Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Boucher soek Kallis terug met rasbeleid op ys

Om te hoor hoe Jacques Kallis praat oor hoeveel hy dit geniet om Engeland se kolwers in hul toetsreeks teen Sri Lanka by te staan, is vir Mark Boucher ’n bitter pil om te sluk.

Die Protea-kolwers het dit geniet om Jacques Kallis in die kamp te hê gedurende die tuisreeks teen Engeland in die 2019-’20-seisoen. Hier deel Kallis en Faf du Plessis ’n grappie. Foto: Getty Images

Kallis het Woensdag in ’n onderhoud in Galle, Sri Lanka, gesê hy sou die Proteas graag steeds wou bystaan, maar het weens ’n rasbeleid van Krieket Suid-Afrika (KSA) geleenthede elders oorweeg.

KSA se vorige raad het aan die einde van Augustus 2020 ’n voorlegging aan die departement van sport gedoen waarin hy onderneem het om voortaan slegs swart, bruin of Indiër-konsultante te betrek. Dié beleid is sedertdien deur die nuwe, tussentydse raad op ys geplaas, maar Kallis was nie daarvan bewus nie.

Trouens, nie eens Boucher, die Protea-afrigter, het geweet die beleid is nie meer van krag nie, totdat hy dit twee weke gelede in die media gelees het.

Kallis het Suid-Afrika in die 2019-’20-seisoen as kolfkonsultant bygestaan in hul reeks teen Engeland. Sedertdien het die Proteas nog nie ’n nuwe kolfafrigter of -konsultant nie en sal Vrydag sonder een na Pakistan vertrek.

Kallis het Woensdag gesê sulke regstellendeaksie-beleide is “taai, maar ons verstaan waar dit vandaan kom”.

“Dis hartseer, maar dis die tye waarin ons leef. Suid-Afrika het ’n paar spelers verloor, ouens wat oorsee gegaan het, vir watter redes ook al. Daar is ook afrigters wat oorsese spanne afgerig het, soos Gary Kirsten.”

Boucher is Donderdag oor Kallis se betrokkenheid by die Engelse span gepols.

“Hy is ’n reuseverlies,” sê Boucher.

“Verskeie van ons kolwers het selfs in die afseisoen by hom kers opgesteek, deur Zoom. Hy het ook ’n sessie met Temba Bavuma in Kaapstad gehad en Temba praat met hoë agting van hom.”

Mark Boucher en Jacques Kallis is weg van krieket ook goeie vriende. Hier is hulle saam op die Alfred Dunhill Links-gholftoernooi in Skotland in 2016. Foto: Getty Images

Boucher sê sy hande is soms weens rasgegronde beleide vasgebind.

“Jy sal boodskappe kry wat sê jy kan nie hierdie ou kies om ’n sekere rol te vervul nie.

“In die media is daar gesê Jacques is my vriend en dit is baantjies vir boeties. Ja, Jacques is my vriend. Maar hy is ook ’n puik krieketspeler, wat baie kennis toevoeg. Hoekom sou ons hom nié wou gebruik nie?

“Dit is dus ’n bitter pil om te sluk, maar dit was die reëls. Die reëls is nou aangepas.”

Judith February, die woordvoerder van die tussentydse raad, het op 3 Januarie aan Netwerk24 bevestig die beleid is op ys geplaas. Dit het gevolg nadat Rapport op dieselfde dag berig het die rasbeleid het bygedra tot Kallis se besluit om koers te kies.

Boucher het egter niks self van die tussentydse raad gehoor nie, maar hoop nietemin om Kallis terug te kry. En sommer gou ook.

Jy sal boodskappe kry wat sê jy kan nie hierdie ou kies om ’n sekere rol te vervul nie.
Mark Boucher

“Die kolfkennis wat hy en ’n paar ander ouens in hierdie land het, moet benut word. Daar was ’n begin (met Kallis se betrokkenheid) en dit is toe van die spelers weggevat, so hopelik kan ons hom terugbring om sy kennis oor te dra.”

Boucher het wel nog nie “ernstige gesprekke” met Kallis gehad oor sy moontlike betrokkenheid nie.

“As ons hom binnekort weer betrokke kan kry, miskien teen Australië, dan moet ons dit doen. ’n Klomp spelers koester ’n hoë dunk van Kallis en het baie by hom geleer, al was dit in ’n kort tydjie.

“Ek hoop net ons behandel hom met respek, want dit blyk duidelik dat hy ’n klomp geleenthede elders in wêreldkrieket tot sy beskikking het. Solank ons hom nie rondneuk nie, sal hy graag in Suid-Afrikaanse krieket wil werk.”

Kallis se rol by Engeland is slegs vir hul reeks teen Sri Lanka. Hy het nie aansoek gedoen vir die pos van Engeland se kolfafrigter nie, maar het Woensdag daarop gesinspeel dat hy oop is vir die moontlikheid om langer aan te bly.

Hy het wel ’n babatjie van tien maande by die huis en sy vrou het haar voet gebreek net voordat hy hom by Engeland aangesluit het. ’n Pos in Suid-Afrika sal hom dus beter pas.

’n Tuistoetsreeks teen Australië word vir Februarie en Maart beplan, sou Covid-19 dit toelaat, en dis vir dié reeks dat Boucher-hulle kan poog om Kallis terug te kry.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.