Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
'Proteas moet volhard met 3 draaiers'
Mark Boucher sê die Proteas moet die veelsydig Senuran Muthumasy in hul elftal vir die tweede toets teen Indië behou.Foto: Gallo Images

Die wen van die loot in Indië gaan vir die Suid-Afrikaanse krieketspan allerbelangrik wees as hy die kastaiings uit die vuur wil krap in die toetsreeks.

Dít is die mening van Mark Boucher, op een na die mees ervare Suid-Afrikaanse toetsspeler en deesdae die afrigter van die Titans.

Dié voormalige paaltjiewagter van die nasionale span het Maandag op SuperSportpark in Centurion gesê die span wat in Indiese toestande die loot wen, is omtrent reeds 40% op pad om die toets te wen.

“Dit is van kardinale belang dat ons die oorblywende lote in die reeks wen en sodoende, deur eerste te kolf, druk op Indië te plaas,” sê Boucher.

Hy is ook van mening dat daar volhard moet word met die resep van drie draaiers en daardie waagmoed wat aan die dag gelê is, nie sommer nou opsy geskuif word net omdat die eerste toets in Visakhapatnam met 203 lopies verloor is nie.

As daar aan die boulaanval getorring moet word, sal Boucher eerder wil sien dat die waagstuk aangegaan word om die ervare Vernon Philander die trekpas te gee en dat Anrich Nortjé ingesluit word.

Boucher is van mening dat die oorblywende toetse in die reeks, in Pune en Ranchi, nie weer ook op só ’n mak kolfblad gespeel gaan word soos die eerste nie.

“Ek reken dit gaan baie meer draaier-vriendelike toestande wees en daarom sal ek volhard met die drie draaiers,” sê hy.

Ek reken dit gaan baie meer draaier-vriendelike toestande wees en daarom sal ek volhard met die drie draaiers.
Mark Boucher

“Om dan ’n uit en uit snelbouler te hê soos Nortjé, wat met sy vaart die oneweredige wip in die blad kan uitbuit, sal vir my van meer waarde wees as om net die mediumsnel-aflewerings van Vernon te hê,” verduidelik Boucher sy denkwyse.

“My hart het in my skoene gesak toe ek sien Indië het die loot gewen, want hulle was toe heeltyd op die voorvoet deur te kolf. Hulle kon toe met hul draaiers druk op ons kolwers plaas deur meer as 500 aan te geteken het.

“Ek sal graag die skoen aan die ander voet wil sien en dat ons 500 kry deur eerste te kolf en dan die druk op hulle plaas met ons draaiers. Ek glo dit sal dan ’n heeltemal ander storie wees,” sê hy.

Boucher glimlag ook oor die feit dat daar nou vir geduld gevra word. “Dit is nie iets waarvan die Suid-Afrikaanse ondersteuners baie het nie.

“Ek wil egter hê ons moet dapper wees en (Senuran) Muthusamy behou. Hy kan die veelsydige rol vervul,” meen hy.

Paul Harris sê die Proteas moet Lungi Ngidi as ’n derde naatbouler kies vir die tweede toets teen Indië.Foto: Gallo Images

Boucher glo die senior spelers in die span moet nou ook ’n groter rol speel. Daar is ’n gebrek aan toetservaring en die senior ouens soos Dean (Elgar), Faf (du Plessis) en Quinnie (de Kock) se verantwoordelikheid word groter.”

Hy reken ook die kloof tussen die plaaslike reeks en toetskrieket is al hoe groter, want Theunis de Bruyn doen uitstekend hier op plaaslike vlak, maar op toetsvlak is daar allerlei dinge in sy kop wat uitgesorteer moet word.

Die eertydse Protea-draaier Paul Harris stem saam met Boucher oor die loot wat moet reg val vir Suid-Afrika en hy sal wil sien dat Lungi Ngidi dalk sy kans kry as ’n derde snelbouler.

Die peil van De Bruyn en Temba Bavuma kwel hom en hy sal wil sien dat die Suid-Afrikaanse draaiers die bal ’n bietjie vinniger deur die lug stuur en ’n les leer by die Indiese draaiers oor wat die lengte betref waar hulle die bal moet plant.

Meer oor:  Mark Boucher  |  Paul Harris  |  Indië  |  Suid-Afrika  |  Krieket  |  Subkontinent  |  Tweede Toets  |  Proteas  |  Draaiers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.