Temba Bavuma het waarskynlik die Proteas se nr. 3-plek in eendagkrieket sy eie gemaak met uithalervertonings in die reeks teen Engeland.

In die eerste wedstryd teen Engeland het Temba Bavuma twee lopies kort gekom van sy tweede internasionale eendaghonderdtal. Foto: AP
Bavuma het dié reeks, wat met 1-elk gelykop geëindig het, as die derde voorste lopiemaker afgesluit met 148 lopies teen ’n gemiddeld van 49.33. Hy het sy lopies boonop teen ’n puik treftempo van 90.79 aangeteken.
“Ek dink hy het baie goed gespeel. Hy het ’n puik beurt in Kaapstad gespeel en het waarskynlik ’n honderdtal verdien,” het Mark Boucher, die Protea-afrigter, gesê toe hy oor Bavuma uitgevra is.
In die eerste wedstryd in Kaapstad is Bavuma been voor paaltjie betrap deur ’n bal wat effens laag gebly het met sy telling op 98.
“Ek wil nou nie sê hy is ‘two (too) short’ nie,” het Boucher oor die buksie geskerts.
“Hy het ingestap en oorheers van die eerste bal af, wat altyd goed is. Hy lyk gemaklik in daardie nr. 3-posisie. Sy vertonings was een van die pluspunte uit dié reeks.”
Bavuma het ná die wedstryd in Kaapstad gesê hy is nie seker dat hy sy plek in die span vasgemessel het nie. Dit was maar sy derde eendagwedstryd in byna vier jaar.
Bavuma het ’n honderdtal in sy eendagbuiging in 2016 teen Ierland geslaan, maar het eers weer meer as ’n jaar later teen Bangladesj kans in die eendagspan gekry. Toe het hy 48 aangeteken, maar is steeds gesien as meer van ’n toetsspeler as ’n witbalspeler.

Temba Bavuma is baie goed daarmee om die slag te verwissel. Foto: Gallo Images
“Ek dink daar is ’n neiging in Suid-Afrikaanse krieket dat baie spelers gebrandmerk word as ’n ‘een-formaat-speler’. Dit is seker maar hoe dit is in die media, iemand moet ’n storie skryf,” het Bavuma ná die wedstryd in Kaapstad gesê.
“Ek het nooit saamgestem met die gedagtegang dat ek net ’n rooibalspeler is nie. Ek het nog altyd net soveel van T20- en eendagkrieket gehou as wat ek van toetskrieket gehou het.
“Dit het net so gebeur dat my geleenthede in rooibalkrieket gekom het.”
Bavuma het die vermoë om die slag skitterend te verwissel en ook vinnig tussen die paaltjies te hardloop en sodoende enkellopies in twees te omskep. Hy kan ook die grenstou vind en het selfs twee mooi sesse in Kaapstad geslaan.
Hy is ook in die T20-groep vir die reeks teen Engeland, wat Woensdag begin en sal graag sy kleim in dié formaat ook wil afsteek, veral met die oog op die T20-Wêreldbeker wat in Oktober en November in Australië plaasvind.