Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
'Boulers kos Suid-Afrika die wedstryd'

Gee daai man ’n lekker stewige dop om die oorwinning mee te vier. En nie sommer net enigiets nie. Maak dit ’n dubbele “Captain Morgan”.

Eoin Morgan, die kaptein van die Engelse T20-krieketspan, het SuperSportpark in Centurion Sondagmiddag aan die brand gespeel in sy onoorwonne beurt van 57 lopies van slegs 22 balle, wat ’n verstommende sewe sesse ingesluit het om sy span tot ’n gerieflike sege met vyf paaltjies aan te voer in die derde en beslissende kragmeting in die reeks.

Dwaine Pretorius laat val Sondag ’n bal van die kolf van Eoin Morgan, die Engelse kaptein. Engeland het die derde T20-wedstryd op SuperSport Park gewen. Foto: Gallo Images

Danksy Morgan het Engeland die reeks met 2-1 gewen.

Mark Boucher, die Suid-Afrikaanse afrigter, sê die probleem met Sondag se nederlaag was dat die boulwerk die tuisspan in die steek gelaat het.

“Ons het net heeltemal te veel sagte aflewerings geboul wat te maklik vir grenshoue geslaan kon word. Daar is te veel balle in die verkeerde areas geboul en die uitvoering was nie goed genoeg nie.

“Ons boulers se vaardighede is nog nie waar dit hoort nie,” het Boucher ruiterlik erken.

“Wat die toekoms betref, is daar in hierdie reeks met die oog op die Wêreldtoernooi later vanjaar sekere vrae positief beantwoord, maar daar is ook nog ander tergende vrae waarvoor daar nie antwoorde was nie,” sê hy.

Eoin Morgan maak skouers oop. Foto: Getty Images

In die laaste twee wedstryde in hierdie uitstekende reeks was dit duidelik dat die kolwers geen vrees het om die bal luglangs oor die grenstou te slaan nie.

Daar is die afgelope Vrydag in Durban en Sondag in Centurion nie minder as 67 viere en ’n allemintige 56 sesse geslaan.

Morgan het gesê hy glo daar is geen beperking op wat die kolwers kan bereik nie.

“Ons speel sonder enige vrees en as die bal daar is om vir ses geslaan te word, sal ons dit doen. As kolwer sien ek elke aflewering wat na my geboul word as ’n potensiële ses. As ek hom sien as die regte een om te slaan, sal ek nie terughou nie,” het hy gesê.

Daarom het hy Sondag sewe sesse en nie een vier in sy warrelwindbeurt geslaan nie.

Boucher sê die kolwers het deesdae ’n heeltemal ander ingesteldheid en stap uit met die idee dat hul koppe skoon is en daar nie allerlei beperkinge is op hoe hulle te werk wil gaan nie.

“Jy gaan uit om die bal te slaan en om dit sonder vrees te doen. As jy dan boonop slim te werk gaan en dinge tel in jou guns, is daar net geen keer aan die kolwers nie,” sê hy.

Meer oor:  Centurion  |  Suid-Afrika  |  Eoin Morgan  |  Proteas  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.