Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Beoordeel foutballe só, pleit Ngidi

Tegnologie moet ingespan word om foutballe beter te beoordeel, sê die Protea-snelbouler Lungi Ngidi.

Lungi Ngidi het Sondag ’n groot rol in die Proteas se oorwinning oor Australië gespeel. Foto: Gallo Images

Ngidi is Sondag in Port Elizabeth, waar die Proteas die tweede T20-wedstryd teen Australië met 12 lopies gewen het, vir ’n foutbal gestraf.

Toe die voorval weer op televisie gewys is, was dit duidelik dat dit nie ’n foutbal was nie.

Anders as wanneer ’n paaltjie gekantel het, kon die skeidsregter egter nie die tegnologie gebruik om sy eie fout reg te stel nie.

“Dit (’n foutbal) kan natuurlik ’n hele wedstryd verander as dit teen jou is. Van waar ek op die veld was, kon ek sien ons kleedkamer was op hul voete, so ek het geweet dat iets verkeerd moes wees,” sê Ngidi.

“Maar die skeidsregter het sy besluit geneem en dis hoe die spel werk. Daar was ’n vry hou en ek het geweet ek moet my bes doen om nie ’n lopie af te staan nie.”

Ngidi sê hy sal beslis daarvan hou as die tegnologie ook by die roep van foutballe gebruik word omdat dit die spel meer “regverdig vir almal” sal maak.

Veral in T20- en eendagwedstryde kan een lopie die verskil tussen wen of verloor beteken.

Andrew McDonald, die Aussies se hulpafrigter, sê ’n “mens wil nie eintlik oor sulke dinge praat nie” maar “die tegnologie is daar”.

“Dis moeilik om ’n skeidsregter te wees. Daar is ’n fyn lyn en hulle moet hul besluite neem uit wat hulle op die veld sien,” sê McDonald.

Die Aussies het gesukkel om lopies teen Tabraiz Shamsi te kry. Foto: Gallo Images

Ngidi was verheug dat hy en sy medeboulers weer vir ’n slag ’n goeie boulvertoning – veral teen die einde – kon lewer.

“Ons het daaroor gesels en het besluit om vertroue in ons vaardighede te hê. Ons het dit al voorheen gedoen en moes net weer in ons eie vaardighede glo,” sê Ngidi.

Hy was dalk aan die duur kant met syfers van 3/41, maar die paaltjies wat hy geneem het, was van deurslaggewende belang.

“Daar was ’n paar ongelukkige grenshoue, maar ek het geweet ek moet aanhou paaltjies neem om die teenstanders onder druk te hou,” sê Ngidi.

Die draaibouler Tabraiz Shamsi was ook een van sy span se helde, hoewel hy nie ’n paaltjie kon neem nie.

Shamsi, wat met 0/17 geëindig het, is deur McDonald as een van die Proteas se sleutelspelers uitgesonder.

“Tabraiz Shamsi het die tempo van die wedstryd in die middel van die kragmeting beheer,” sê McDonald.

Die Aussies het Alex Carey juis daarom vroeër ingestuur om te kolf omdat hy een van hul beste spelers teen draaiboulwerk is.

Dié plan het egter misluk toe Ngidi Carey skoongeboul het.

Die derde T20-wedstryd word Woensdag op Nuweland beslis.

Meer oor:  Eendagkrieket  |  Proteas  |  Lungi Ngidi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.