Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Bavuma se swak geluk duur voort
Temba Bavuma het ’n nuwe besering opgedoen. Foto: Gallo Images

Arme Temba Bavuma het klaarblyklik iets gedoen om die krieketgode die josie in te maak.

Dié Protea-kolwer loop die tweede toets teen die Wes-Indiese Eilande, wat Vrydag in St. Lucia begin het, weens ’n nuwe besering mis.

Dít nadat hy pas herstel het van die besering wat hom uit die eerste toets gehou het!

Ironies genoeg het hy daardie besering ook opgedoen nadat hy pas van die krukkelys teruggekeer het.

Sy nuutste kwaal is ’n vingerbesering. Hy het Woensdag by die span se veldwerkoefening sy linker-middelvinger ontwrig.

Dié besering beteken dat Kyle Verreynne nog ’n kans in ’n onveranderde Protea-elftal vir die tweede toets kry.

Bavuma, die witbalkaptein, sal wel beskikbaar wees vir die reeks van vyf T20-wedstryde, wat volgende Saterdag in Grenada begin.

Bavuma het die eerste toets, wat Suid-Afrika met ’n beurt en 63 lopies gewen het, met ’n heupbesering misgeloop. Dit is ’n ou besering wat weer opgevlam het, een wat hy oorspronklik aan die einde van 2019 opgedoen het.

Dié heupbesering het hom platgetrek nadat hy van ’n dyspierbesering herstel het wat hy in April in die reeks teen Pakistan opgedoen het.

As deel van die rehabilitasie vir sy dyspierbesering, het hy selfs in Durban saam met die Haaie se rugbyspan se fisioterapeut geoefen.

Hy het volkome van dié besering herstel voordat die heup hom in die Karibiese Eilande weer begin opkeil het.

Sy lys beserings klink kompleet soos iets uit die fliek Inception. Dis net nie ’n droom binne ’n droom binne ’n droom soos in die rolprent nie, maar ’n besering binne ’n besering binne ’n besering.

Sy plaasvervanger, Verreynne, het Vrydag veel beter gevaar as in die eerste toets, toe hy sy paaltjie vir ses lopies met ’n roekelose hou weggegee het.

In sy tweede probeerslag het Verreynne hom vroeg by sy kaptein, Dean Elgar, aangesluit nadat die Windie-snelboulers in die eerste sessie van Aiden Markram (0), Keegan Petersen (7) en Rassie van der Dussen (4) ontslae geraak het.

Toe Verreynne hom by Elgar aangesluit het, het die Proteas op 37/3 in die 18de boulbeurt gesteier.

Dít op ’n blad wat nommerpas vir naatboulwerk is. Die Windie-boulers het hope swaai deur die lug en naatbeweging van die blad af gekry en die Protea-kolwers is strykdeur uitgedaag.

Elgar, wat ’n nulletjie in die eerste toets gekry het, was weer sy hardnekkige self. Hy het hom goed ingegrawe en geduldig gekolf.

Verreynne het sy kaptein se voorbeeld goed nagevolg. Die lopies het nie vinnig gekom nie, maar dít het die 24-jarige Kapenaar nie ontsenu nie.

Hy was geduldig en het die bal goed met rus gelaat buite die wegpen, presies wat nodig is op ’n blad met soveel swaai.

Hy het ook goeie oordeel aan die dag gelê, iets wat sy kolfmaats Van der Dussen en Markram, en selfs tot ’n mate Petersen, in die steek gelaat het.

Markram is in die tweede boulbeurt uit nadat hy ’n wye aflewering nodeloos probeer kap het en die bal in die veldwerker op punt se keelgat afgeslaan het.

Petersen het ’n paar mooi dryfhoue gespeel voordat hy een te veel gepoog en buiterand bygekry het. Hy het straks te hard na die bal gespeel.

Van der Dussen het ’n aflewering van Jason Holder met rus gelaat, maar die bal het ingeswaai en sy wegpen getref.

* Verreynne is net voor die teetyd uit vir 27 (89 balle). Hy het 'n vennootskap van 87 met Elgar (53*, 155 b) gedeel, wat die Proteas weer op koers gekry het.

Suid-Afrika het die teetyd op 125/4 bereik. Elgar en Quinton de Kock (1*) kolf ná die kort pouse voort.

Meer oor:  Proteas  |  Temba Bavuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.