Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
BLM: Lang lys Proteas steun Ngidi

Suid-Afrikaanse krieketlegendes soos Makhaya Ntini, Vernon Philander en Herschelle Gibbs sê in ’n gesamentlike verklaring hulle kan stories vertel oor hoe hulle gedurende hul loopbane onder rassisme deurgeloop het, “ongelukkig gereeld deur die toedoen van ons spanmaats”.

’n Groep van 31 voormalige Proteas en vyf senior afrigters het hul steun Dinsdag in ’n verklaring aan Lungi Ngidi en die Black Lives Matter- (BLM) veldtog uitgespreek.

Makhaya Ntini (regs) en Ashwell Prince is twee van 31 voormalige Proteas wat hul steun aan Lungi Ngidi en die Black Lives Matter-beweging toegesê het. Foto: Getty Images

Oudspelers soos Ashwell Prince, Paul Adams, JP Duminy, Charl Langeveldt, Wayne Parnell en afrigters soos Geoffrey Toyana en Faiek Davids, het ook die verklaring onderteken waarin die groep ’n beroep op Krieket Suid-Afrika (KSA) doen om onomwonde standpunt teen rassisme in te neem. KSA het verlede week reeds sy steun aan die BLM-beweging toegesê. Jacques Faul, KSA se waarnemende uitvoerende hoof, het gesê: “Black Lives Matter. Dis so eenvoudig soos dit.” Faul het gesê KSA is ook gekant teen ander geweld, soos plaasmoorde.

BLM was verlede week in die kollig in krieketkringe nadat Ngidi gesê het dié beweging sal in die Protea-span bespreek word. Dit was ook ’n groot gesprekspunt tydens die eerste toets tussen Engeland en die Wes-Indiese Eilande in Southampton, waar die Windie-boullegende en kommentator Michael Holding ’n sterk boodskap teen rassisme gelewer het.

Waarom word transformasie altyd by die kele van nasionale spanne afgedruk wanneer hulle verloor, maar nooit as hulle wen nie?

In Suid-Afrika het verskeie swart oudspelers begin om stories te vertel van rassisme wat hulle gedurende hul loopbane ervaar het. Ander oudspelers het Ngidi weer gekritiseer, omdat dit gelyk het of hy “sy mening op KSA en sy spanmaats afdwing”.

“Ons neem kennis dat die kritiek wat op Ngidi gemik is, gekom het van oudspelers soos onder andere Pat Symcox, Boeta Dippenaar, Rudi Steyn en Brian McMillan, en ons lewer ’n pleidooi dat hul sienings uitgedaag word. Ons is nie verbaas oor hul kommentaar nie,” sê die groep oudspelers in hul verklaring.

Vernon Philander in gesprek met Lungi Ngidi. Philander het sy steun aan Ngidi toegesê. Foto: Gallo Images

“Swart krieketspelers het oor baie jare heen kennis gemaak met subtiele en openlike rassistiese optrede, insluitend komende van sekere kollegas,” lui die verklaring.

Die groep sê hulle het altyd gedink dit is “vestigingsprobleme”, maar dat hulle nou, “ná bykans drie dekades van krieket-eenheid”, voel dit kan nie meer toegelaat word nie.

“Ons nooi ons wit medekrieketspelers uit om hulle by die beweging te skaar om menslike waardigheid te beskerm.”

Die oudspelers sê hulle het Suid-Afrika op meriete verteenwoordig.

“Te veel wit Suid-Afrikaners kan nie aanvaar dat swart krieketspelers male sonder tal bewys het hulle is goed genoeg om op die hoogste vlak te speel nie.

Ons is vasbeslote dat toekomstige generasies nie die pyn moet verduur wat ons moes verduur nie.

“Ons wil Suid-Afrikaners daarop wys dat ons so onlangs soos 2017 moes aanhoor rugby is deur transformasie doodgemaak. Maar raai wat? Suid-Afrika het die Wêreldbeker-rugbytoernooi verlede jaar gewen.

“Ons kan nie onthou dat enigiemand gesê het die oorwinning was danksy transformasie nie. Waarom word transformasie altyd by die kele van nasionale spanne afgedruk wanneer hulle verloor, maar nooit as hulle wen nie? Kan daar asseblief gelyke behandeling wees?”

Die oudspelers sê dit is belangrik dat hulle hul stories vertel oor hoe hulle onder rassisme deurgeloop het in hul loopbane.

“KSA moet swart krieketspelers ondersteun wat na vore kom en hul stories vertel. Hier sluit ons ook ons vrouekollegas in.”

Prince het vandeesweek byvoorbeeld keelskoongemaak in ’n Instagram-onderhoud van twee uur lank met die oudspeler en kommentator Pommie Mbangwa. Hy het onder meer gesê hy word gesien as die “woedende man” van Suid-Afrikaanse krieket, maar mense moet verstaan dat daardie woede uit die pyn van ongeregtigheid gebore is.

View this post on Instagram

Ashy P

A post shared by Mpumelelo Mbangwa (@mmbangwa) on

In die verklaring vra die oudspelers dat transformasie vooropgestel word in krieket én die samelewing.

“Ons is vasbeslote dat toekomstige generasies nie die pyn moet verduur wat ons moes verduur nie en dat daar teen geen Suid-Afrikaanse krieketspeler in die toekoms gediskrimineer sal word nie.”

• Die verslag is onderteken deur die volgende oudspelers en afrigters: Makhaya Ntini, Vernon Philander, Ashwell Prince, Paul Adams, JP Duminy, Charl Langeveldt, Mfuneko Ngam, Robin Peterson, Aaron Phangiso, Justin Ontong, Herschelle Gibbs, Roger Telemachus, Wayne Parnell, Monde Zondeki, Omar Henry, Alfonso Thomas, Victor Mpitsang, Henry Davids, Loots Bosman, Henry Williams, Alviro Petersen, Thandi Tshabalala, Rory Kleinveldt, Thami Tsolekile, Dane Piedt, Garnett Kruger, Shafiek Abrahams, Lonwabo Tsotsobe, Eddie Leie, Imraan Khan, Ethy Mbhalati, Geoffrey Toyana, Wandile Gwavu, Rivash Gobind, Mandla Mashimbyi, Faiek Davids.


Meer oor:  Krieket  |  Black Lives Matter  |  Rassisme  |  Proteas  |  Lungi Ngidi  |  Blm
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.