Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Boycott frons oor Root se kapteinskap

Joe Root glo hy is steeds die beste persoon om Engeland se toetskrieketspan te lei, maar ’n voormalige Engelse aanvoerder deel nie dié mening nie.

Die 28-jarige Root se kapteinskap is in die soeklig nadat Australië Sondag op Old Trafford die vierde toets teen Engeland gewen en sodoende die As behou het.

’n Teleurgestelde Joe Root nadat Australië met sy toetsoorwinning op Old Trafford daarin geslaag het om die As te behou. Foto: Getty Images

As Engeland nie die vyfde en laaste toets op die Oval wen nie, sal hy die eerste kaptein van dié land sedert Michael Atherton in 2001 word wat op tuisbodem ’n reeks teen die Aussies verloor. Atherton het ná daardie nederlaag uit internasionale krieket getree.

Geoff Boycott, ’n uitgesproke voormalige Engelse speler en kaptein in 1977 en 1978, sê Root is ’n baie aangename mens en niemand wil hom verneder of seermaak nie, “maar hy het nie die regte aanvoeling om kaptein te wees nie”.

“Sy kapteinskap is baie teleurstellend en hy moet mooi gaan dink of hy uitgeknip is daarvoor en of dit nie sy kolfwerk nadelig beïnvloed nie.”

So baie as wat ek van Joe hou, lyk dit net nie asof hy ’n aanvoeling vir die fynere nuanse van die spel het nie.

Sedert Root twee jaar gelede die kapteinskap by Alastair Cook oorgeneem het, het Engeland tuisreekse teen Suid-Afrika en Indië gewen, as ook een weg teen Sri Lanka. Maar daar was ’n verpletterende reeksnederlaag teen Australië in 2017 en Engeland het boonop die eerste keer sedert 2009 ’n reeks teen die Windies verloor.

Dis nie net sy besluitneming wat kritiek ontlok nie, maar daar is ook kommer dat sy kolfwerk deur die groot verantwoordelikheid wat met die kapteinskap gepaard gaan, ondermyn word.

Root kon byvoorbeeld nog nie ’n honderdtal in die huidige reeks om die As aanteken nie en is boonop drie keer vir eendjies uitgehaal. Sy kolfgemiddelde ná vier toetse is maar ’n beskeie 30 lopies.

Geoff Boycott het sy bedenkinge oor Joe Root se vermoëns as kaptein. Foto: Getty Images

Boycott sê hy kan byvoorbeeld nie kleinkry waarom Root nie meer aanvallend was toe Australië op 63/4 in sy tweede kolfbeurt op Old Trafford ietwat gewankel het nie.

“Jofra Archer het vinnig geboul en Stuart Broad met groot vernuf en intensiteit. Die atmosfeer was elektries en die skare het Engeland aangepor om die Aussies goedkoop uit te boul.

“Maar ná die teepouse besluit Root toe om die bal vir Craig Overton en Jack Leach te gee. Boonop het van sy veldplasings die verstand te bowe gegaan.

“Al die intensiteit en aggressie was skielik daarmee heen. Joe het net daar op eerste glip gestaan en kyk hoe Steve Smith (Australië se kolfheld) die toets buite Engeland se bereik neem.

“So baie as wat ek van Joe hou, lyk dit net nie asof hy ’n aanvoeling vir die fynere nuanse van die spel het nie,” het Boycott gesê.

Die vyfde en laaste toets begin Donderdag op die Oval in Londen. Australië loop met 2-1 voor in die reeks. – Reuters

Meer oor:  Joe Root  |  Reeks Om Die As  |  Geoff Boycott
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.