Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Biff: ‘Ntini se redes vir draf is skielik anders’

Graeme Smith was uit die veld geslaan oor Makhaya Ntini se onthulling ’n paar weke gelede oor sy eensaamheid in die Protea-span.

Graeme Smith. Foto: Getty Images

Ntini het drie weke gelede sy stem gevoeg by die koor van voormalige swart spelers wat hul ervarings van rassisme en diskriminasie in krieket begin deel het sedert die Black Lives Matter (BLM)-beweging in Suid-Afrikaanse krieket posgevat het. Ntini het gesê niemand het hom ooit genooi vir ete nie en dat hy veld toe en terug hotel toe gedraf het, omdat hy nie die eensaamheid in die spanbus kon verdra nie.

“Sy verduideliking aan my destyds was iets heeltemal anders. So ja, ek was oorbluf daardeur,” het Smith, Krieket Suid-Afrika (KSA) se direkteur van krieket, gister gesê op sy eerste nuuskonferensie sedert Ntini se beweringe. Smith was die kaptein vir ’n groot gedeelte van Ntini se loopbaan.

“Ek het saam met Mackie gespeel en nooit gedink hy is ’n stil mens nie. Toe ek in die span kom, was hy ’n reeds ’n senior.

“Hy het nooit só iets opgehaal teenoor my nie.”

“Kultuurgewys dink ek dit moes moeilik vir hom gewees het. By tye was hy die enigste swart speler.

Ons het ’n gesprek gehad en dinge met mekaar gedeel. Daar is vir seker geen kwessies tussen ons nie.

“Ek het dalk nie die nodige bewustheid rondom dit gehad nie. Ek het egter daaroor gaan sit en dink. Daar is egter ’n paar elemente daarin wat my werklik verras het.”

Smith sê hulle moet nou luister na stories soos Ntini s’n en deel van die oplossing wees. Hy wil nie hê Ntini se seun, die jong snelbouler Thando, moet ook eensaamheid in sy loopbaan ervaar nie.

Daar is ook geen kwade gevoelens tussen Smith en Ntini nie.

“Ons het ’n gesprek gehad en dinge met mekaar gedeel. Daar is vir seker geen kwessies tussen ons nie.”

Smith het ook bevestig dat hy verbind bly tot KSA. Sy mikpunt is om krieket in die land en die Proteas weer in ’n goeie posisie te kry.

Smith is in Desember verlede jaar aangestel en saam met die BLM-beweging het daar vrae oor die prosesse rondom sy aanstelling, en veral die aanstelling van sy vriend Mark Boucher as Protea-breier, opgeduik.

“Ek is deur ’n deeglike proses met my onderhoud. Daar was meestal swart mense by my onderhoud. Ek het goeie gesprekke met die president (Chris Nenzani) gehad.”

Hy het onder meer ook vir Paul Harris en Jacques Kallis as onderskeidelik draaiboul- en kolfkonsultant nader gehark. Die vingers het gewys na Smith wat sy vriende in posisies aanstel.

“Ek dink daardie narratief is baie onregverdig. Ek het nie myself aangestel nie en is deur ’n streng onderhoudsproses. Ek het ook dit duidelik gestel waarom ek by KSA betrokke geraak het.

Ek voel daar is ’n agenda met sekere dinge wat gesê word.

“Daar is ook ’n aantal permanente aanstellings gemaak in Desember, nie net Mark Boucher nie. Ek het Volvo (Masubelele) as spanbestuurder ingebring, Charl Langeveldt (boulafrigter) en Justin Ontong (veldwerk), Enoch Nkwe (hulpafrigter) en mediese personeel van die span.

“Harris is betrek ná ’n versoek van Keshav Maharaj om met hom te werk. Hy was net vir een reeks daar. Kallis is nie op die betaalrol van KSA nie, hulle was nie vaste aanstellings nie.”

Tog glo Smith daar is mense in die organisasie wat in die ander rigting trek as wat hulle wil beweeg. Hy het veral uitgepraat oor die bewerings dat daar ’n komplot is om van hom, Boucher en Jacques Faul, die waarnemende uitvoerende hoof, ontslae te raak.

“Ek voel daar is ’n agenda met sekere dinge wat gesê word. Intern is daar ook al die uitgelekte dokumente en om stories in die media te skep. Ek voel daar is ’n plan (teen ons).” Hy het na die agenda as ’n “kanker” verwys.

“Maar ek moet terugkom na my waardestelsel en waarom ek betrokke geraak het. Dit het gevoel daar was ’n chaos toe ek in Desember begin. Daar was geen vertroue onder mekaar in die organisasie nie.

“Soms wonder ek wat mense wil skep en probeer die motief en uiteinde van die uitgelekte dokumente verstaan.

“Soms is daar vrae of jy sukses kan behaal in die rol (met alles wat aangaan).”

Nenzani het in ’n onderhoud met Sport24 gesê Smith se aanstellings is alles deur die raad goedgekeur. Hy sê die BLM-veldtog moet nie in ’n heksejag teenoor individue ontaard nie.

Meer oor:  Graeme Smith  |  Krieket  |  Ksa  |  Black Lives Matter  |  Rassisme  |  Makhaya Ntini  |  Blm
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.