Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Bloemfontein kry nie T20-krieketspan

Bloemfontein gaan nie een van die ses spanne in vanjaar se nuwe T20-glansreeks huisves nie.

Krieket Suid-Afrika (KSA) sal na verwagting oor die naweek aankondig dat die Paarl wel een van die spanne sal huisves.

Meer besonderhede van die nuwe T20-reeks, wat in November en Desember in die plek van die T20 Global League aangebied word, sal na verwagting Saterdag aangekondig word.

Nóg KSA, nóg die Vrystaatse Krieketunie kan in die stadium kommentaar lewer.

Die Protea-vrouespan was vroeër vanjaar op die Mangaung Oval in aksie teen Bangladesj. Foto: Gallo Images

Die verduideliking oor hoe Bolandpark, wat nie naastenby die geriewe of kapasiteit van die Mangaung Oval het nie, gekies is, beloof interessant te wees.

Die Mangaung Oval het volgens howstat.com oor die jare op internasionale vlak vyf toetse, 28 eendagwedstryde en twee T20-wedstryde aangebied, terwyl die veld in die Paarl net 11 internasionale kitswedstryde aangebied het.

KSA het beloof hy sal die kriteria, wat deur ’n onafhanklike paneel gebruik is, bekend maak sodra daar ’n aankondiging is oor watter stede die spanne sal huisves.

Hulle hoop om dit reeds Saterdag te doen.

In die wandelgange word genoem dat dit ’n ekonomiese besluit was om ’n tweede franchise in die Kaap te hê.

Agt spanne sou aan die aanvanklike T20 Global League deelgeneem het en die Rosestad sou die gasheer vir die Bloem City Blazers gewees het.

Die grootste rede waarom die aanvanklike model, waarin privaat eienaars spanne bekom het, nie op die been kon kom nie, was omdat die uitsaairegte en ’n borgskap nie beklink kon word nie.

KSA het toe op ’n nuwe model van ses spanne besluit waarin SuperSport sy geldelike vennoot was. Die uitsaaier het hom intussen aan dié vennootskap onttrek.

Die krieketunies het onlangs die geleentheid gehad om met ’n voorlegging te wys waarom hulle ’n gasheer moet wees.

Gerugte wil dit hê dat die Rosestad nou gepaai gaan word deur vername wedstryde vorentoe aan die Mangaung Oval toe te ken.

Bloemfontein kan na verneem word die spilpunt wees wanneer Suid-Afrika in 2020 die o.19-Wêreldbeker-toernooi aanbied.

Australië gaan glo ook vir die eerste keer sedert 2002 weer op die Mangaung Oval te sien wees.

Die eendagwedstryd tussen Suid-Afrika en Zimbabwe op Woensdag 3 Oktober, is die enigste internasionale wedstryd die komende seisoen in Bloemfontein.

Zimbabwe begin die eendagreeks die voorafgaande Sondag in Kimberley waarna die derde en laaste wedstryd op Saterdag 6 Oktober in die Paarl sal wees.

* KSA het intussen vandeesweek ook die bepalings van die plaaslike T20-reeks bevestig waaraan die Knights, Titans, Cape Cobras, Warriors, Lions en Dolphins gewoonlik deelneem. Dit sal van 5 April tot 6 Mei duur.

Meer oor:  Bloem City Blazers  |  Ksa  |  T20  |  Paarl  |  T20 Global ­League
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.