Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Bavuma gaan Stars lei. . . voor leë stadion

Wanneer Temba Bavuma die Jozi Stars Vrydag in die openingswedstryd van die Mzansi-superliga (MSL) op die veld lei, gaan dit voor ’n Wanderers-stadion wees wat nie eens ’n derde vol is nie.

Krieket Suid-Afrika (KSA) se “spogtoernooi” stuur af op ’n antiklimaks van ’n openingsnaweek. Daar is teen Dinsdag nog net 8 200 kaartjies vir die openingswedstryd tussen die Stars en die Cape Town Blitz verkoop en die verwagting is dat daar sowat 10 000 mense sal opdaag om Bavuma en sterre soos die Windie-mokerman Chris Gayle in aksie te sien.

Temba Bavuma is as die Jozi Stars se kaptein aangewys. Foto: Gallo Images

Die Wanderers het plek vir 34 000 toeskouers. KSA hoop die MSL, wat weer op die SAUK uitgesaai sal word nadat die regte glo pasella vir die openbare uitsaaier gegee is, lok groot skares. As die vooruitskouing vir die eerste wedstryd ’n aanduiding is, moet KSA sy verwagtinge maar afwaarts aanpas.

Suid-Afrikaners wat wél opruk stadion toe, kan groot vermaak verwag, beloof die “Universe Boss” Chris Gayle.

“My plan is om die eerste ses wedstryde vir die span te wen en die res dan aan die ander spelers oor te laat,” skerts Gayle, wat slegs vir die eerste ses wedstryde beskikbaar is.

Mense kan dieselfde Chris Gayle as altyd verwag – ek gaan poog om te vermaak.
Chris Gayle

Hy sou byna glad nie in aksie gewees het nie, maar “ek het dit verlede jaar so baie geniet dat ek besluit het om minstens vir die eerste ses wedstryde terug te kom.

“Suid-Afrika is een van my gunstelinglande. Ek het my o.19-loopbaan in 1996 hier begin. Dit mag dalk my laaste seisoen in Suid-Afrika wees, so ek sien baie uit.

“Mense kan dieselfde Chris Gayle as altyd verwag – ek gaan poog om te vermaak. Ek wil ook graag ’n rol in die kleedkamer speel en ’n mentor vir die jong spelers wees.”

Chris Gayle wil die Jozi Stars help om hul Mzansi-superliga-titel te behou. Foto: Gallo Images

Gayle (40), wat reeds uit internasionale krieket getree het, gaan sy speelskedule van volgende seisoen af begin inperk.

Voor dan is hy egter een van die groot kanonne wat die Stars se nuwe kaptein, Bavuma, hoop grootskaalse verwoesting in vanjaar se MSL kan saai.

Bavuma neem die leisels by Dane Villas oor, wat vanjaar vir die Durban Heat gaan speel.

“Ek put baie selfvertroue uit die posisie as kaptein. As ek na al die talentvolle spelers in die groep kyk, voel ek sommer ’n bietjie langer,” skerts Bavuma, wat slegs 1,62 meter in sy sokkies staan.

Die span het vanjaar ook ’n nuwe breier – Donovan Miller. Dié 40-jarige Jamaikaan neem die leisels oor by Enoch Nkwe, wat die Proteas se waarnemende spandirekteur is. Miller sê sy groot taak gaan eenvoudig wees om te sorg dat die spelers gelukkig en tevrede is.

* Vanjaar se MSL word weer tussen ses spanne beslis, wat elkeen twee keer teen mekaar speel.

Ná die groepfase, speel die spanne wat tweede en derde geëindig het in ’n uitspeelwedstryd teen mekaar. Die wenner van daardie kragmeting pak die span wat eerste geëindig het, op 16 Desember in die eindstryd.

Meer oor:  Chris Gayle  |  Temba Bavuma  |  Msl  |  Kaartjies  |  Mzansi-Superliga  |  Jozi Stars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.