Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Boucher skimp oor Kolpak-spelers

Die Proteas se wenkans in die reeks teen Engeland is in die hoësorgeenheid, maar daar is skielik praatjies van ’n toets-inspuiting wat Suid-Afrikaanse krieket weer gesond kan maak.

Mark Boucher, die Protea-afrigter, het Sondagaand ná die vierde dag se spel van die derde toets in Port Elizabeth ’n insiggewende vraag van ’n ervare Engelse joernalis gekry.

Mark Boucher, die Protea-afrigter, staan die media te woord. Foto: Gallo Images

“Is daar gesprekke om Kolpak-spelers weer vir Suid-Afrika te laat speel?” wou George Dobell van Cricinfo weet.

“Ek het nie enige gesprekke met enige spelers gehad nie,” het Boucher geantwoord.

“Ek weet daar kan dalk gesprekke op hoër vlakke aan die gang wees om uit te vind of daar geleenthede vir Kolpak-spelers beskikbaar is, maar dit is nie my baba nie.”

Dobell het verlede jaar die storie gebreek van AB de Villiers se U-draai-aanbod om homself beskikbaar te stel vir die Wêreldbeker-toernooi. Hy het ook die nuus destyds gebreek dat Kyle Abbott ’n Kolpak-kontrak gaan teken. Hy is dus goed ingelig en sal so ’n vraag nie “sommer net” vra nie.

Kolpak-spelers soos Abbott, Duanne Olivier, Simon Harmer en Rilee Rossouw sal almal ’n bydrae tot die toetsspan kan lewer. Olivier en Abbott sal veral waardevol wees, aangesien Vernon Philander ná dié toetsreeks uit toetskrieket tree.

Rossouw sou ’n rol met die kolf kon speel. Veral aangesien Faf du Plessis se loopbaan eersdaags tot ’n einde kom.

Du Plessis (36, 123 balle) het Vrydag sy beste telling in agt beurte geslaan, maar dit was tevergeefs aangesien die span tot 102/6 in hul opvolgbeurt geploeter het teen uitskeityd. Suid-Afrika is steeds met 188 lopies agter Engeland se eerstebeurttelling van 499/9 nadat die Proteas vir 209 in hul eerste beurt uitgeboul is.

Daar is gerugte dat Du Plessis uit toetskrieket kan tree ná die volgende toets op die Wanderers, maar Boucher weet van niks.

“Ek het nie ’n idee nie, hy het nog niks gesê,” sê hy.

Die volgende toetsreeks is in Julie teen die Windies in die Karibiese Eilande. Du Plessis het reeds daarop gesinspeel dat hy ná die T20-Wêreldbeker-toernooi in Australië in Oktober en November kan uittree.

Die onervare kolflys het nodig dat ’n senior speler soos Du Plessis na vore tree.

“Ons het ’n jong kolflys en hoef nie daaragter te skuil nie,” sê Boucher.

“Die realiteit is dat die land goeie vertonings wil sien. Vandag is nie ’n dag waaroor ons ons koppe omhoog wil hou en sê ons het hard geveg nie.

As jy kyk na hoe die ouens speel, hulle wil oorheers, maar die toestande maak dit moeilik. Die bal draai meer.
Mark Boucher

“Daar is dalk ’n paar dinge wat tot die futlose vertoning bygedra het, maar ons kan nie te emosioneel daarna kyk nie.”

Suid-Afrika het van 208/6 tot 209 almal uit in duie gestort in hul eerste beurt. Reën het spel verkort en reën is al wat die span van ’n nederlaag kan red.

Die weervoorspelling lyk of dit Suid-Afrika goedgesind kan wees, maar daar sal waarskynlik tog spel moontlik wees op Maandag, die vyfde dag van die toets.

Dan sal Vernon Philander (13*), Keshav Maharaj (5*) en die res van die stertkantkolwers se denkproses helder moet wees.

“Elke ou het sy wedstrydplanne en dit is dalk ietwat duister tans, want spelers luister dalk na kommentators of die media wat sê die spelers moet hul voete gebruik en meer oorheersend probeer wees teen die draaiers.

“As jy kyk na hoe die ouens speel, hulle wil oorheers, maar die toestande maak dit moeilik. Die bal draai meer. Joe Root (4/31) het vinnig geboul, een bal gaan reguit aan en die ander een draai.

“Dit is dus moeilik om te weet wat die beste opsies is met betrekking tot ons kolfwerk in moeilike toestande. Dit is my werk om vir die kolwers meer opsies te gee.”

As Suid-Afrika dit regkry om ’n onbesliste uitslag af te dwing, sal die spanne met die reeks op 1 elk gelykop na die Wanderers opruk vir ’n beslissende vierde toets wat Vrydag begin.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.