Keshav Maharaj en Tabraiz Shamsi sal waarskynlik in tandem ingespan word in die Proteas se eerste kriekettoets teen Pakistan, wat Dinsdag in Karatsji begin.
Mark Boucher, die Protea-afrigter, het Maandag gesê hy verwag dat die blad in Karatsji skerp draai sal toon.

Quinton de Kock en Babar Azam, die kapteins van Suid-Afrika en Pakistan, poseer by die trofee waarom hul spanne van Dinsdag af sal meeding. Foto: Krieket Suid-Afrika
“Die toestande is heel anders as waaraan ek gewoond is uit my ervaring in Pakistan. Die toestande is nie soos wat ons verwag het nie,” sê Boucher.
“Ons het verwag dat omgekeerde swaai ’n rol sou speel, maar nadat ons by die veld was, dink ons nie meer so nie. Die buiteveld is groen en vogtig. As ek na die blad kyk en ook na die drie draaiers wat Pakistan in hul groep gekies het, verwag ek dat die bal beslis gaan draai.”
Hy sê hulle sal meer as een draaier gebruik.
“Ons is nie bang om iets anders te doen as wat voorheen gedoen is of om te waag nie. Ons het ouens wat ons kan kies om ’n spesifieke taak te verrig en die reeks vir ons te wen.”
Daardie ouens is waarskynlik Shamsi en Maharaj, al wou Boucher dit nie prontuit erken nie.
“Tabraiz is gekies as ’n aanvallende, aggressiewe draaier. As jy die kans het om hom in sulke toestande los te laat, waarom nie?”
Die linkshandige gewrigsdraaier Shamsi word goed aangevul deur die bestendige linksdraaier Maharaj, wat graag sal wil vergoed vir ’n powere reeks in Indië in 2018, waar hy ’n swak boulgemiddeld van 85.66 gehad het.

Mark Boucher, die Protea-hoofafrigter. Foto: Krieket Suid-Afrika
“Kesh is honger. Hy het nie veel geboul teen Sri Lanka nie. Hy is ons hoofdraaibalbouler, vir ’n paar jaar nou al, maar hy het nie die beste vertonings in ’n land soos Indië gelewer nie,” sê Boucher.
“Ons het ’n paar tegniese verstellings aan sy spel gemaak en hy het baie verbeter. Hy jeuk om uit te kom en te boul in dié toestande, waar hy ’n groot invloed kan hê en dalk kan help dat ons die reeks wen.”
Boucher sê geduld bly steeds die wagwoord vir draaiers in sulke toestande, al is die blad bevorderlik vir draaiboulwerk. Dieselfde geld vir kolwers – hulle moet geduldig wees.
Hy glo ook Suid-Afrika het al die boulbestanddele om die reeks te kan wen.
“Ons het ouens wat spoed deur die lug kry, wat jy nodig het op mak kolfblaaie, en ons het iemand wat die lopietempo kan beperk en ’n aanvallende draaiopsie. Ons sal kyk hoe ons ’n span kan kies om 20 paaltjies plat te trek.”
Hy verwag dat die kolfblad aanvanklik goed sal wees en dat lopies in die eerste beurt dus belangrik gaan wees.
• TV: Dinsdag vanaf 07:00 (SS 201).