Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Broad slaan power Proteas plat

28 aflewerings. 25 minute. Vier paaltjies. Een lopie. Reusagtige Protea-vernedering. 

Die Engelse snelboulers Stuart Broad (3/30) en Sam Curran (1/32) het Suid-Afrika op ’n bewolkte Sondagoggend soos sirkusnarre laat lyk.

Keshav Maharaj trek ’n bal op sy paaltjies, wat in alle rigtings spat. Foto: AP

Quinton de Kock (63) en Vernon Philander (27) het op die vierde dag in St. Georgepark in Port Elizabeth opgedaag met een taak voor oë. Hulle moes die 92 nodige lopies slaan om Suid-Afrika, wat die dag op 208/6 hervat het, verby die 300-kerf te kry en sodoende die opvolgbeurt af te weer.

Engeland se eerstebeurttelling in die derde toets is 499/9. 

REGSTREEKS

Die Barmy Army het skaars die laaste lirieke van die lied Jerusalem gesing, soos wat hulle ná elke eerste aflewering van ’n dag se spel of ’n nuwe kolfbeurt doen, toe ruk Broad Philander se wegpen uit die grond met ’n skitterbal wat van die naat af inbeweeg het. 

In die volgende boulbeurt klop Curran De Kock se verdediging met ’n bra gemiddelde aflewering en sy paaltjies spat in alle rigtings. 

Keshav Maharaj (0) het die durf van ’n muis gewys en ’n verskoning van ’n trekhou teen Broad uitgestal, die bal op sy eie paaltjies getrek en koponderstebo kleedkamer toe gestap. 

Kagiso Rabada (1) het die enigste lopie tot die Proteas se oornagtelling bygevoeg voordat hy ’n Broad-aflewering sagkens vir Mark Wood op halfby geslaan het. Suid-Afrika is almal vir 209 uitgeboul.

Broad het die oggend met boulsyfers van 3/0 van 16 aflewerings afgesluit. 

Die spel het om 10:00 begin. Teen 10:30 was die Barmy Army besig met hul tweede uitvoering van Jerusalem vir die dag – weer ná ’n Broad-aflewering nadat Joe Root die Proteas gevra het om op te volg. 

Sewe boulbeurte is tussen Pieter Malan (1*) en Dean Elgar (13*) uitgesien voordat die reën begin uitsak het, met Suid-Afrika op 15/0 in sy tweede beurt. 

Reën word vir die grootste deel van Sondag en ook vir Maandag se vyfde dag voorspel, maar die Proteas verdien eintlik nie dat dié toets onbeslis eindig nie. 

Buiten Anrich Nortjé, wat Vrydag en Saterdag as naguiltjie gekolf het en ’n allemintige 136 aflewerings vir sy 18 lopies uitgesien het, was geen Protea bereid om in te grawe nie. 

Charl Langeveldt, die Protea-boulafrigter, het Vrydagaand gesê Nortjé is ’n ‘proper Dutchman’.

Toe die snelbouler Saterdag self daaroor gepols is, het hy gesê dié bynaam versinnebeeld karaktertrekke soos veggees, hardnekkigheid, mannemoed en durf. Die Proteas kan by meer proper Dutchman-geit baat. 

TELKAART

Meer oor:  St Georgepark  |  Port Elizabeth  |  Toetskrieket  |  Kriekettoer  |  Kriekettoets  |  Proteas  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.