Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Boucher wil Protea-blitsduo loslaat
Anrich Nortje in die IPL-eindstryd in aksie. Foto: IPL

Hoewel Mark Boucher, die Protea-afrigter, sy blitsboulers goed wil bestuur in die witbalreekse teen Engeland, sal die versoeking groot wees om die Delhi Capitals dit na te doen en sy twee vinnigste snellers strykdeur saam in te span.

Kagiso Rabada en Anrich Nortjé het skade gemaak vir die Capitals in die Indiese Premierliga (IPL) en dié span gehelp om die eindstryd te haal. Daar het hulle teen Quinton de Kock se Mumbai Indians vasgeval.

“KG en Anna het ’n goeie boulvennootskap gevorm. Hulle maak my baie opgewonde, veral omdat hulle goed saamgeboul het,” sê Boucher.

Dit is ’n wonderlike bate om te hê – ouens met vaart. Ons kyk voortdurend na ons plaaslike strukture en ons soek ouens met vaart.
Mark Boucher

“Dit is ’n wonderlike bate om te hê – ouens met vaart. Ons kyk voortdurend na ons plaaslike strukture en ons soek ouens met vaart.

“Om vaart te hê is een ding, maar jy moet steeds die bal in die regte gebiede plant. KG en Anna het albei presies dít gedoen.

“Ek hoop ons kan hulle saam inspan, ons sal daardie proses goed moet bestuur. Ons het KG baie blaaskanse gegee aan die begin van die seisoen en toe kry hy tydens die Covid-inperking nóg rus.

“Ons het in die IPL gesien hoe waardevol dit is om ’n vars KG te hê. Ons kan nie aanhou om ouens wat vinniger as 150 km/h boul, in elke wedstryd in te span nie.”

Kagiso Rabada teen die Mumbai Indians in aksie. Foto: IPL

Boucher sê daar is nóg ’n bykomende voordeel daarin om vir Nortjé en Rabada in tandem te kan inspan: Hulle kan die kolwers in die nette gewoond maak aan dít wat hulle van die Engelse blitse Jofra Archer en Mark Wood kan verwag.

Die Engelse ruk na Suid-Afrika op met ’n propvol krieketsomer agter die blad, terwyl die meeste Proteas ver van wedstrydfiks is. Slegs Rabada, Nortjé, De Kock en Faf du Plessis het gereeld in die IPL gespeel, maar Boucher sien dít reeds as ’n groot bonus.

“Dit was fantasties om te sien hoe goed hulle gevaar het, dit is een van die goeie ding wat uit die situasie gekom het.

“Die spelers het ongelooflike harde werk ingesit en ek was beïndruk met hul fiksheidsvlakke. Daar is ook ouens wat tegniese aspekte van hul spel aangepas het.”

Die meeste van die ander spelers in die groep het maar net twee vierdagwedstryde agter die blad. Die span se interne oefenwedstryde, wat vir Saterdag beplan was, moes boonop weens twee positiewe Covid-gevalle afgelas word.

Ons het gekyk na die tekort aan krieket en daarvolgens beplan. Ons moet slim te werk gaan by ons oefensessies.
Mark Boucher

“Die skuif van vierdagkrieket na witbalkrieket is makliker as omgekeerd, so dit is ook positief. Ons het gekyk na die tekort aan krieket en daarvolgens beplan. Ons moet slim te werk gaan by ons oefensessies.

“Covid-19 was moeilik vir almal, maar ons het gedoen wat ons kan om die spelers op te bou al kon ons nie speel nie.

“Ons het goeie gesprekke met die ouens op Zoom gehad en hulle sodoende meer ervare probeer kry, maar nou gaan dit daaroor om dit in praktyk uit te voer.”

Die eerste T20-wedstryd word Vrydag in Kaapstad beslis.

Meer oor:  Mark Boucher  |  Kagiso Rabada  |  Anrich Nortjé  |  Kaapstad  |  Engeland  |  Suid-Afrika  |  Krieket  |  Witbalreeks  |  Toerspan  |  Afrigter  |  Proteas  |  Snelboulers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.