Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Broad sal die smal paadjie moet stap

Stuart Broad se raspertong het huismoles veroorsaak en hom grappenderwys laat sê sy pa kan maar vergeet om in die toekoms enige Kerskaartjies van hom te kry.

Dié snelbouler van die Engelse krieketspan bevind hom in die ongelukkige posisie dat sy pa, Chris, die Internasionale Krieketraad (IKR) se wedstryd-skeidsregter is in die toetsreeks teen Pakistan en nie soos politici die wêreld oor, en veral ook hier in Suid-Afrika, anderpad kan kyk wanneer hul kinders by ongeoorloofde praktyke betrokke is nie.

So is Stuart deur pa Chris op die vingers getik toe hy in die eerste toets op Old Trafford in Manchester kru taal teenoor die Pakistani Yasir Shah gebruik het en hom ’n boete van $2 000 (sowat R35 000) en een strafpunt op die lyf geloop het.

Chris Broad is die wedstryd-skeidsregter in al ses van Engeland se toetse hierdie somer en moet dus sy eie seun met dieselfde arendsoë dophou as al die ander spelers.

Chris Broad (links) moes sy seun, Stuart, op die vingers tik nadat hy in die eerste kriekettoets teen Pakistan op die veld geswets het. Foto: Getty Images

Stuart was in ’n bekgeveg met Shah betrokke toe hy sy paaltjie op die laaste oggend van Engeland se spannende sege met drie paaltjies geneem het.

Volgens The Guardian het Stuart op Twitter gespot dat sy pa nou “van my Kerskaartjielys is en ook geen geskenk kan verwag nie”.

Dié Engelse snelbouler het hom egter berus by die straf wat sy pa hom opgelê het en dit nie betwis nie.

Hy is ’n “gewoonte misdadiger”, wat reeds voorheen gestraf is nadat hy op Faf du Plessis gevloek het in Johannesburg verlede seisoen en twee jaar gelede “aggressiewe taalgebruik” teen Indië se Rishabh Pant geuiter het.

Daardie strafpunte bly op ’n speler se “klagstaat” vir 24 maande. Die Pant-oortreding verdwyn aanstaande week, maar sou Broad hom wel weer aan kru taal skuldig maak, sal hy vir een toets geskors word.

Terwyl Broad op die spreekwoordelike eiers sal moet loop in die volgende twee toetse, sê die aanvangskolwer Dom Sibley die Engelse sal in die afwesigheid van Ben Stokes meer balans moet toon in die tweede toets wat Donderdag begin.

Stokes is om familieredes nie vir die laaste twee toetse in Southampton beskikbaar nie.

“Hy is ’n massiewe deel van ons span en een van die beste spelers ter wêreld, maar familie kom eerste en ons ondersteun hom in alles wat aangaan,” het Sibley aan Reuters gesê.

“Ons sal in sy afwesigheid ander spelers moet hê wat sy skoene volstaan.”

Hy sê hy is nie seker wie Stokes sal vervang nie.

“Dit sal interessant wees om te sien watter soort blad in Southampton op ons wag. Die toestande in Manchester was dalk meer gunstig vir die Pakistani-boulers as wat dit in Southampton sal wees,” sê hy.

Sibley het die Pakistanse boulaanval geloof en sê hulle het variasie en vaardighede wat die Engelse kolwers deeglik sal toets.

Die tweede toets tussen Engeland en Pakistan word Donderdag van 12:00 af (SA tyd) regstreeks op SS 2 uitgesaai.

Meer oor:  Internasionale Krieketraad  |  Stuart Broad  |  Toetskrieket  |  Ikr  |  Ecb
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.