Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Breier se raad: Bly weg van sosiale media!

Justin Langer, hoofafrigter van Australië se krieketspan, glo jong sportsterre moet liefs van sosiale media af wegbly.

Justin Langer, afrigter van die Australiese krieketspan, voel sterk oor die negatiewe invloed wat sosiale media op sportlui kan hê. Foto: Getty Images

Langer het dié mening uitgespreek kort nadat die Engelse Premierliga ’n amptelike klag by die Britse polisie gelê het teen ’n persoon wat die Brighton-doelskieter Neal Maupay aanlyn gedreig en beledig het.

Die Premierliga glo die skuldige persoon bevind hom in Singapoer en die liga werk saam met plaaslike owerhede om hom op te spoor.

Maupay is een van verskeie sokkerspelers in die liga wat gereeld op sosiale media deurloop, maar dié probleem steek reg oor die sportspektrum kop uit.

In Suid-Afrika het die Springbok-agtsteman Duane Vermeulen ook onlangs onder kuberkrakers deurgeloop.

Langer het op die Charlie Webster-podsending die negatiewe invloed van sosiale media bespreek.

“As ek alle jong sportsterre raad kan gee – trouens, almal in die openbare oog – sou ek sê dat hulle géén sosialemediarekeninge moet hê nie,” sê hy.

“Ek sê dit, want ek het nie nodig dat ’n vreemdeling vir my sê hoe goed ek is of hoe sleg ek speel nie. Wat ek nodig het, is mense wat my respekteer, my familie en vriende, hulle sal my laat weet. Jou geestesgesondheid ly daaronder en jy moet bitter taai wees om nie deur sulke kritiek geraak te word nie.”

Die Brighton-sokkerspeler Neal Maupay word tans deur die Engelse Premierliga bygestaan om die persoon op te spoor wat hom op sosiale media beledig en gedreig het. Foto: Getty Images

Die Engelse snelbouler Jofra Archer het ook verlede maand onthul hoe hy rassisties op Instagram beledig word. Archer het in 2019 dieselfde oorgekom toe ’n toeskouer in Nieu-Seeland hom rassistiese beledigings toegesnou het.

Langer sê hy was geskok om te sien watter tipe aanmerkings van sy spelers verlede jaar gedurende die Wêreldbeker-toernooi en reeks om die As in Engeland op sosiale media moes verduur.

“Ek haat dit dat mense eenvoudig dink hulle het die reg om te sê net wat hulle wil oor spelers wat so hard op die veld probeer,” sê die voormalige aanvangskolwer.

“As jy hulle dan konfronteer, sê hulle vinnig jy ‘moet ’n sin vir humor kry’. Dis sommer bog.”

Langer sê ook hy kan nie glo dat mense met kinders sulke beledigings op sosiale media kan rondslinger nie.

“As hulle sulke goed oor my kinders gesê het, sou dit my gebreek het. Moenie kom met daai verskoning dat sportsterre baie geld verdien en dus dikvellig moet wees nie. Alles kom neer op ordentlikheid en goeie maniere, maar ongelukkig is daar deesdae ’n gebrek daaraan in ons gemeenskappe.” – Reuters, Sportredaksie

Meer oor:  T20  |  Toetskrieket  |  Justin Langer  |  Sosiale Media  |  Eendagkrieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.