Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Boucher: ‘AB sal altyd deel van gesprek wees’
AB de Villiers en Mark Boucher diep in gesprek by ’n Tshwane Spartans-oefensessie tydens die Mzansi-superliga in 2018. Foto: Gallo Images

Mark Boucher het nog nie nadat die Covid-19-pandemie die land getref het, weer met AB de Villiers gepraat oor ’n moontlike terugkeer tot internasionale krieket nie.

Boucher, die Protea-afrigter, sê egter nie dít beteken De Villiers is nie meer deel van hul planne vir volgende jaar se T20-Wêreldbeker-toernooi (T20-WB) in Oktober en November in Indië nie.

Daar was ’n groot kans dat De Villiers vanjaar ’n terugkeer vir Suid-Afrika sou maak in die T20-WB, wat in Australië sou plaasvind, maar dié toernooi is nou met ’n jaar uitgestel. Die Aussies sal nie volgende jaar die gasheerspan wees nie, maar wel in 2022, by nóg ’n T20-WB.

“AB was voor Covid-19 deel van die gesprekke, maar om eerlik te wees, sal AB altyd deel van die gesprekke wees as hy goeie krieket speel,” sê Boucher.

AB was voor Covid-19 deel van die gesprekke, maar om eerlik te wees, sal AB altyd deel van die gesprekke wees as hy goeie krieket speel.
Mark Boucher

“Ek het wel nog nie weer met hom gepraat nie. Hy het baie goeie krieket in die Indiese Premierliga (IPL) gespeel en nader aan die T20-WB sal ek waarskynlik met hom praat en sien waar hy staan.

“Dit is ’n ope gesprek, waarvan almal sal weet. Ek het nog nooit die feit verdoesel dat ek met hom gepraat het nie.

“Ek glo hy is steeds een van die beste spelers in die wêreld en hy het dit in die IPL gewys. As hy waarde sal toevoeg tot die Protea-groep, sal ons daardie gesprekke hê.”

De Villiers het in Oktober in ’n onderhoud met Netwerk24 gesê sy “deur is altyd oop” vir die Proteas, en “Bouchie weet dit”. Hy sal volgende jaar se IPL, wat in April en Mei beslis word, as ’n toetslopie gebruik om te sien of hy nog “die bal goed tref en een van die bestes in die wêreld is”. As hy aan sy eie standaarde voldoen en homself beskikbaar stel, kan hy saam met die Proteas na Indië opruk.

Quinton de Kock, Suid-Afrika se T20-kaptein, moker Donderdag ’n bal in Nuweland se oefennette. Die Proteas en Engeland is volgende Vrydag in die eerste van drie T20-stryde slaags in Kaapstad. Foto: Gallo Images

Voor dan wil Boucher egter eers vir die jong spelers in die Protea-groep ook kanse gee om hul kleim af te steek. Dit begin volgende week met die T20-reeks teen Engeland op Nuweland en in Paarl.

Die Protea-breier het nog nie ’n ideale groep van 15 spelers vir volgende jaar se T20-WB in gedagte nie.

“As jy my voor Covid gevra het, sou gesê het ek het ’n groep in gedagte, maar ons kon vir so lank nie speel nie, dat ek nie nou weet nie. Ek moet spelpeil en spelers se ouderdomme in gedagte hou, so kom ons begin eers weer speel en dan sal ons sekere posisies kan uitpluis,” sê Boucher.

“Ek wil graag vir almal ’n regverdige kans gee om na vore te tree. Dit is ’n gesonde ruimte, ook vir die spelers, want hulle weet daar is plekke op die spel en hulle gaan kanse kry.

“Gewoonlik sal 80% van jou groep hulself kies, terwyl 20% van die groep taai besluite sal verg om saam te stel. Kom ons gee die jonges ’n kans om hul kleim af te steek om deel van daardie 20% te wees.”

Meer oor:  Quinton De Kock  |  Mark Boucher  |  Ab De Villiers  |  Suid-Afrika  |  Engeland  |  Covid-19  |  Voorbereidig  |  Witbalreeks  |  Krieketr  |  Proteas  |  Toerspanb
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.