Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Boucher neem tot 2023 Proteas se leisels
Mark Boucher (regs) en Enoch Nkwe Saterdag op Nuweland in Kaapstad. Hulle gaan tot 2023 aan die stuur van die Proteas wees.Foto: Gallo Images

Met ’n nuwe uitvoerende hoof, direkteur van krieket én afrigter lyk dit uiteindelik of dié steierende spel darem weer koers gekry het in Suid-Afrika.

Graeme Smith het Saterdag tydens sy eerste nuuskonferensie as Krieket Suid-Afrika (KSA) se nuwe direkteur van krieket bevestig dat Mark Boucher die Proteas se nuwe afrigter gaan wees. Die voormalige Protea-paaltjiewagter sal bygestaan word deur Enoch Nkwe. Albei breiers se kontrakte sal eers ná die volgende Wêreldbekertoernooi in 2023 verstryk.

Smith het ook bevestig dat nóg een van sy voormalige spanmaats by die Proteas, Ashwell Prince, Suid-Afrika A se nuwe afrigter sal wees.

Linda Zondi, die voormalige sameroeper van die keurkomitee, is aangestel as die nuwe “onafhanklike keurder” tot die einde van die seisoen. Die Proteas se keurkomitee sal voortaan bestaan uit die afrigter (Boucher), die hulpafrigter (Nkwe), die kaptein (Faf du Plessis) en Zondi.

Smith het gesê die besluit om Zondi net tot die einde van die seisoen aan te stel, het meer te doen met KSA se begroting as enigiets anders.

Dit is egter die termyn van Boucher se kontrak wat ’n positiewe wending is. Ofskoon baie verander het in die laaste paar weke met Jacques Faul wat as tydelike uitvoerende hoof aangestel is en Smith wat die leisels van alle krieketsake geneem het, was daar die bekommernis dat albei slegs tydelik aangestel is.

Graeme Smith staan die media Saterdag op Nuweland die eerste keer te woord in sy nuwe hoedanigheid as nasionale direkteur van krieket.Foto: Gallo Images

Daar is verwag dat Boucher vir eers net vir die komende reeks teen Engeland die leisels sou neem, maar sy vierjaar-kontrak beteken egter dat daar is ’n mate van standvastigheid by die Proteas sal wees.

Smith het bevestig dat hy vir eers net in die pos gaan bly tot die begin van volgende jaar se Indiese Premierliga-toernooi (waarskynlik in April). Hy het dit egter laat deurskemer dat hy nie die moontlikheid om langer aan te bly uitsluit nie, maar dat dit straks sal afhang van hoe die leierskap by KSA lyk wanneer hy die besluit moet neem.

Faul is die tussentydse uitvoerende hoof, met Thabang Moroe wat vir drie maande geskors is, terwyl sy omstrede termyn aan die stuur van die beheerliggaam ondersoek gaan word.

Daar bestaan egter ’n moontlikheid dat hy teen Maart kan terug wees in beheer van sake. Dit sal dan uiters onwaarskynlik wees dat Smith sal aanbly.

Smith het ook gesê hy glo Boucher is die regte man om die leisels in dié moeilike tydvak vir Suid-Afrikaanse krieket te neem.

“Ons het ’n harde man, wat ervare is in internasionale krieket, nodig. Ons almal ken Mark se eienskappe en weet wat in hom steek,” het Smith oor Boucher se aanstelling gesê.

Boucher het op sy beurt bevestig dat dit die laaste week se verandering in leierskap by KSA was wat hom oortuig het om die pos te aanvaar.

“Ek was baie krities die laaste paar maande oor die rigting wat Suid-Afrikaanse krieket ingeslaan het, maar ek glo met Graeme en Jacques (Faul) in plek is daar nou goeie leierskap,” sê Boucher.

Smith het bevestig dat die Protea- en SA A-groepe Maandag aangekondig sal word en dat die Proteas dan Woensdag byeen gaan kom.

Smith het bevestig dat ofskoon sommige van die toetsspelers wel vir Suid-Afrika A teen Engeland gaan speel, gaan hulle nie in die franchise-meerdagwedstryde diens doen wat Donderdag begin nie.

“Ek voel dat die spelers meer daarby sal baat om saam met die nuwe afrigtingspan voor te berei,” sê Smith.

Meer oor:  Graeme Smith  |  Krieket  |  Mark Boucher  |  Proteas  |  Enoch Nkwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.