Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Tweede toets, dag 3: Pakistan sweef eers hoog, duik toe in die modder
‘Byt net vas, dan maak sluise oop’

Kagiso Rabada het gister die mees bisarre einde aan ’n toetskolfbeurt tot nog toe in sy loopbaan van 34 toetse gadegeslaan.

Ofskoon Suid-Afrika vandag op Nuweland die nodige 41 lopies maklik behoort te jaag om Pakistan in die tweede toets te klop, kon dié toets gister reeds klaar gewees het.

Dale Steyn se Protea-spanmaats omhels hom nadat hy een van sy vier paaltjies platgetrek het.Foto: Gallo Images

Met Pakistan teen die planke, het die Proteas alles in hul vermoë gedoen om die uitklophou te plant om nog ’n kolfkans te kry, maar hulle was te oorhaastig en het blapse begaan.

“Alles was gehaas. Dale (Steyn) het nie ’n volle aanloop gehad nie. Dan was daar ook die dramatiese foutbal (waarmee Vernon Philander vir Mohammad Abbas sou uithaal), en toe nadat dít alles gebeur het, het ons besluit om nie te gaan kolf nie,” het Rabada ná die dag se spel gesê.

“Dit was die kaptein (Faf du Plessis) en afrigter (Ottis Gibson) se besluit. Hulle het gevoel dit gaan nie die moeite werd wees as ons kolf en in vyf beurte 40 lopies probeer kry nie.”

Ofskoon die Proteas Pakistan laat in die dag teen die toue gehad het, het die besoekers vir die eerste keer in die reeks vir ’n tydstip in beheer gelyk.

’n Terugveg-vennootskap van 132 lopies om die derde paaltjie tussen Shan Masood (61) en Asad Shafiq (88) het die Protea-boulers gefrustreer.

Maar, sê Rabada, hulle het geweet hulle moet net vasbyt.

Die vennootskap is eindelik verbreek toe Steyn (4/85) vir Masood uitgekry het. Dit was die begin van die einde van Pakistan se tweede kolfbeurt.

Rabada (4/61) het die laaste paaltjie platgetrek, en Pakistan is vir 294 uitgehaal nadat die Proteas 431 in hul eerste beurt aangeteken het.

“Ons het omtrent geswoeg vir daai deurbraak vandag, maar dit sou nie toetskrieket wees as dit te maklik was om paaltjies te kry nie,” sê Rabada.

“Dit was belangrik in daardie tyd dat ons kon wys dat ons kan aanpas by wat die situasie verg. As jy eers daardie uithouvermoë wys, dan sal die hemelsluise oopgaan. Dis presies wat vandag gebeur het. Safiq en Masood het baie goed gekolf. Babar Azam (72) was ook puik.”

Safiq het gesê dit was sy plan om uit te kom en die Proteas se boulaanval aan te vat. “Ek het ’n bietjie makliker gekolf vandag. Die positiewe ingesteldheid ten opsigte van my kolfwerk het ook baie gehelp om dié soort houe te speel,” het Safiq gesê.

Sy blitsbeurt het slegs 118 balle in beslag geneem en 12 viere en een ses ingesluit.

“Dit was altyd in my agterkop dat ek voorheen al lopies hier aangeteken het toe ek vyf jaar gelede hier was.

“Ek het die bal goed getref (op die eerste dag); ek was vol selfvertroue. Ek moes net geduldig wees om ’n groot beurt te speel.

“Dis egter nie maklik om teen die Proteas se boulaanval te kolf nie. Hulle het boulers van wêreldgehalte. Ek het net gegaan om my soort houe te speel as die bal in die regte gebiede geland het.

“Die bal wip baie meer hier as in Asiese toestande. Dit was my groot bekommernis, om te onthou dat daar ekstra wip in die bal is.

“Maar as jy jou houe reg gespeel het, het jy die beloning daarvoor gekry.”

