Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Boucher: Proteas kán die toets red

Hul afrigter het die uitdaging neergelê: “Wys my hoe slaan jy ’n honderdtal.”

Pieter Malan stap teleurgesteld van die veld nadat hy sy paaltjie vir 18 lopies aan Dominic Bess weggegee het. Foto: Getty Images

Mark Boucher, die Protea-afrigter, glo Suid-Afrika kan die derde toets teen Engeland in Port Elizabeth red as die kolwers hulself ingrawe.

Suid-Afrika is met die rug teen die muur nadat Engeland ’n eerstebeurttelling van 499/9 opgestapel het danksy honderdtalle deur Ben Stokes (120) en Ollie Pope (135*). In antwoord hierop het die Proteas uitskeityd Vrydag op dag twee op 60/2 bereik.

Die blad is egter steeds bevorderlik vir kolfwerk, sê Boucher.

“Ons het wel gesien dat (die wegdraaier) Dominic Bess (2/12 in ses boulbeurte) draai gekry het laat in die dag, maar ek glo as jy jouself ingrawe en hard werk, is daar nog baie lopies op die blad,” sê Boucher.

“Ja, ons speel met meer druk, want hulle het 500. Maar as ons ’n vennootskap aan die gang kry... Ons het met Stokes en Pope gesien hoe moeilik dit is om paaltjies te vat as jy ’n vennootskap bou.

“Ons moet glo ons kan ’n paar vennootskappe bou. Dan kan ons uitgaan en die toets red.

“Ek glo daar is groot honderdtalle vir een of twee van ons kolwers op daardie blad. Ons kolwers sukkel die laaste tyd, maar ek hoop hulle kan dit as motivering gebruik.

“As jy jou tyd vat, is dit moeilik om uit te kom. Maar ons wedstrydplanne gaan moet goed wees, veral teen Bess.”

Die veggees is daar, sê Boucher. “Die spelers wil beter word. Ek dink dalk was ons vaardighede nie op hul beste nie, want dit was ’n lang dag in baie erge hitte.

“Om die loot hier te verloor het, was baie groot. Ons het nie verwag dat die blad die boulers glad nie gaan help in die eerste sessie op dag een nie.

“Die bal het niks gedoen nie en ons het daaroor gepraat en planne gemaak om onsself terug in die wedstryd te kry en ons het dit met tye gedoen.

“Daar was beslis dinge wat ons beter kon doen, soos vanaand. Ons moet beter vaar teen die einde van sessies.”

Pieter Malan (18) en Zubayr Hamza (10) het albei naby aan uitskeityd hul paaltjies aan Bess afgestaan.

Meer oor:  Suid-Afrika  |  Port Elizabeth  |  Engeland  |  Toetsreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.