Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
'Ek het seer, ongelooflik seer’, maar . . .
Mark Boucher Foto: Gallo Images

“As ek my moes bekommer oor die openbare mening, sou ek myself waarskynlik lankal gehang het.”

Mark Boucher se kop word in sekere kringe in die media- en sosiale media geëis, maar die Proteas se breier het dit Vrydagaand in geen onsekere terme nie duidelik gestel hy hou hom doof vir aanlyn geraas.

“Ons verstaan die publiek wil wen. Daar gaan altyd druk wees as jy dié vlak van internasionale sport bereik. As jy dit nie kan hanteer nie, moet jy loop,” sê Boucher.

Die Proteas het nou agt van hul 11 reekse onder Boucher verloor ná die T20-reeksnederlaag van 3-1 teen Pakistan. Die span kon sedert sy aanstelling in Desember 2019 nog net ’n eendag­reeks teen Australië en ’n toetsreeks teen Sri Lanka wen. Een reeks het gelykop geëindig.

Hoewel Boucher hom nie aan die openbare mening steur nie, wil hy nie van aanspreeklikheid wegskram nie.

“Ek aanvaar baie verantwoordelikheid. Ek het seer, ek het ongelooflik seer op die oomblik, net soos die res van die bestuurspan,” sê hy.

“Ek is nog nie paniekerig nie, want ek weet ons het ’n klomp uitdagings gehad die laaste ruk. Ek sal nou huis toe gaan en vir ’n week of so rustig wees saam met my gesin en daarna sal ek weer begin werk saam met die ouens om hulle te verbeter.

“Die blaaskans wat ons nou het, is nie ’n afseisoen nie. Dit is ’n geleentheid om hard te werk en te probeer om ons vaardighede te verbeter, sodat ons kan meeding met die topspan­ne in wêreld­krieket.

“Ek wil graag weer gewoond raak daaraan om te wen. Ek glo as ons ons spelers terugkry, sal dit gebeur.”

Daar is versagtende omstandighede vir die Proteas se mees onlangse nederlaag: Vyf van die span se beste spelers – Quinton de Kock, David Miller, Kagiso Rabada, Anrich Nortjé en Lungi Ngidi – het hulle net voor die T20-reeks by hul spanne in die Indiese Premierliga (IPL) aangesluit. Faf du Plessis is ook by die IPL, terwyl Dwaine Pretorius en Temba Bavuma beseer is. Rassie van der Dussen het die eerste twee kragmetings met ’n besering misgeloop.

Dan verdien Pakistan ook krediet – hulle het die land met ’n puik span besoek.

Daar is wel ook ’n paar besluite wat bevraagteken kan word. Soos onder meer die besluit om nie vir die talentvolle kolwer Kyle Verreynne speelkans te gee nie.

Kyle Verreynne Foto: Gallo Images

Boucher het vroeër verduidelik dat Verreynne gekies is as die plaasver­vanger-paaltjiewagter vir Heinrich Klaasen en dat daar ’n paar aspekte aan sy spel is waaraan hulle nog wil skaaf. Een daarvan is glo sy vermoë om grens­houe te slaan.

Dit was ook vreemd dat die span Vrydag­aand in die vierde T20- wedstryd met slegs vier spesia­liskolwers gespeel het. Van der Dussen, wat ’n vyftigtal geslaan het, het ná die tyd gesê dít het die span nie gekortwiek nie.

Boucher sê al het die span ’n paar reekse verloor, glo hy steeds hulle is op die regte pad. “Daar is redes vir die reeks­nederlae, maar ek gaan nie verskonings maak nie. Ons wil wen met enige span wat ons in die veld stoot.

“Daar is ’n paar positiewe aspekte, soos spelers wat geleenthede gekry en met vlieënde vaandels geslaag het.

“Ek het ’n goeie idee van die vergrote groep waaruit ons kan kies. Elke speler in daardie groep voldoen aan internasionale standaarde.

“Ek is ’n ou wat wil wen en ons het nie reekse gewen nie. Dit is frustrerend. Nie net vir my nie, maar ook vir die res van die afrigtingspan, die spelers en ook die publiek.

“Ons hou by dit wat ons glo is die regte manier van dinge doen. Dit was die spelers wat opgekom het met die wyse waarop ons wil speel en dit is goed vir ons – ons as afrigters se doel is net om hul plan verder te neem. Ons hou by dít waarin ons glo en ons sien daarna uit om ons volle groep terug te kry.”

Die span het geen verdere verpligtinge vir die volgende maand en ’n half nie. Hul volgende uitstappie is ’n toer na die Windies vir twee toetse en vyf T20-wedstryde, wat begin Junie afskop. Daarna vertrek hulle na Ierland vir drie eendagwedstryde en drie T20’s.Die span bou op na die T20-Wêreldbekertoernooi, wat vir Oktober in Indië beplan word.

“Ons moet ons volle groep byeen kry. Ons het die toer na die Wes-Indiese Eilande geoormerk as die een waar ons ons volle groep saam wil hê.

”As AB de Villiers wil terugkeer met die oog op die T20-WB, sal dit in waarskynlik in dié reeks wees.“

Almal ken die formule waarmee ons wil volhard. Dit gaan nou daaroor om daarop te bou en al die spelers moet saam speel.” 

Meer oor:  Pakistan  |  Krieket  |  T20-Reeks  |  Mark Boucher  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.