Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Broad wou toetskrieket groet

Die Engelse snelbouler Stuart Broad het onthul hy het “100% daaraan gedink om uit te tree” nadat hy verlede maand uit die span gelaat is vir die eerste toets teen die Windies.

Stuart Broad vier verlede week die paaltjie van die Windie Jermaine Blackwood. Foto: Getty Images

Die 34-jarige Broad is oor die hoof gesien vir die toets in Southampton, wat die besoekers met vier paaltjies gewen het.

Hy het in die volgende twee toetse gespeel en in die proses 16 paaltjies laat kantel om verby die 500-toetspaaltjiekerf te skuif.

“Het ek gedagtes gehad oor uittree? 100%, want ek was so teneergedruk,” het Broad aan die Mail on Sunday gesê.

“Ek het verwag om te speel (in die eerste toets), wat altyd ’n gevaarlike ding in sport is. Maar ek het gevoel ek verdien dit.

“Toe Stokesy (Ben Stokes) my meedeel ek is nie gekies nie, het ek aan die bewe gegaan. Ek kon skaars praat.”

Net ses boulers het in die geskiedenis meer paaltjies as Broad, wat nou al in 140 toetse gespeel het, in dié formaat van die spel agter hul naam.

Die 16 paaltjies wat Broad sedert dié afjak ingeoes het, het teen ’n puik gemiddeld van 10,93 per paaltjie gekom.

“Ek het nog nie regtig hieroor gepraat nie, maar ek was platgeslaan in die week van die eerste toets.

“Ek het in die hotel gesit en kon nêrens heen gaan nie.

“Dit was nie asof ek tuis saam met Mollie (sy meisie) kon braai en tot verhaal kom nie.

“Ek kon vir twee dae nie slaap nie. Ek was nêrens én naby daaraan om op te hou speel.”

Broad, wat nou 600 paaltjies in sy visier het, sê Stokes, wat Engeland in die eerste toets in Joe Root se afwesigheid gelei het, het ’n groot rol gespeel om hom te bemoedig.

“Stokesy het die Donderdagaand aan my hoteldeur geklop en ons het in gang gestaan en gesels.

“Hierdie gaan nie oor krieket nie, hoe gaan dit met jóú,” het hy gevra. “Ek was baie beïndruk daarmee.” – bbc.com

Meer oor:  Uittree  |  Stuart Broad  |  Toetskrieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.