Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Bavuma loop 1ste stryd teen Aussies mis

Temba Bavuma sal Vrydag se eerste T20-wedstryd teen Australië op die Wanderers weens ’n dyspierbesering misloop.

Bavuma het sy regterdyspier seergemaak terwyl hy Sondag veldwerk gedoen het in die derde T20-wedstryd teen Engeland in Centurion. Die voorgeskrewe hersteltyd is tussen sewe en tien dae en die Proteas sal hom mooi dophou met die hoop dat hy Sondag in die tweede wedstryd in Port Elizabeth kan speel.

Temba Bavuma het puik gevaar in die T20-reeks teen Engeland. Foto: Gallo Images

Daar is geen plaasvervanger vir hom opgeroep nie en die kans is dus goed dat Jon-Jon Smuts die beurt saam met Quinton de Kock sal begin.

Bavuma se kolfwerk as aanvangsvennoot vir De Kock was die groot vonds van die T20-reeks teen Engeland. Bavuma het 123 lopies teen ’n gemiddeld van 41 en ’n skitterende treftempo van 153.75 aangeteken.

Hy en De Kock het vennootskappe van 48 (4.1 boulbeurte), 92 (7.5 beurte) en 84 (7.4 beurte) in die drie wedstryde opgestapel.

Quinny en Temba het ons in elke wedstryd gehelp om goed te begin. Dit is ’n groot pluspunt vir ons – dat Quinny ’n goeie vennoot gevind het.
Heinrich Klaasen

Mark Boucher het ná die derde wedstryd gesê sekere spelers het hul aandele laat styg en Bavuma is sonder twyfel nr. 1 op daardie lysie.

“Daar is vrae beantwoord, sommige positief en dalk een of twee negatief. Minstens is die vrae beantwoord,” sê Boucher.

Smuts was minder oortuigend as middelordekolwer en as hy wel die kans kry om die beurt te begin, sal hy moet wys wat in hom steek.

“Ons het ’n goeie idee van watter posisies ons moet vul en watter spelers na vore tree vir daardie plekke. Met die oog op die T20-WB het ons baie opsies beskikbaar en dit is opwindend.”

Heinrich Klaasen, wat Sondag vir die eerste keer in ’n jaar witbalkrieket vir Suid-Afrika gespeel het, is ook liries oor die nuwe aanvangsvennootskap.

“Quinny en Temba het ons in elke wedstryd gehelp om goed te begin. Dit is ’n groot pluspunt vir ons – dat Quinny ’n goeie vennoot gevind het,” sê Klaasen.

Heinrich Klaasen het sy kans in die laaste T20-wedstryd teen Engeland aangegryp. Foto: Gallo Images

Hy is ook een van die spelers wat sy kans in die reeks teen Engeland aangegryp het met ’n spogbeurt van 66 (33 balle) op SuperSport-park.

Klaasen het twee moeilike jare agter die rug. Nadat hy in 2018 met skittervertonings teen Indië op die internasionale verhoog verskyn het, het sy spelpeil só ingesink dat hy nie die groep vir verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi kon haal nie.

’n Gesprek met twee van sy mentors het hom weer op koers gekry.

“Ek het baie met een van my mentors Albie Morkel gepraat die laaste paar weke en ook met Jacques Rudolph, want ek het gevoel ek het my identiteit as ’n speler so ’n bietjie verloor,” sê Klaasen (28).

“Hulle het vir my gesê wat dit is wat ek doen wanneer ek op my beste is en dat ek daarop moet fokus.

“Ek wil ’n groot impak maak in elke wedstryd waarin ek speel. Ek wil altyd aggressief wees. Nie noodwendig deur die bal in die lug te slaan nie, maar om die bal so hard as wat ek kan in gapings te slaan.”

Meer oor:  Heinrich Klaasen  |  Temba Bavuma  |  Australië  |  Beseer  |  T20  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.