Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Bavuma wil dié wanopvatting verander

Temba Bavuma het ’n daadwerklike poging aangewend om die opvatting dat hy slegs ’n meerdagspeler is, te verander.

Nou kan Bavuma, wat die Lions met ’n honderdtal in die eindstryd tot die titel in die plaaslike T20-reeks aangevoer het, Sondag eindelik sy kans in die Proteas se blitsspan kry.

Temba Bavuma in die eindstryd van die plaaslike T20-reeks in aksie. Foto: Gallo Images

Hy kan sy internasionale T20-buiging in die eerste wedstryd teen Indië in Dharamsala maak, maar hy het nie verwag om enigsins deel van die T20-reeks van drie wedstryde te wees nie.

“Ek was verras om die oproep te kry. In Suid-Afrika is daar ’n opvatting dat ek net ’n rooibalspeler is,” sê Bavuma.

“Ek het geweet ek wil graag witbalkrieket ook speel. Gelukkig het my goeie vertonings die laaste jaar my gehelp om hierdie geleentheid te kry.

“Ek wil graag die meeste hiervan maak.”

Bavuma was die derde voorste lopiemaker in die plaaslike T20-reeks. Die Lions-kaptein het sy 326 lopies teen ’n gemiddeld van 46.57 en ’n kerngesonde treftempo van 137.55 aangeteken.

Hy is geensins ’n mokerman nie, maar vind gate in die veld en hardloop vinnig tussen die paaltjies.

“Mense is vinnig om jou as ’n sekere tipe speler te brandmerk. Dit kan ’n goeie of ’n slegte ding wees.

“Om mense verkeerd te bewys, dien altyd as ’n bietjie bykomende motivering.

“Ek neem egter nie dít wat mense sê, ter harte nie. Jy gaan altyd mense hê wat vir jou veg en jy gaan mense kry wat jou wil bykom.

As jy begin oorheers, begin die skare stil raak. Hopelik kan ons die skare stil speel.
Temba Bavuma

“Ek het verlede seisoen ’n daadwerklike poging aangewend om my eendagkrieket te verbeter. Ek het soveel as moontlik T20-wedstryde gespeel, selfs in amateurkrieket en in ons plaaslike reekse.

“Dit was doelwitte wat ek vir myself gestel het, nie vanweë enigiets wat enigiemand gesê het nie.

“As ’n internasionale speler kom daar druk vanuit alle oorde. Dan wil jy nie luister na wat almal sê nie, jy wil luister na die stem tussen jou ore.”

Ná al hierdie werk wat Bavuma ingesit het, sal dit vir hom ’n groot oomblik wees om eindelik sy T20-buiging te maak.

“Ek is 29, maar ek gaan weer 21 voel as ek my buiging maak.”

As hy die kans kry, wil hy eenvoudig ’n bydrae tot die span lewer in ’n reeks waarin die Proteas beslis nie die gunsteling is nie.

“In Indië is die toeskouers die Indiese span se 12de speler. Hulle is baie luidrugtig. Jy kan niks daaraan doen behalwe om goeie krieket te speel nie.

“As jy begin oorheers, begin die skare stil raak. Hopelik kan ons die skare stil speel.”

Meer oor:  Indië  |  Proteas  |  Temba Bavuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.