Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Biff bly waarskynlik langer by KSA

Graeme Smith kan so gou as volgende week as Krieket Suid-Afrika (KSA) se heeltydse direkteur van krieket aangestel word.

Dié voormalige Protea-kaptein is in Desember as die waarnemende direkteur van krieket aangestel en die verwagting was altyd dat hy dié pos heeltyds sou beklee.

Jacques Faul, waarnemende uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

Jacques Faul, waarnemende uitvoerende hoof, het Dinsdag gesê hulle is in die laaste stadium van onderhandelinge met Smith en hoop om volgende week ’n aankondiging te doen.

Smith self sê in die drie maande wat hy tot dusver in die tuig was, het hy begin om verskeie planne te maak wat hy in die langtermyn wil implementeer om die Proteas weer in ’n wêreldkrag te omskep.

“Dit is baie moeilik om my vordering te assesseer in so ’n kort tydjie. Sekere aspekte was goed en in ander opsigte is daar baie lesse geleer,” het Smith Dinsdag tydens ’n elektroniese nuuskonferensie gesê.

“Dit was die belangrikste ding die laaste paar maande: Om te verstaan wat in plek is, waarom dit in plek is, wat was die denkrigting agter van die besluite wat in die verlede geneem is en om dit dan alles te assesseer en ’n weg vorentoe te probeer formuleer.

As alles uitwerk soos wat ons hoop dit doen, hoop ek ons kan ’n span na die T20-WB stuur wat suksesvol kan wees.
Graeme Smith

“Daar was baie aan die gang uit ’n kommersiële oogpunt, wat kontraktering betref en om al ons spanne te help om goed te vertoon.”

KSA is besig om met ’n nuwe titelborg vir die Proteas te onderhandel nadat Standard Bank aangedui het hy gaan nie sy borgskap hernieu nie. Dié borgskap eindig op 1 April. KSA het ook verlede week die kontraktering van die nasionale mans- en vrouespelers afgehandel.

“Ek voel ek is in ’n goeie posisie om ’n paar goed te implementeer, dalk oor ’n paar strategieë te debatteer oor die weg vorentoe. Noudat ons die nuwe finansiële jaar betree, kan ons hopelik van die aspekte aan die krieketkant van die bedryf verbeter,” sê Smith.

Graeme Smith KSA se direkteur van krieket. Foto: Gallo Images

Hy het reeds sy visier gerig op die T20-Wêreldbeker-toernooi (T20-WB), wat geskeduleer is om in Oktober en November in Australië beslis te word.

“As alles uitwerk soos wat ons hoop dit doen, hoop ek ons kan ’n span na die T20-WB stuur wat suksesvol kan wees.”

Maar hy dink ook reeds verder as dít: “En dan om teen die volgende somer te weet wie ons beste 40, 45 spelers is, wat ons in die toekoms kan help.”

Smith dien in verskeie komitees binne KSA, soos die krieketkomitee en die herstruktureringskomitee, onder leiding van die voormalige uitvoerende hoof van die Internasionale Krieketraad, Dave Richardson.

Faul sê die Richardson-komitee het tot Junie tyd om oor die herstrukturering van plaaslike krieket ná die komende seisoen te besin.

Dié komitee het verlede week uitsluitsel gegee oor die struktuur vir die komende seisoen, waarin al ses franchises steeds sal meeding. Die verwagting is egter dat die plaaslike krieketlandskap ná die 2020/’21-seisoen drasties anders kan lyk.

Die Mzansi-superliga (MSL) sal ook steeds deel van Suid-Afrikaanse krieket wees, minstens vir die komende seisoen.

“Ons is steeds besig met die laaste onderhandelings, maar ons kan bevestig dat daar wel ’n MSL in Desember vanjaar sal plaasvind,” sê Faul.

Johann de Jager het verlede week berig spanne van die Vrystaat (Bloemfontein) en die Grens (Oos-Londen) gaan glo in die komende seisoen in ’n nuwe MSL betrokke wees, maar Faul wou Dinsdag nie enige bykomende inligting deel nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.