Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Boeta: Groot vraagteken oor Enoch

Net soos wat Virat Kohli die Proteas ’n week gelede met ’n dubbele honderdtal afgeslag het, het Adam Gilchrist 17 jaar gelede dieselfde met Suid-Afrika gedoen.

Adam Gilchrist het Suid-Afrika in 2002 met ’n dubbele honderdtal in Johannesburg tot ’n nederlaag met ’n beurt en 360 lopies verdoem. Foto: Getty Images

Kohli se 254* het Indië tot ’n enorme oorwinning met ’n beurt en 137 lopies oor Suid-Afrika in die tweede toets in Pune gevoer. Wat lopies betref, was dít die Proteas se sewende grootste toetsnederlaag nóg.

Nommer een op daardie lysie? In Februarie 2002 was die Wanderers ’n slagpale. Gilchrist was die groot slagter wat die Proteas met ’n vlymskerp 204* (213 balle) opgekerf het. Sy Aussie-span het Suid-Afrika met ’n beurt en 360 lopies keelaf gesny.

Die voormalige Suid-Afrikaanse kolwer Boeta Dippenaar het in daardie toets gespeel. Hy weet dus hoe groot impak só ’n vernedering op ’n span het.

“Ná so ’n nederlaag is sterk leierskap van kardinale belang,” sê Dippenaar.

“Dit is in die mens se aard om jou skouers te laat hang en nie lekker te voel nie. Wat belangrik is, is om te aanvaar wat gebeur het, want jy kan dit nie verander nie. Jy moet kyk waar jy fouteer het en daardie probleme hanteer.”

Boeta Dippenaar vier in 2004 ’n honderdtal teen Engeland. Foto: Getty Images

Dippenaar sê die probleem is dat daar ook net soveel is wat die span self kan doen.

“Hierdie situasie is ’n sameloop van verskeie omstandighede – slegs enkeles waarop die span ’n invloed het.

“Besluite van Krieket Suid-Afrika (KSA), die vraag of die voedingsbronne genoegsame talent oplewer, KSA se besluite oor die bestuurspan – dit is alles faktore buite die beheer van die span.”

Terwyl Dippenaar vertroue in die leierskap van die kaptein, Faf du Plessis, het, glo hy nie die waarnemende spandirekteur, Enoch Nkwe, boesem vertroue in nie.

“Daar is steeds ’n groot vraag oor Enoch. Daar was al vrae toe hy aangestel is. Om die Lions suksesvol af te rig, is een ding. Om op hierdie vlak af te rig, is iets heeltemal anders.”

Die Proteas het “massiewe uitdagings”, maar daar is een ding wat ondersteuners graag wil sien.

“Ek dink SA ondersteuners besef hierdie is nie ’n baie sterk Protea-span nie, maar hulle wil darem veggees sien.

“Dit is glad nie realisties om te dink die Proteas gaan die derde toets teen Indië (wat Saterdag in Ranchi begin) wen nie. ’n Onbesliste uitslag is dalk maar die beste ding om op te hoop.

“Maar ondersteuners sal daar vir die span wees deur die slegte tye, mits hulle veggees sien. Hulle wil sien hoe kolwers veg om hul paaltjies te behou, hoe daar in die veld rondgeduik word om lopies te keer.”

Faf du Plessis, die Protea-kaptein, stap paviljoen toe nadat hy sy paaltjie in die tweede toets teen Indië verloor het. Foto: Gallo Images

Dan sal ondersteuners agter die Proteas bly staan, sê Dippenaar. Al lê daar swaar tye voor.

“Daar is nie enige ander spelers wat ’n verskil sou kon maak, beskikbaar nie,” bieg hy.

“Ons moet vra waarom daar nie ’n kultuur van patriotisme by KSA gekweek word nie. Dit is waar dat die rand nooit met die pond sal kan meeding nie, maar daar is geen kultuur van ouens wat hier wil bly om vir hul land te speel en ’n bydrae te lewer nie.

“Jy kan dit sien in die aantal ouens wat onlangs Kolpak-kontrakte gesluit het.”

Sedert 2016 het Proteas soos Kyle Abbott, Rilee Rossouw, Simon Harmer en Duanne Olivier Kolpak-kontrakte onderteken.

“Dan praat ons nie eens van die ouens wat hul loopbane in Nieu-Seeland gaan voortsit nie.

“Daar moet gevra word hoekom? Ons wil dit nie vra nie, want dit is ’n moeilike vraag om te vra.”

Meer oor:  Boeta Dippenaar  |  Enoch Nkwe  |  Indië  |  Toetskrieket  |  Kriekettoets  |  Proteas  |  Kriekettoetsreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.