Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Temba Bavuma gestraf nadat hy vloek
Temba Bavuma stap teleurgesteld van die veld. Foto: Gallo Images

Die Protea-kaptein, Temba Bavuma, is een strafpunt opgelê nadat hy op die veld gevloek het gedurende Maandag se eerste T20-wedstryd teen Ierland in Dublin.

Die Internasionale Krieketraad (IKR) sê in ’n verklaring die voorval het in die sesde boulbeurt van Suid-Afrika se kolfbeurt plaasgevind toe Bavuma gevloek het nadat hy vir 13 lopies agter die penne uitgevang is.

Dit is Bavuma se eerste oortreding in ’n tydperk van 24 maande – die tydperk waarvoor strafpunte geldig bly.

Bavuma het skuld aan ’n vlak 1-oortreding beken en sy straf aanvaar.

Die Protea-kaptein het ook gesukkel om hond haaraf te maak in Donderdag se tweede wedstryd in Belfast. Hy is vir ’n nulletjie uit.

Die res van die Protea-kolflys het ook kleigetrap en die span het in die tiende boulbeurt op 58/5 gesteier.

David Miller het die tweede T20-wedstryd teen Ierland Donderdag vir Suid-Afrika beklink. Foto: Gallo Images

’n Vennootskap van 58 lopies tussen David Miller (75*, 44 balle) en Wiaan Mulder (36, 26 b) het die span weer op koers gekry. Miller het vier sesse in die laaste boulbeurt geslaan om die Proteas tot ’n goeie telling van 159/7 te voer.

Die draaibalboulers Tabraiz Shamsi (3/14 in vier boulbeurte) en Bjorn Fortuin (3/16 in vier bbe.) het daarna geskitter met die bal en die Iere is vir 117 uitgeboul.

Die Proteas het die wedstryd met 44 lopies gewen en die reeks met 2-0 beklink, met een wedstryd wat Saterdag nog gespeel moet word.

Vir Miller sou dié beurt baie vir sy selfvertroue beteken het.

“Ek het nie regtig gevoel my spelpeil was swak nie. In die laaste sewe wedstryde, wat die vyf wedstryde in die Windies insluit, moes ek op nr. 6 instap, wat ’n spesifieke rol vereis,” het hy ná die wedstryd gesê.

Hy het homself vroeër gereeld sonder vennote aan die ander kant bevind, of in situasies waar hy van die begin van sy beurt af moes soek vir groot houe.

In dié wedstryd was ons in die moeilikheid en ek was vroeg in, so ek kon myself eers aan die gang kry.
David Miller

“In dié wedstryd was ons in die moeilikheid en ek was vroeg in, so ek kon myself eers aan die gang kry.”

Miller sê die span het ’n “formule” uitgewerk vir hul kolfplan van nr. 6 tot nr. 11, sodat die stertkantkolwers ook ’n bydrae kan lewer.

“Om saam met Wiaan Mulder te kon kolf, was ook baie goed. Ons vennootskap het die wedstryd geswaai. My rol het toe weer verander toe hy uit is, en ek is bly ek kon ’n positiewe impak maak.”

• Die derde wedstryd begin Saterdag om 17:00 en word op SS Cricket (212) uitgesaai.

Meer oor:  David Miller  |  Temba Bavuma  |  Suid-Afrika  |  Ierland  |  Vloek  |  Straf  |  Proteas  |  Kaptein  |  Krieket  |  Ikr
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.