Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Boland-spelers sit sonder salaris

Spelers van die Boland Rugbyunie is vir die afgelope twee maande nie betaal nie en vrees dat hulle ook in Mei droë­bek sal moet sit.

’n Klag oor die versuim om salarisse te betaal, is die afgelope week by die Spelersorganisasie MyPlayers ingedien.

Luidens die klag het die Boland-spelers nie hul salarisse vir Maart en April ontvang nie.

In Februarie is hul reiskoste glo nie betaal nie.

Die Boland-unie moet nou boonop opdok nadat hy die afgelope week ’n arbeidsgeskil met sy voormalige uitvoerende hoof, Cassie Carstens, geskik het.

Cassie Carstens

Carstens is in Desember deur Ivan Pekeur, president van die BRU, in die pad gesteek. Rapport het betroubaar verneem die skikkingsbedrag beloop R320 000. Dit is gelykstaande aan vier maande se salaris.

Die skikking sal in paaiemente van R80 000 per maand betaal word. Die eerste paaiement is eergister oorbetaal.

Carstens het die BRU by die Kommissie vir Bemiddeling, Versoening en Arbitrasie (KBVA) verkla oor sy afdanking.

Volgens Rapport se inligting is daar in Carstens se guns beslis en is die skikkingsbedrag toe tussen die partye beding.

Ivan Pekeur

Cliffie Booysen, gewese ontwikkelingsbestuurder van die ­Boland, het verlede jaar ’n skikkingsbedrag van die unie ontvang. Booysen het aangevoer hy is onbillik op vroeë aftrede gesit.

Vier voormalige stadion­werkers van die Boland het ook ’n klag van konstruktiewe ontslag by die KBVA ingedien. Dié saak is nog hangende.

Carstens het aan Rapport bevestig daar was ’n skikking, maar nie hy of die werknemersvakbond Sports Employees Unite wou oor die bedrag praat nie.

“Ja, jou inligting is korrek oor die skikking. Ek gaan geen kommentaar lewer nie. Respekteer dit asseblief. Die lewe moet voortgaan en ek bepaal my nou by my gesin en persoonlike belange,” het Carstens se boodskap aan Rapport gelui.

Boland het tans 12 spelers op sy boeke. Hul kontrakte strek van Februarie tot Oktober.

Die spelers het hulle nou tot MyPlayers gewend om hul salarisse te kry nadat hul pleidooie by Boland op dowe ore geval het.

Mandisi Tshonti, bestuurder van spelersake by MyPlayers, het aan Rapport bevestig ’n klag is ontvang. “Ons het die BRU gekontak en gevra vir inligting daaroor. Tot nou toe het ons nog geen reaksie gekry nie.”

’n Ingeligte het aan Rapport gesê van die spelers is van hul salarisse afhanklik om hul gesinne en families te onderhou en dat hulle in die inperkingstyd ’n krisispunt bereik het.

Die BRU het nog nie vanjaar geouditeerde finansiële state voorgelê nie. Die state was blykbaar op die algemene jaarvergadering “nog nie reg nie”.

Beloftes is gemaak dat dit binnekort op ’n spesiale vergadering voorgelê sou word. Dit het nog nie gebeur nie.

Pekeur wou nie kommentaar lewer toe Rapport hom gister telefonies bereik het nie.

Meer oor:  Salarisse  |  Boland Rugbyunie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.