Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Boucher glo nie Rabada was verkeerd

Mark Boucher het nie gedink daar was iets fout met die wyse waarop Kagiso Rabada die paaltjie van Joe Root gevier het nie, maar hy weet sy sterbouler sal ’n veiliger manier moet kry om beter uiting aan sy emosies te gee.

Kagiso Rabada gaan die vierde toets teen Engeland misloop. Foto: Gallo Images

Die Protea-afrigter het ook ’n pleidooi gelewer dat die Internasionale Krieketraad (IKR) nie al die aggressie uit krieket moet haal nie, nadat Rabada ’n strafpunt toegedien is en as ’n gevolg die vierde toets teen Engeland op die Wanderers gaan misloop.

“KG boul op sy beste wanneer hy aggressief is,” het Boucher Vrydag in Port Elizabeth ná spel op dag twee van die derde toets gesê.

Rabada se strafpunt-totaal vir die laaste 24 maande – die tydperk waarvoor strafpunte geldig is – staan nou op vier en dit is die rede waarom hy die vierde toets gaan misloop. Die sneller het in Februarie 2018 een strafpunt gekry vir die wyse waarop hy die paaltjie van Shikhar Dhawan gevier het; in Maart 2018 vir fisieke kontak met Steve Smith en nog een in dieselfde wedstryd vir die wyse waarop hy David Warner se paaltjie gevier het.

Suid-Afrika het in Maart 2018 geappelleer teen ’n veel erger straf vir die Smith-voorval. Krieket Suid-Afrika (KSA) het toe selfs vir advokaat Dali Mpofu betrek om met die appèlproses te help en hulle was suksesvol – die vlaktwee-oortreding (drie strafpunte) is tot ’n vlakeen-oortreding (een strafpunt) verminder.

“Dit gaan daaroor om ’n balans te kry. Hy kan nie ingeperk word nie, maar hy moet die reëls verstaan en aan die regte kant daarvan bly,” sê Boucher.

Die IKR sê in ’n verklaring Rabada “is daaraan skuldig bevind dat hy Artikel 2.5 van die gedragskode oortree het, wat handel oor die gebruik van taal, aksies of gebare wat neerhalend is of wat ’n aggressiewe reaksie kan uitlok by ’n kolwer wat sy paaltjie verloor het.”

Boucher sê die Proteas het hul kommer by die wedstrydskeidsregter, Andy Pycroft, uitgespreek oor hoe die reël vertolk word.

“Dis taai, want daar word gepraat van uitbundige feesviering en dat daar kontak gemaak is. Ek glo nie hy het kontak gemaak met Root nie.

“Ja, hy was in sy ruimte. Dit maak nie saak wat ons dink nie, die wedstrydskeidsregter het hom ’n strafpunt toegedien en hy gaan nie in die volgende wedstryd speel nie.”

Die Proteas kon nie appèl aanteken nie, omdat dit ’n Vlak 1-oortreding is.

“In my dae het ons nie sulke probleme gehad nie, want ons kon sê wat ons wou en daar was nie nagevolge nie,” sê Boucher.

“Jy wil nie al die aggressie uit die spel haal nie. Die gemoedere loop soms hoog. Maar aan die anderkant, as jy die reëls ken, moet jy daarby hou.

“Ek is ’n bietjie bekommerd. Ons het dit in die laaste toets gesien, ’n span mik vir ’n oorwinning en Engeland was lank in die veld... Die vloekwoorde (van Jos Buttler) was dalk nie ideaal nie, maar in ons dae het ons ook probeer om kolwers te ontsenu.

“Die reëls het verander en ek verstaan waarheen die IKR daarmee wil gaan, maar daar moet ’n balans gevind word.”

In my dae het ons nie sulke probleme gehad nie, want ons kon sê wat ons wou en daar was nie nagevolge nie.
Mark Boucher

Rabada se skorsing is ’n reusagtige terugslag vir Suid-Afrika, veral noudat dit lyk of die derde toets óf op ’n Engelse oorwinning, óf op ’n onbesliste uitslag gaan uitloop.

Lungi Ngidi boul weer, maar is nie wedstrydfiks nie. Die linksnaatbouler Beuran Hendricks kan dalk in die prentjie kom, of Dwaine Pretorius kan teruggebring word.

Nog ’n probleem met Rabada se afwesigheid, is dat dit die Proteas se transformasieteikens ’n groot slag gaan toedien.

Hy is die enigste etniese swart speler wat tot dusver in die reeks gespeel het. Suid-Afrika kan dalk genoop word om in Temba Bavuma of Andile Phehlukwayo se rigting te kyk om die transformasieteikens ’n hupstoot te gee.

Die Proteas moet gemiddeld oor ’n seisoen ses swart spelers, waarvan twee etnies swart is, inspan.

Meer oor:  Mark Boucher  |  Kagiso Rabada  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.