Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Borg trek kop uit oor KSA-bestuurskwale
Carel Bosman, Momentum se hoof van borgskappe. Momentum gaan nie sy jare lange borgskap van eendagkrieket in Suid-Afrika hernieu nie. Foto: Gallo Images

Momentum gaan nie sy borgskap van eendagkrieket in Suid-Afrika hernieu wanneer sy huidige kontrak met Krieket Suid-Afrika (KSA) in April 2021 verstryk nie, omdat hy ontevrede is met die talle bestuurskwessies by die beheerliggaam.

Die finansiëledienstemaatskappy sal steeds tot April 2023 aanbly as die nasionale vrouespan se titelborg, ’n borgskap wat in 2013 begin het. Met dié borg aan boord, kon KSA vir 14 vrouespelers nasionale kontrakte aanbied.

Carel Bosman, Momentum se hoof van borgskappe, sê hulle het agt positiewe jare in samewerking met KSA gehad, maar dat hulle nie tevrede is met die huidige stand van sake nie.

Ons wil almal ’n beheerliggaam sien wat professioneel en eties bedryf word en een wat alle belanghebbendes in ons spel in ag neem.
Carel Bosman

“Ons sal ons gesprekvoering met KSA voortsit om hom verantwoordbaar te hou om die regte ding te doen. Ons wil almal ’n beheerliggaam sien wat professioneel en eties bedryf word en een wat alle belanghebbendes in ons spel in ag neem,” sê Bosman.

Momentum was sedert Junie 2012 die titelborg van alle eendagkrieket in Suid-Afrika en dit is ’n reuseverlies vir KSA, veral aangesien Standard Bank ook verlede jaar in Desember ná talle bestuurskwessies as borg onttrek het.

Daar kan Donderdag dalk meer duidelikheid kom oor of daar binnekort ’n ommeswaai in KSA se lot gaan wees.

Dié beheerliggaam se raad en lederaad het Maandagaand met die sambreelliggaam Saskok vergader en ’n belangrike opvolgvergadering vind Donderdag plaas.

Na wat verneem word, is Saskok steeds van plan om ’n onafhanklike taakspan aan te stel om KSA vir ’n maand lank te ondersoek en dan aanbevelings aan die lederaad te doen.

The Citizen berig ’n kwelpunt tussen die KSA-lederaad en Saskok was glo oor wie vir die maand lange ondersoek van die taakspan gaan betaal. Volgens dié nuuswebwerf kan die koste van die ondersoek soveel as R40 miljoen beloop.

Saskok het vroeër gesê KSA moet vir die taakspan betaal.

Saskok se waarnemende president, Aleck Skhosana.

Netwerk24 verneem Saskok het glo nog nie toegang tot die plofbare forensiese verslag oor bestuursake by KSA gesien nie. Dié verslag, wat tot die ontslag van Thabang Moroe as uitvoerende hoof gelei het, bevat glo 20 oorhoofse, wye en verreikende bevindinge.

Aleck Skhosana, die waarnemende Saskok-president, het verlede week aan sy KSA-eweknie, Beresford Williams, geskryf en gesê dat hy sy belofte om die verslag aan Saskok bekend te maak, verbreek het.

“Jy het persoonlik ’n uitdruklike belofte aan ons gemaak dat die verslag op ’n onbeperkte grondslag aan ons beskikbaar gestel sal word, maar sedertdien het jy die belofte verbreek,” lui Skhosana se brief aan Williams.

In reaksie hierop het KSA Maandagaand aan Netwerk24 gesê: “Die werklikheid is dat die besluite wat die raad rondom die forensiese verslag neem, geskoei is op die regsmening van KSA se prokureurs, Bowmans”.

“Geen lid van die raad kan dus buite daardie regsmening optree nie.”

KSA het Dinsdagoggend in ’n verklaring gesê sy vergadering met Saskok was positief.

“Die vergadering was ’n tree vorentoe na ’n samewerkende aanslag in die belang van goeie bestuur en uitvoerende bedrywighede,” lui KSA se verklaring.

Verdere besonderhede sal Donderdag op ’n gesamentlike nuuskonferensie tussen KSA en Saskok weergegee word.

Beresford Williams, die waarnemende president van Krieket Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

KSA, onder waarnemenede presidentskap van Beresford Williams, het ook ’n beplande nuuskonferensie vir Dinsdag met die lederaadslede Anne Vilas, John Mogodi en Xolani Vonya uitgestel.

Ben Dladla, ’n lederaadslid en KwaZulu-Natal se president, het aan IOL bevestig die lederaad het nie enige name van mense wat in die forensiese verslag geïmpliseer word, gesien toe hulle die naweek ’n opsomming van dié verslag op ’n werksessie in Johannesburg bestudeer het nie.

Dladla sê dít was kommerwekkend, maar dat hulle vir “diegene wat dit hanteer” twee weke gegee het om al die nodige ondersoeke af te handel, sodat “wat ook al nog nie bekend gemaak is nie, gedeel kan word”.

KSA het die naweek in ’n verklaring gesê die lederaad het die raad met die verantwoordelikheid toevertrou om die stappe tot uitvoering te bring waarop daar besluit is nadat die lederaad die opsomming van die verslag besigtig het.

Netwerk24 verneem die uniepresidente gaan elk ook ’n weergawe kry van die opsomming van die verslag wat hulle die naweek gesien het, wat hulle dan met hul personeel kan bespreek. Dié opsomming gaan glo effens verskil van, en korter wees as, die weergawe wat die lederaad die naweek gesien het.

• Intussen het die DA geëis dat Saskok ’n onafhanklike ondersoek na die onafhanklike KSA-raadslid dr. Eugenia Kula-Ameyaw begin.

Dit volg nadat Netwerk24 Maandag berig het Kula-Ameyaw, die voorsitter van KSA se transformasiekomitee, het onlangs in ’n skrywe gesê dié komitee moet voortaan ’n sê in spankeuses hê.

Meer oor:  Beresford Williams  |  Carl Bosman  |  Aleck Skhosana  |  Suid-Afrika  |  Krieket  |  Onttrek  |  Ksa  |  Saskom  |  Momentum  |  Eendagkrieket  |  Bestuursprobleme  |  Borg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.