Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Graeme Smith dalk nuwe Protea-baas

Die voormalige Protea-kaptein Graeme Smith is glo een van vier kandidate in die wedloop vir Krieket Suid-Afrika (KSA) se nuwe pos van direkteur van krieket.

Volgens Rapport se bron is die vergadering waar ’n onderhoud met Smith via telekonferensie gevoer is, bygewoon deur Thabang Moroe, uitvoerende hoof van KSA, een van sy voorgangers, Ali Bacher, MultiChoice se uitvoerende voorsitter, Imtiaz Patel, en die Gauteng Lions se president, Jack Madiseng.

Graeme Smith

Moroe ontken egter dat KSA Smith genader het vir sy diens­te, en sê dat hy afsonderlike gesprekke gehad het met almal wat by die vergadering was – maar om verskillende redes.

“Ek het met Ali Bacher vergader om met hom te gesels oor KSA se sake en ons het daaroor gepraat om die geskiedenis van Suid-Afrikaanse krieket te herdenk. Wat Imtiaz betref, het ons in Dubai ontmoet oor die plaaslike strukture en wat SuperSport se rol daarin is,” sê Moroe.

“Ek het ook met oudspelers vergader om te gesels oor die bydraes wat hulle vorentoe kan lewer. Dit sluit in afrigtersrolle, direkteur van krieket, spandirekteur – al daardie posisies.”

Met verwysing na die vraag oor waar KSA hom bevind in die proses om ’n direkteur van krieket aan te stel, sê Moroe die paneel – wat volgens ’n bron uit Moroe, Madiseng, Tebogo Siko, president van die Noordelikes Krieketunie, en die KSA-raadslede Dawn Mokhobo en Shirley Zinn bestaan – het vier name wat voorgelê moet word. Moroe wou nie die name op die kortlys bekend maak nie.

Volgens ander bronne is die voormalige keurderbaas Hussein Manack en die voormalige Titans-afrigter Dave Nosworthy twee van die ander kandidate. Corrie van Zyl, die waarnemende direkteur van krieket wat twee weke gelede saam met twee ander senior amptenare van KSA geskors is hangende ’n ondersoek na die Mzansiliga-beeldregtekwessie, is glo die ander kandidaat.

Moroe het bevestig Van Zyl is nie uit die prentjie nie.

“Die skorsings is tydelik, so dit verhoed hom nie om aansoek te doen nie.”

Moroe sê hy weet nie wanneer ’n aankondiging oor die suksesvolle kandidaat gemaak sal word nie. Die nuwe direkteur van krieket se eerste plig sal straks wees om ’n permanente aanstelling in die pos van spandirekteur vir die Proteas te maak. Dié pos word tans op waarnemende grondslag deur Enoch Nkwe beklee.

“Sodra die direkteur van krieket aangestel is, sal hy sy denkrigting met my deel,” sê Moroe. KSA het glo ook ’n onderhoud met die vorige voorsitter van die keurkomitee, Linda Zondi, gevoer om moontlik weer in dié pos aangestel te word.

  • Intussen het die Protea-kolwer Temba Bavuma erken dit is nie ideaal dat daar kwessies soos die skorsing van Van Zyl en kie in KSA se topbestuur is nie.

“As die Proteas is ons ook in ’n konstruksiefase. Dit lyk of daar op alle vlakke herkonstruksie moet plaasvind,” sê Bavuma.

“As spelers kan ons nie juis op daardie dinge fokus nie. My mening oor al hierdie goed is beperk. Ons moet vertrou dat KSA deur die regte mense gelei word om te verseker die regte besluite word geneem.”

Hy sê daar was nie ’n vertrouensbreuk tussen die spelers en KSA nie. “Die naweek het ons ’n konferensie in (Zimbali) gehad. Die spelers en die bestuur was saam daar. KSA het ’n kans gehad om hul visie vir die volgende paar jaar met die spelers te deel.

“Daar was uiteraard ’n twis in die media tussen KSA en Saca (die spelersvereniging). Maar die spelers het ook die kans gekry om enige kwessies, wat hulle glo opgelos moes word, te probeer oplos.”

Die Kolpak-speler Simon Harmer meen daar is ’n tekort aan aanspreeklikheid by KSA.

“Wanneer foute gemaak word, of daar is gebrekkige kommunikasie, is daar nie baie van die administrateurs wat hand opsteek en sê ons het ’n fout gemaak en sal dit regmaak nie,” sê Harmer.

“Daar word altyd vingers na ander mense gewys. Dit is die grootste teleurstelling.

“Ek dink dit is kortsigtig om nou ’n klomp menings te grond op die toer in Indië, want Suid-Afrika het nog altyd daar gesukkel. Engeland toer later vanjaar hierheen en as dinge daarna nie beter lyk nie, kan daar ’n paar harde woorde val.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.