Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Broad dwing SA met bal én tong tot oorgawe

Dag 4, vierde toets, Johannesburg:

Engeland (400 en 248)

Suid-Afrika (183 en 274)

Engeland wen met 191 lopies.

Dit maak seer . . . Rassie van der Dussen stap platgeslaan van die veld nadat hy sy paaltjie vir 98 verloor het. Foto: Reuters

Dit het alles by Stuart Broad begin.

Met sy 138 toetse se ervaring het Broad geweet hoe om sy oomblik perfek te kies. ’n Vennootskap het tussen Rassie van der Dussen en Faf du Plessis begin ontwikkel – ’n vennootskap waarna Suid-Afrika die ganse reeks nog smag. Iets meer as ’n skitter-aflewering was nodig om dit te verbreek.

Op halfby het Broad met ’n paar tartwoorde in die kryt geklim. Hy lyk dalk soos ’n hoofseun, maar Maandagmiddag, met Van der Dussen en Du Plessis wat aan hul vennootskap van 92 bou, was hy die stoutgat wat klappers aan die brand steek en op ’n veilige afstand staan en wag vir die vuurwerkvertoning.

HOOGTEPUNTE

Die eerste ontploffing het kort daarna in die 57ste boulbeurt gekom. Met Suid-Afrika op 177/2 het ’n opslagbal van Ben Stokes die steel van Du Plessis se kolf gebreek.

Die bal het uitgerol na halfby en die Protea-kaptein het in sy kampie bly staan. Sam Curran wou die bal terug vir Jos Buttler, die paaltjiewagter, gooi.

Hy het Du Plessis se bene getref, uiteraard tot sy groot ontsteltenis. Wie was onmiddellik by met ’n bemoedigende woordjie . . . Stuart Broad.

Oor die algemeen is Du Plessis ’n gemoedelike karakter, maar hy is onder geweldige druk met sy span wat steier en sy toekoms duister. Hy was ontstig. Met sy pienk regterhandskoen in ’n beskuldigende vinger na Broad gerig, het hy kontak met Buttler se skouer gemaak terwyl dié tussenbeide wou tree.

Broad het hom glo ’n “idioot” genoem en die gemoedere het kookpunt bereik.

In die volgende boulbeurt het Du Plessis aanhou praat met die bouler, Wood, en steeds met Broad op halfweg.

Teen daardie tyd was die vennootskap reeds 88 werd en het 178 aflewerings in beslag geneem. Die teiken van 466 was steeds ver buite bereik, maar die vennootskap het Engeland geïrriteer.

Dis toe dat Stokes, waarskynlik die beste speler in dié reeks, ’n bal net laag genoeg laat bly om die onderkant van Du Plessis se kolf te tref en op die paaltjies te spat. Die Protea-kaptein het vir sy 35 lopies van 92 aflewerings van die veld afgestap, waarskynlik vir die laaste keer op Suid-Afrikaanse bodem.

Broad het hom agterna gestaar asof botter nie in sy mond kan smelt nie. Sy tweede klapper het ontplof, maar Broad se werk was nog nie klaar nie.

Rassie van der Dussen het Stokes twee balle ná Du Plessis se paaltjie deur middebaan vir vier gepiets en daarna ’n enkellopie gevat om sy telling op 98 te laat staan. Hy was vasbeslote om sy derde vyftigtal in sy vierde toets in sy eerste honderdtal te omskep.

Toe posisioneer Joe Root ’n veldwerker op kort dekpunt vir die volgende aflewering, wat Mark Wood afgestuur het. Wie was die veldwerker? Niemand anders nie as Stuart Christopher John Broad.

Faf du Plessis en Rassie van der Dussen het Stuart Broad en Engeland gefrustreer. Foto: AP

Van der Dussen het die heeldag uitstekend gespeel. Asof hy wou bewys daar ís nog skietgoed in die Protea-kolfarsenaal.

Hy was berekend, geduldig en dapper. Hy het selfs ’n opslagbal van Wood (4/54) vroeër met sy bors gekeer, net om seker te maak sy hande is uit die bal se pad.

Hy het uitstekend reguit en deur die dekke gedryf en die deeltydse draaiers, Root en Joe Denly, met minagting grens toe gejaag.

Wood het ingedraf en die bal kort van ’n lengte geplant. Van der Dussen het gedryf . . . maar reguit in ’n duikende Broad se hande in. Wood het sy arms soos ’n kettingsaag gepomp en die Pommies het feesgevier terwyl Van der Dussen verslae van die veld gestap en sy kopskerm liggies met sy kolf geslaan het.

“Stuart Broad, Stuart Broad . . . He’s big, he’s bad, he’s better than his dad (Chris Broad)!” het die Barmy Army gesing.

Hulle het geweet hul ervare naatbouler het dié twee paaltjies help neem. Hulle het geweet die res sou vinnig volg.

Die volgende twee, dié van Temba Bavuma (27) en Dwaine Pretorius (2), het Broad sommer self laat kantel met goeie wip en die Proteas se kortstondige weerstand is beëindig. Met die komplimente van die ervare jakkals Stuart Broad.

Die uitslag was nooit in die weegskaal nie, selfs voordat Broad met sy streke begin het.

Minstens was dit ’n meer begeesterde Protea-kolfpoging as in die eerste beurt. Trouens, dit was die beste Protea-kolfpoging sedert die eerste toets in Centurion.

Daar was veggees en selfs ’n aanduiding van verbeterende kolfplanne en -vaardighede, soos wat Van der Dussen met sy omgekeerde veeghoue en voetwerk teen die draaiers gewys het.

Die Boucher-era begin nietemin ’n reeksnederlaag van 1-3. Vernon Philander en dalk selfs ook Du Plessis kry nie die sprokieseinde wat hulle verdien nie.

Die sirenes loei ná agt nederlae in Suid-Afrika se laaste nege toetse. Nou moet Boucher wys dat hy ook, nes Broad, ’n paar truuks het om weer Protea-vuurwerk te bewerkstellig.

TELKAART

Meer oor:  Wanderers  |  Kriekettoets  |  Proteas  |  Engeland  |  Toetskrieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.