Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Boucher: ‘Ek het ook Covid-19 gehad’
Mark Boucher, die Protea-afrigter, het Covid-19 gehad. Foto: Gallo Images

Die Protea-krieketspeler wat positief getoets is vir Covid-19, hoef nie ver te soek na iemand wat verstaan hoe dit voel om die koronavirus onder lede te hê nie.

Mark Boucher, die nasionale afrigter, het Donderdag onthul dat Covid-19 rondom die tyd van die driespanwedstryd in Centurion op 17 Julie ook by hom gediagnoseer is.

Die Suid-Afrikaanse kamp het Woensdagaand bevestig dat een speler positief getoets is en dat twee ander spelers wat in nabye kontak met hom was, ook in self-kwarantyn is.

Die nasionale span is tans in kwarantyn in ’n hotel in die Kaap, waar hulle Woensdag saamgetrek het vir hul T20- en eendagreekse teen Engeland, wat op 27 November begin.

“Die spelers se name kan weens die vertroulikheid tussen ’n dokter en sy pasiënte nie genoem word nie. Die spelers is wel in isolasie en die speler wat positief getoets is, is nie in die hotel nie,” sê Boucher.

Dit het ons beïnvloed, maar ons het ook voorberei vir so ’n situasie. Nou gaan dit net daaroor om na die spelers se welstand om te sien.
Mark Boucher

“Dit het ons beïnvloed, maar ons het ook voorberei vir so ’n situasie. Nou gaan dit net daaroor om na die spelers se welstand om te sien.

“Dit is ’n taai ding om deur te werk. Ek weet, ek moes ook daardeur gaan. Die omgeefaktor moet daar wees vir die ouens wat vir so lank as tien dae alleen in hul kamers sit.”

Boucher sê hy was “een van die gelukkiges”, hy het aanvanklik nie besef iets is fout nie.

Mark Boucher voer die boulmasjien tydens 'n Protea-oefensessie. Foto: Gallo Images

“Ek het geoefen vir wedlope wat ons in die afseisoen doen. Ek het steeds gehardloop. Toe ek wel uitgevind het dat ek dit het, het ek net ’n dag of twee effens sleg gevoel.

“Ek het balle gegooi vir die ouens in die nette en my lyf was seer. Ek het gedink dis net omdat ek lanklaas balle gegooi het, maar toe besef ek dit was weens Covid.

“Ek is net gelukkig dat ek dit nie ernstig gehad het nie. Ek het ’n paar dae sleg gevoel, toe is dit verby. Hopelik gebeur dit só met baie mense.

“Dit is baie hartseer as mense dit kry en hul lewens verloor. Ons moet die situasie respekteer. Hierdie Covid-situasie is groter as sport.”

Covid-19 is nie die enigste kwessie van die speelveld af wat die krieket-opskrifte oorheers nie. Boucher is deeglik bewus van die chaos wat oor die laaste paar maande in Krieket Suid-Afrika se raadsale geheers het.

Die KSA-kwessies is daar, ons kan nie wegkruip daarvan nie. Ons weet ons het ’n geleentheid om met goeie spel weer goeie nuus vir die spel in die land te bring.
Mark Boucher

“Die KSA-kwessies is daar, ons kan nie wegkruip daarvan nie. Ons weet ons het ’n geleentheid om met goeie spel weer goeie nuus vir die spel in die land te bring.”

Die Proteas sal nie in dié reeks die knie buig in solidariteit met die Black Lives Matter-beweging nie. Hulle voel hulle het gedoen wat nodig is en sal steeds voortgaan om hul nuwe filosofie van inklusiwiteit uit te leef.

Die span kan wel moontlik swart armbande dra in solidariteit met die geveg teen geslagsgeweld en om medelye met die slagoffers van Covid-19 te betuig.

Dit kom nadat pres. Cyril Ramaphosa ’n tydperk van rou (van 25 tot 29 November) vir dié twee kwessies afgekondig het.

• Die Proteas het bevestig dat die Warriors-kolwer Marco Marais en Warriors-bouler Stefan Tait vir hul interne opwarmwedstryde Saterdag na die Protea-kamp ontbied is.

Hulle is opgeroep om die plekke in te neem van die drie spelers wat in self-kwarantyn is.

Meer oor:  Mark Boucher  |  Suid-Afrika  |  Krieket  |  T20  |  Reeks  |  Proteas  |  Covid-19  |  Afrigter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.