Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Mark Boucher wil dié boksies aftik

Die Proteas keer huiswaarts ná twee maande op toer, met drie reeksseges en een gedeelde reeks agter die blad. ’n Suksesvolle toer dus, maar die span is nog nie heeltemal waar hulle wil wees nie – veral in die T20-formaat.

Temba Bavuma hou die trofee omhoog nadat die Proteas die T20-reeks teen Ierland met 3-0 gewen het. Foto: Gallo Images

“Daar is nog een of twee posisies waarna ons kyk,” het Mark Boucher, die span se afrigter, gesê nadat hulle die T20-reeks teen Ierland Saterdag met 3-0 beklink het.

Die span het ook hul T20-reeks teen die Wes-Indiese Eilande gewen en het dus goeie selfvertroue met die oog op die T20-Wêreldbeker-toernooi (T20-WB), wat in Oktober in die Verenigde Arabiese Emirate beslis word.

“Ons het vir Janneman (Malan) ’n kans (op nr. 3) gegee nadat hy so goed gevaar het in die eendagreeks, maar dit het nie heeltemal uitgewerk nie.

“Ons sal ook vir Dwaine Pretorius terugkry. In dié reeks het ons nie regtig met ’n bykomende veelsydige speler, oftewel ’n sesde boulopsie gespeel nie, maar met een of twee ouens wat terugkom, sal ons daardie boksie kan aftik.”

Die breier is wel tevrede met die spel van sy kaptein, Temba Bavuma, wat geskitter het met ’n beurt van 72 (51 balle) in die Proteas se oorwinning met 49 lopies in die derde T20-wedstryd.

“Temba het die harde werk ingesit agter die skerms. Hy is ’n taai karakter en hy hou nie daarvan as hy nie van vooraf kan lei met die kolf nie.

“Hy is die tipe ou wat wil loop met sy goeie spelpeil. Hy sal die reeks teen Sri Lanka met selfvertroue betree. Hy kan nou met selfvertroue lei. Ek moet wel sê hy het die span goed aangevoer op en van die veld.”

Een van die tameletjies waarmee Boucher sit, is dat hy vyf aanvangskolwers in sy groep het – Bavuma, Quinton de Kock, Reeza Hendricks, Malan en Aiden Markram.

Dit klink of die span wel reeds besluit het wie die beurt sal begin.

“Almal wat kans gekry het om die beurt te begin, het iewers goed vertoon. Dit skep ’n kopseer as dit kom by die kies van die span,” sê Bavuma.

“Ek dink die voorkeur sal steeds ek en Quinton wees. Ek dink nrs. 4-6 is redelik bepaal. Die vraag is dan wie kom in op nr. 3?

“Ek het my ganse T20-loopbaan nog op nr. 3 gekolf, maar die afrigter verstaan my verhouding en sinergie met Quinny, so hy moedig dit aan en hopelik kan dit ons help om goed te begin in wedstryde.”

Die kaptein is tevrede met sy span se vertoning op toer.

“Wen word ’n gewoonte. Ons het voor die toer gereeld verloor en ons selfvertroue het ’n knou gevat. Nou het ons weer selfvertroue opgebou en ’n paar boublokke in plek gekry van hoe ons wil speel.

“Ons is omtrent op so 75, 80%. Ons het nog baie om aan te werk, veral wat ons kolfwerk betref.”

Meer oor:  Krieket  |  Mark Boucher  |  Ierland  |  Proteas  |  Temba Bavuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.