Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Graeme Smith: ‘My deur is altyd oop’

Moenie jul koppe breek om wonderwerke te probeer verrig nie. En onthou, my deur staan altyd oop.

Graeme Smith, Krieket Suid-Afrika se direkteur van krieket. Foto: Getty Images

Dít is die boodskappe waarmee Graeme Smith, Suid-Afrika se direkteur van krieket, die twee nuwe Protea-kapteins, Temba Bavuma en Dean Elgar, se senuwees die afgelope week in bedwang probeer bring het. En met ’n derde bemoedigende boodskap: ’n Verlies aan spelpeil sal hulle nie die kapteinskap kos nie.

“Ons moet hulle deur die hoogte- en laagtepunte ondersteun,” het Smith gesê.

“Ek was lank kaptein en daar is baie oë op jou. Jy word met valkoë dopgehou en jy het jou op- en af-tye. Ons hoop is dat alles goed sal gaan, maar ons verstaan ook daar gaan baie uitdagings wees.”

Smith het self die Proteas se kapteinskap op die grasgroen ouderdom van 22 oorgeneem, en in sy nege jaar aan die stuur meer toetsseges (53) as enige ander kaptein in die geskiedenis van wêreldkrieket opgestapel. Hy is gretig om die lesse wat hy daaruit geleer het met die twee nuwelinge te deel.

“My foon is altyd aan om vir hulle raad te gee. As ek hulle kan help om slaggate te vermy waarin ek as kaptein getrap het, sal ek dit graag doen,” het hy gesê.

“Om hul sterk en swak punte uit te pluis, gaan belangrik wees. Hulle sal ook die stres moet kan hanteer wat met die taak gepaardgaan. En die belangrikste is om goed te vertoon as kaptein. Jy gaan baie vrae moet antwoord voor die media en jy is baie meer in die kollig. Maar dis belangrik om tyd te vind om na jou eie spel ook om te sien.”

Temba Bavuma

Smith het gesê daar is besluit om Bavuma (die nuwe kitskaptein) en Elgar (die toetskaptein) permanent met die rolle toe te vertrou om stabiliteit te verseker.

“Ons het nog nie ’n onderkaptein in die eendagformaat aangestel nie. Ons wil nog met Temba praat oor wie hy voel die regte persoon daarvoor is,” het Smith gesê. “Maar in die toetse sal Temba Dean se onderkaptein wees.”

Victor Mpitsang, KSA se keurderbaas, het gesê Bavuma se leierskap, veral in T20-krieket, het die laaste paar seisoene sterk na vore getree.

“Temba verstaan die soort krieket wat Mark (Boucher) wil speel (wanneer dit kom by die kitsformaat),” het Mpitsang gesê.

“Hy is dinamies, dink altyd op sy voete en het die Lions goed gelei. In die laaste kompetisie (die T20-uitdaagtoernooi, wat die Lions verlede Sondag gewen het) het hy gegroei in sy rol as leier. Dit is waarom ons hom as kaptein aangestel het.”

Dean Elgar

Mpitsang sê Elgar, die Proteas se mees ervare toetsspeler, sal nie weens sy nuwe status as toetskaptein geïgnoreer word in witbalkrieket nie.

“Hy is wel nie nou deel van die eendagplanne nie, maar ek dink hy is baie naby.

“In dié stadium is hy meer gevestig as ’n toetsspeler, maar hy speel vir die Titans in alle formate en ons weet hy wil dit ook vir Suid-Afrika doen.”

Meer oor:  Graeme Smith  |  Krieket  |  Dean Elgar  |  Proteas  |  Temba Bavuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.