Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Boucher: Engeland ’n tree voor die res

Die kansellasie van hul opwarmwedstryde weens koronavirus-gevalle in hul geledere was nie ideaal nie en daarom was hulle effens verroes, maar dis nie ’n verskoning vir die T20-reeksnederlaag wat die Proteas se krieketspan gely het nie.

Janneman Malan kan dalk weer vir die Proteas speelkans kry in die komende eendagreeks teen Engeland. Foto: Gallo Images

So sê Mark Boucher, Suid-Afrika se afrigter, nadat die Engelse Dinsdagaand op Nuweland met 3-0 skoonskip teen hulle gemaak het.

Engeland se oorwinning van nege paaltjies was ook die vyfde op ’n streep teen die Proteas. Dis ook die eerste keer dat Suid-Afrika nie een wedstryd in ’n T20-reeks tuis kon wen nie.

Boucher sê Engeland is tans ’n tree voor die meeste ander spanne, maar dat dit ook nie oornag gebeur het nie.

“Engeland is tans ’n stap voor, nie net voor ons nie, maar voor heelwat ander spanne in wêreldkrieket.

“Ons het nog ’n paadjie om te stap. As jy kyk na die Engelse span, toe hulle in 2017 bymekaar gekom het, moes hulle hulself ook baie vrae afvra om die tipe balans te kry wat hulle pas,” sê Boucher.

Hul spelers het nou al baie verder ontwikkel as ons s’n. Ons taak is om die ouens in ons span te laat voel wat hierdie (die Engelse) ouens voel.

“Daardie ouens (op wie hulle toe besluit het) het ook die Wêreldbeker-toernooi gewen en loop oor van die selfvertroue.

“Hul spelers het nou al baie verder ontwikkel as ons s’n. Ons taak is om die ouens in ons span te laat voel wat hierdie (die Engelse) ouens voel.”

Hoewel Boucher nie verskonings wil maak nie, is hy effe afgehaal omdat van hul veelsydige spelers nie oorweeg kon word nie. Dwaine Pretorius is vooraf met ’n dyspierbesering huis toe gestuur, terwyl Andile Phehlukwayo saam met die kolwer David Miller in selfkwarantyn was.

“Ons het om verskeie redes nie veelsydige spelers gehad nie en toe ’n sesde bouler kortgekom.”

Die breier sê die ekstra bouler is nodig vir wanneer een van die ander boulers deurloop onder die kolwers. Hulle het toe niemand gehad om op terug te val nie.

Boucher noem voorts dat ’n linkerhandse kolwer in die middelorde dinge dalk vir die Engelse, en veral hul bybreekbouler Adil Rashid, kon bemoeilik.

Hy hoop hulle sal vir hul volgende T20-reeks al hul spelers beskikbaar hê.

Miller en Phehlukwayo kan intussen oorweeg word vir die eendagreeks tussen die spanne, wat Vrydag op Nuweland begin, maar die span is vir die hele reeks sonder sy boulangel Kagiso Rabada. Dié snelbouler het ’n heupbesering opgedoen en het ook nie in die laaste T20-wedstryd gespeel nie.

Boucher het bevestig spelers wat in hul vorige eendagreeks teen Australië in Februarie en Maart uitgeblink het, al is dit lank terug, nou weer betrek kan word.

Janneman Malan het ’n honderdtal in die reeks teen die Aussies aangeteken, maar het nie in die afgelope T20-reeks speelkans gekry nie.

Suid-Afrika sal ’n sug van verligting slaak dat spelers soos Dawid Malan, Ben Stokes en Jofra Archer nie in Engeland se eendaggroep is nie. Joe Root, Liam Livingstone, Chris Woakes, Lewis Gregory en Olly Stone kan nou ingespan word.

• Engeland is nou die voorste T20-span ter wêreld, terwyl Malan die topkolwer is met 915 punte – die meeste nóg in die geskiedenis – ná sy kolfbeurte van 19, 55 en 99*.

Meer oor:  Krieket  |  T20  |  Mark Boucher  |  Proteas  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.