Vyf van die bestes: Vern se paaltjie spat in die helfte; Babelse verwarring

Vangkans van die dag: Zubayr Hamza vang vir Yasir Shah op die grens van die boulwerk van Dale Steyn af nadat Shah die bal oor die Proteas-paaltjiewagter, Quinton de Kock, se kop slaan. Hamza, die plaasvervangerveldwerker, was millimeters van die grenstou af toe hy die hoë vangskoot benut het.

Uiteindelik ’n deurbraak: Steyn kry die paaltjie van Shan Masood wat die deurbraak vir die Proteas is nadat die span se boulers gesukkel het om hom en Asad Shafiq uit te kry. Steyn het ’n goeie aflewering afgestuur met Masood wat buiterand bygekry het. De Kock het die vangkans benut.

Aflewering van die dag: Die paaltjies spat in alle rigtings. Mohammad Amir boul Vernon Philander skoon met ’n puik aflewering waarby Philander binnerand kry. Die bal het op sy paaltjies gespat en die bypen middeldeur gebreek.

Babelse verwarring: Kagiso Rabada neem die laaste vangskoot, maar dis ’n foutbal deur Philander. Met De Kock en die Paki- stanse kolwers reeds van die veld af, word al die spelers deur die skeidsregters op die veld teruggeroep. Almal het gedink dit was die einde van Pakistan se kolfbeurt.

Hou van die dag: Shaheen Afridi pos Steyn vir ’n ses reg oor die Protea-bouler se kop. Dit was ’n tipiese “vat so!”-hou van die Pakistanse bouler nadat hy al heeltyd vir ’n vale geswaai het om Steyn en sy medeboulers oor die grens te pos. Dié ses het bygedra tot nog waardevolle lopies vir Pakistan se voorsprong.

Telkaart
Pakistan 1ste beurt 177

Suid-Afrika, 1ste beurt (oorstaan 382/6)

A. Markram b Masood  78 

D. Elgar v Ahmed b Amir 20

H. Amla b Abbas 24

T. de Bruyn  v Azam b Afridi 13

F. du Plessis  v Ahmed b Afridi 103

T. Bavuma v Ahmed b AfridI 75

Q. de Kock v Ahmed b Afridi  59

V. Philander b Amir 16

K. Rabada b Amir 11

D Steyn b Afridi 13

D. Olivier nie uit nie 10

Ekstras (5ll, 1bl, 3fb) 9

TOTAAL (almal uit  124.1 bb)  431

Val van paaltjies: 1-56, 2/123, 3/126, 4-149, 5-305, 6-356, 7-394, 8-407, 9-408, 10-431.

Boulontleding: Amir 33-9-88-4; Abbas 34-8-100-1; Afridi 27.1-3-123-4;  Shah 21-1-79-0; Masood 5-1-19-1; Shafiq 4-0-16-0.

 

Pakistan (2de beurt)

Imam-ul-Haq v Elgar b Steyn 6

Shan Masood v De Kock b Steyn 61

Azhar Ali bvp b Rabada 6

Asad Shafiq v De Kock b Philander 88

Babar Azam nie uit nie 32

Fakhar Zaman v&b Rabada 7

Sarfraz Ahmed bvp b Olivier  6

M. Amir v De Kock b Steyn 0

Yasir Shah v Hamza b Steyn  5

Mohammad Abbas nie uit nie 10

S. Afridi v Philander b Rabada 14

Ekstras (9ll, 4bl, 4fb, 2w) 19

TOTAAL (almal uit, 70.4 bb)  294

Val van plaatjies: 1-10, 2-27,  3-159,  4-194,  5-201, 6-220, 7-221, 8-247, 9-270, 10-294.

Boulontleding: Philander19-6-51-1; Steyn 19-2-85-4; Olivier 16-3-84-1; 

Rabada 16.4-2-61-4.

Meer oor:  Kagiso Rabada  |  Toetsreeks  |  Toetskolfbeurt  |  Suid-Afrika  |  Pakistan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.