Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Boucher soek hoop in puin van nederlaag

Mark Boucher ken die wipplank-aard van internasionale krieket maar alte goed.

Deur sy loopbaan as speler was hy gereeld bo, maar ook soms heel onder. Daar waar die druk aan jou eet.

Op 29 Desember is hy as die redder van Protea-krieket gesien. Die begin van ’n nuwe era is met ’n oorwinning oor Engeland in Centurion ingelui en die span het eindelik weer gewen ná vyf nederlae agtereenvolgens.

Vernon Philander loop Maandag teleurgesteld van die veld nadat sy weerstand sommer vroeg beëindig is. Foto: Reuters

Drie weke later loei die sirenes weer – dié keer oorverdowend, want nie eens positiewe skuiwe in die kleedkamer en raadsale kon kitssukses bring nie.

Boucher se span het Maandag op die laaste oggend van die derde toets teen Engeland in Port Elizabeth hul vierde grootste tuisnederlaag sedert hertoetrede gely.

Die pak slae met ’n beurt en 53 lopies is boonop die grootste loesing op tuisbodem sedert die Aussies die Suid-Afrikaners in Februarie 2002 met ’n beurt en 360 lopies op die Wanderers verneder het.

Wie was daardie dag die kaptein? Boucher, wat vir Shaun Pollock ingestaan het. Die gevoel van ’n nederlaag wat jou soos ’n ton bakstene vergruis, is dus bekend aan hom. Hy sal weet hoe om deur die puin van só ’n loesing te soek na iets waardevol, iets wat nie gebreek is nie.

Eers sal hy bestekopname moet neem van alles wat in die vorige twee toetse stukkend was.

In die Baai het die span verreweg die swakste krieket tot dusver in die reeks gespeel. Kolwers het hul paaltjies weggesmyt en die boulers kon weer, soos in die tweede beurt in Kaapstad, nie tien paaltjies in ’n Engelse beurt plattrek nie.

Die probleem was veral die span se gesukkel in die eerste sessie van elke dag.

Op dag een was daar die taktiese breinfloute om Dane Paterson die boulwerk te laat begin en nie vir Kagiso Rabada nie. Die uiteinde – ’n sessie wat Engeland op 61/0 afgesluit het.

Op dag twee het Ben Stokes en Ollie Pope Suid-Afrika uit die toets gekolf. Stokes het 72 lopies en Pope 36 in dié sessie alleen aangeteken, met die Protea-boulers so ondoeltreffend soos sluipskutters met waterpistole. Dit het Engeland in ’n oogwink van 224/4 tot 335/4 gevoer. Toe was dit neusie verby.

Dag drie se eerste sessie het drie Suid-Afrikaanse toporde-paaltjies vir 53 lopies verloor in ’n reënverkorte sessie.

Keshav Maharaj moes elke nou en dan koes vir sy lewe, maar het ’n bietjie pret gehad op die laaste dag van die derde toets teen Engeland in Port Elizabeth. Foto: Reuters

Sondag was daar die skandelike vier paaltjies vir een lopie in die eerste 25 minute, voor reën die Proteas in hul opvolgbeurt van verdere eerstesessie-vernedering gespaar het.

Maandag: Selfs al was daar baie lopies, het die laaste vier Protea-paaltjies almal in die eerste sessie geval.

Boucher sal in sy “nadoodse ondersoek” moet uitvind waarom sy spelers in die oggende soos slaaplopers lyk.

Tweedens is daar te veel breinfloutes. Veral teen draaiers.

Dom Bess het ses paaltjies en Joe Root vier laat kantel in die Baai. Hulle is beswaarlik Muttiah Muralitharan en Shane Warne.

Tog was die Protea-kolwers vasgevang tussen ’n aanvallende en verdedigende ingesteldheid en het soms té vrylik hul voete gebruik. Daar is ook weinig geveeg en in die eerste beurt glad nie.

Vandaar die volgende punt: Die Suid-Afrikaanse span het eenvoudig ’n tekort aan kolftalent.

Elke groot span het minstens twee kolwers van wêreldgehalte in sy topvyf. Engeland het vir Joe Root en Ben Stokes, Australië vir Steve Smith en David Warner, Indië vir Virat Kohli en Cheteshwar Pujara.

Quinton de Kock val in daardie kategorie wat talent betref, maar as paaltjiewagter kolf hy op nr. 6. Faf du Plessis is ook ’n uitstekende internasionale kolwer, maar sy spelpeil is tans power.

Du Plessis lyk boonop gedaan. Hy sal waarskynlik op die Wanderers in sy laaste tuistoets speel.

Hy sal een laaste poging wil insit om die reeks met 2-elk te deel. Hy sal dit met ’n span doen wat anders as die een vir die derde toets gelyk het.

Temba Bavuma, Andile Phehlukwayo, Beuran Hendricks en Keegan Petersen is gevra om hulle weer by die groep aan te sluit.

Met Kagiso Rabada geskors, kan Hendricks oorweeg word. Paterson kan gepos word om plek te maak vir Pretorius of Phehlukwayo.

Iets waaraan Boucher-hulle in 2002 nie hoef te gedink het nie, maar vandag ’n werklikheid is, is transformasieteikens.

Rabada was die enigste etniese swart speler wat in die Baai gespeel het. Dit is bykans ondenkbaar dat die span sonder ’n enkele etniese swart speler sal speel. Bavuma het 180 vir die Lions teen die Dolphins aangeteken en kan in die sukkelende Zubayr Hamza se plek speelkans kry.

Of ’n boulaanval sonder Rabada die Engelse kan uitdaag, is ’n bekommernis. Oral flikker die gevaarligte.

Boucher sal bekommerd wees. Hy sal ook weet dat een loesing nie ’n speler, span of afrigter definieer nie. Anders sou hy nie naby 147 toetse gekom het nie.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  St. Georgepark  |  Engeland  |  Toetskrieket  |  Mark Boucher  |  Wanderers  |  Kriekettoets  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.