Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Big Mac: ‘Warner moet grootword’

David Warner is een van daardie ouens wat daarvan hou om dit uit te deel, maar dit nie kan vat as hy van sy eie medisyne kry nie.

Brian McMillan vier die paaltjie van die Aussie-aanvangskolwer Mark Taylor in ’n toets in Port Elizabeth in 1997. Foto: Gallo Images

“Dit reflekteer maar net sy kortmannetjie-sindroom,” sê Brian McMillan, die eertydse veelsydige speler van die Suid-Afrikaanse krieketspan, wat in talle bekgevegte met die Australiërs betrokke was op die krieketveld.

“Hy moet grootword en as hy nie die hitte kan hanteer wanneer sy persoonlike aanmerkings terugwaai na hom toe nie, dan moet hy nou maar vat wat hom toekom,” het McMillan Woensdag by navraag gesê in reaksie op die onderonsie tussen die Australiese onderkaptein en aanvangskolwer en die Suid-Afrikaanse paaltjiewagter, Quinton de Kock.

“Ek sal vir geen oomblik dink dat Quinton sou begin het om persoonlik te raak nie.

“Warner is berug daarvoor dat hy ’n skoorsoeker is en persoonlik wil raak met teenstanders. Kyk maar hoe hy met Joe Root (Engeland se kaptein) skoor gesoek het in ’n kroeg.

“Dit is ’n ou truuk van hom om snedige en persoonlike goed te sê, maar toe dit nou terugkom na hom toe, wou hy hom opruk.

“Dit wys jou net hy kan nie vat wat hy uitdeel nie. Tipies ’n kortmannetjie-sindroom. Nee wat, hy moet nou maar probeer grootword,” sê McMillan.

Enigeen wat glo hy en die Aussies het nie iets van ’n persoonlike aard kwytgeraak nie, moet baie naïef wees.
Brian McMillan

“Enigeen wat glo hy en die Aussies het nie iets van ’n persoonlike aard kwytgeraak nie, moet baie naïef wees. Van die kommentators het selfs op ’n kol gesê hulle het hul mikrofone afgedraai waar hulle kon hoor wat op die veld gesê word, want hulle het moeg geword vir wat Warner te sê het.

“Nou moet jy weet hoe moes dit vir die kolwers geklink het wat ’n paar treë van hulle gestaan het,” sê McMillan.

Die man wat as Big Mac bekend was in sy speeldae, sê al is daar baie dinge gesê tussen hom en die Aussies, is daar niks persoonlik oor vrouens en meisies gesê nie. Dit was meestal snaakse goed wat kwytgeraak is om die teenstanders te ontsenu,” vertel hy.

Brian McMillan sê David Warner moenie kla nou dat hy ’n bietjie van sy eie medisyne gekry het nie. Foto: Getty Images

McMillan het ook die legendariese storie bevestig waar hy met ’n pistool in die hand in die Aussies se kleedkamer ingestap het en daar pandemonium losgebars het.

Hy vertel wat gebeur het: “Die Aussie-kaptein, Allan Border, het baie te sê gehad toe ek gekolf het. Dit was daar op die Wanderers en ná die dag se spel het ek vir een van die sekuriteitswagte gevra of ek sy wapen, ’n 9 mm-pistool, kon leen.

“Hy het gesê nee hy mag dit nie aan my gee nie, maar ek het hom oortuig en seker gemaak hy haal al die patrone uit. Ek het self ook seker gemaak daar is nie meer ’n patroon in die loop nie.

“Ek is net met ’n handdoek om die lyf en daardie pistool in die hand by die Aussie-kleedkamer in en het gesê ek soek daai Border. Hy het in ’n hoekie van die kleedkamer probeer wegkruip, maar Shane Warne en Merv Hughes het mekaar omtrent uit die pad gehardloop om te probeer vlug.

“Nadat ek vir ’n rukkie gemaak het of ek baie ernstig was, het ek begin lag en vir hulle gesê ek maak net ’n grap,” sê McMillan.

“Warne het ook by geleentheid in Australië baie vir my te sê gehad en aangesien hulle kort daarna hier sou kom toer het, het ek vir hom gesê hy moet besef daar raak daagliks heelwat mense weg in Suid-Afrika wat net nooit weer gevind word nie. Nog een (bedoelende Warne) sal nie enige verskil maak nie,” het ek vir hom gesê.

“Ek glo daar is niks mee verkeerd om teenstanders te probeer intimideer met sêgoed nie, maar die streep moet getrek word wanneer daardie aanvalle te persoonlik van aard raak,” sê dié boorling van Carletonville.

Meer oor:  David Warner  |  Quinton De Kock  |  Bekgeveg  |  Toetskrieket  |  Proteas  |  Onderonsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.