington, wat sy eie finansiëledienste-onderneming het.

“Dit kom handig te pas dat ek my eie baas is terwyl ek Engeland oral in die wêreld wil ondersteun.”

Fulton werk vir die staat, maar beplan sy vakansies rondom krieket. Hulle volg Engeland reeds vir 20 jaar.

“Ons was al vyf keer in Suid-Afrika,” sê Fulton. Die twee het mekaar nie geken voor hulle danksy hul krieketliefde ’n band gesmee het nie.

Engeland kry beter ondersteuning oorsee as enige ander land en die lig die spelers se gemoedere op ’n paar taai, warm dae oorsee.
Chris Millard

“Ons het in 1998 ontmoet op ’n toer na Australië en ’n vriendskap opgebou op die toere sedertdien. Ons was by mekaar se troues ... en egskeiding-partytjies,” sê Wellington.

Mal goed gebeur op toer, sê hulle. “Gisteraand was nogal goed,” lag Fulton.

“Ja, ons het onsself in die plaaslike casino in ’n kafee bevind, waar ons 03:15 die oggend wortelkoek geëet het. Ons het dit afgesluk met ’n bietjie Jägermeister,” sê Wellington.

Fulton: “Daar is soveel stories, waarvan ons baie min kan publiseer.”

Almal is dit eens dat Suid-Afrika ’n baie lekker toer is, veral omdat dit so goedkoop is vir mense wat ponde verdien. Die Suid-Afrikaanse toerisme-departement het na die Barmy Army uitgereik en aktiwiteite soos ’n wyntoer vir hulle gereël in ruil vir promosiewerk op sosiale media.

Dis meestal sonskyn, roomys en bier vir die Barmy Army hier, maar nie die heeltyd nie. ’n Paar reisende Britte vorm nou deel van Suid-Afrika se aansienlike misdaadsyfer.

Daar was drie voorvalle van mense wat in die aand beroof is deur skelms met messe. ’n Vrou se handsak is ook gesteel. En dit is maar enkele voorbeelde.

Engeland se spelers wys hul waardering vir die Barmy Army. Foto: Gallo Images

Chris Millard (25), die besturende direkteur van die Barmy Army, sê die misdaad is erger as toe hy vier jaar gelede hier was.

“Suid-Afrika is steeds my gunstelingtoer, vir soveel redes. Die kultuur, die weer, die krieket, die kos en drank, jy kan op safari gaan, jy kan deur die wynlande toer, dit is so ’n spesiale plek. Een ding wat sleg is, is die misdaad,” sê Millard.

“Ongelukkig is dit baie erger as laas. Ons is hier om onsself te geniet en ons probeer seker maak ons lede is veilig, dat hulle in groot groepe reis en taxi’s gebruik.”

Die Barmy Army geniet dit nou maar eenmaal om ’n drankie of vyf te drink en dan is hulle nie altyd so waaksaam nie, sê Millard.

Al vloei die verversings vrylik by St. Georgepark, is die ondersteuners die heeltyd bewus van wat in die toets aangaan. Selfs al is dit met tye ’n vervelige affêre op ’n stadige blad.

Met Ben Stokes en Ollie Pope se honderdtalle Vrydag laat die Barmy Army van hom hoor. Die spelers sien hulle raak.

“Die span het nog altyd baie waardering vir die Barmy Army,” sê Atherton.

“Jy kon dit veral in die vorige toets op Nuweland sien. Engeland kry beter ondersteuning oorsee as enige ander land en die lig die spelers se gemoedere op ’n paar taai, warm dae oorsee.”

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Barmy Army  |  Engeland  |  Suid-Afrika  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.