Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Bavuma oor transformasie: ‘Onvoorbereid’

Transformasie-druk en kwota-gesprekke het die genot wat Temba Bavuma nog altyd uit krieket geput het, begin temper nadat hy in 2014 as 24-jarige sy toetsbuiging gemaak het.

Temba Bavuma
Temba Bavuma Foto: Getty Images

Bavuma het vandeesweek sy 30ste verjaardag gevier en in ’n Instagram-gesprek met die krieketkommentator Pommie Mbangwa eerlik oor transformasie gepraat. Hy het ook bevestig hy sal ja sê as Krieket Suid-Afrika die Protea-toetskapteinskap vir hom aanbied.

Bavuma, wat in 2016 die eerste etniese swart kolwer geword het wat ’n toetshonderdtal vir Suid-Afrika slaan, sê hy wou nog altyd teen alle spelers meeding. Hy wou nooit net om die twee plekke meeding wat volgens die transformasieteikens deur etniese swart spelers in die nasionale span gevul moet word nie.

“Op skool en in provinsiale krieket het ek myself altyd as ’n goeie speler beskou en gedink ek is net so goed, indien nie beter nie, as die ander ouens in my span,” sê Bavuma.

“Dieselfde op franchise-vlak, ek het met al ses of sewe ander kolwers in die span meegeding.

“Ek het gevoel ek het my plek in die span verdien deur goeie vertonings te lewer. Toe ek opgeroep is om vir Suid-Afrika te speel, het daardie sienswyse so effens verander. Dit was nogal ’n skok.”

Bavuma het slegs tien en 15 in sy eerste twee toetse teen die Wes-Indiese Eilande geslaan.

“Daarna het die gesprekke begin verskuif van ‘Hier is ’n jong speler wat potensiaal getoon het in plaaslike krieket’ na ‘Hier is ’n etniese swart krieketspeler, wat nie goed genoeg is om op dié vlak te speel nie en die stelsel dien Suid-Afrikaanse krieket nie soos dit moet nie’.”

Ek wou myself nooit sien as ’n etniese swart speler wat met een of twee ander swart spelers meeding nie. Ek het myself net as ’n krieketspeler gesien.

Wat gevolg het, was ’n paar jaar van ontnugtering vir Bavuma.

“Ja, ek is ’n krieketspeler, maar ek kan nie die feit dat ek swart is, ignoreer nie. Ek kan nie ignoreer dat ons as ’n land ’n geskiedenis het wat verweef is met verdrukking, waar een ras voordele geniet het wat ander nooit kon hê nie.

“Beleid is nou in plek om die speelveld gelyk te maak. As ’n krieketspeler moet jy aanvaar dat jy soms gesien kan word as ’n instrument vir daardie beleid om gestalte aan te neem.”

Aan die begin van sy internasionale loopbaan het hy gesukkel daarmee.

“Ek wou myself nooit sien as ’n etniese swart speler wat met een of twee ander swart spelers meeding nie. Ek het myself net as ’n krieketspeler gesien.”

Bavuma sê daar word nooit in spanomgewings na spelers as “kwotas” verwys nie en gesprekke oor transformasie gebeur weinig. “Miskien is ons as spelers nie altyd volwasse genoeg vir sulke gesprekke nie.”

Hy sien ook die verdelende invloed wat transformasieteikens kan hê.

“Dit polariseer ons ondersteuners. As iemand swak vaar, sê almal die kwotastelsel is swak. Maar as ek rasioneel daaraan dink, dan voel ek ons moet ook die ander kant van die munt raaksien. As daardie spelers dan goed vaar, moet ons kan sê dít is wat transformasie vir die land doen.

“Maar dit is ’n taai gesprek. As ’n etniese swart speler dink ek nie die stelsel berei jou geestelik genoeg voor vir daardie druk nie. Jy moet goed kan vertoon onder druk in verskillende toestande.”

Hy het transformasie-gesprekke nietemin as deel van sy reis aanvaar.

“Daar gaan sekere goed wees wat jy met volwassenheid moet benader. Maar as ’n speler moet jy altyd onthou politiek is nie jou forte nie.”

Meer oor:  Krieket Suid-Afrika  |  Temba Bavuma  |  Kwotas  |  Transformasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.