Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Campher se sukses g’n verrassing

Die Suid-Afrikaans gebore krieketspeler Curtis Campher se “affair” met die Iere het eintlik lank reeds voor sy spogbuiging Donderdag teen Engeland begin.

Curtis Campher vier sy vyftigtal in sy debuutwedstryd vir Ierland. Foto: AP

Campher (21) was Ierland se ster in hul nederlaag met ses paaltjies in die eendagwedstryd in Southampton. Hy het 59 onoorwonne lopies in moeilike omstandighede aangeteken en syfers van 1/26 met die bal behaal.

Campher het in 2016 reeds met Ierse krieket kennis gemaak, vertel Wim Jansen, sy hoërskoolafrigter destyds by St. Stithians College in Johannesburg.

“In 2016 het Ierland hier getoer en John Bracewell, hul afrigter, het my genader vir netboulers. Curtis het gegaan en hulle het dadelik kennis geneem van die laaitie. Die konneksie is toe al gemaak,” sê Jansen.

“Hy was ons kaptein in 2016 en 2017 by St. Stithians. Hy is ongelooflik mededingend – hy sit alles in om seker te maak sy span kom oor die lyn. Hy motiveer die ouens rondom hom en sy entoesiasme is aansteeklik.”

Die span wat Campher aangevoer het, het die groot skolereekse in Gauteng en in die Lions-streek gewen en het daarna ook die nasionale Cubs-week gewen. Hy het ook in 2018 saam met die Suid-Afrikaanse o.19-span in Engeland getoer.

In een van die wedstryde het hy die Engelse kaptein, Tom Banton, uitgeboul. Ironies genoeg het Banton ook Donderdag gespeel. En raai wie het hom uitgekry . . .

“Curtis het groot BMT (big match temperament), so as die groot oomblik daar is, is hy gereed. Jy kon in Donderdag se wedstryd sommer in sy oë sien hy wou indruk maak.”

’n Ou soos Curtis sou dom gewees het om nie daardie geleentheid aan te gryp nie, want hy het ’n Ierse paspoort.

Campher is vroeër vanjaar Ierland toe om klubkrieket in Dublin te gaan speel.

“Hy het by ’n vriend van my, Alan Lewis, gebly, wat ook krieket in Ierland gespeel het,” vertel Jansen.

Campher is vir die Ierse “A”-span gekies en het beïndruk met twee vyftigtalle teen Namibië vroeër vanjaar in Suid-Afrika. Vandaar het hy sy kans vir die senior span gekry, ’n kans wat die veelsydige speler aangegryp het.

Die kwessie oor of jong spelers in Suid-Afrika moet bly en of hulle hul vlerke na die buiteland moet sprei, is ’n interessante debat wat Jansen gereeld met sy spelers het.

“Die wêreld is deesdae soos ’n dorpie. ’n Ou soos Curtis sou dom gewees het om nie daardie geleentheid aan te gryp nie, want hy het ’n Ierse paspoort.” Campher kwalifiseer deur sy ouma om vir Ierland te speel.

“Hy hoef dus nie vir vier of vyf jaar eers in Ierland te gewoon het om te kwalifiseer nie. Daar was ook nie ’n kans dat hy nou by die Lions of ’n ander Suid-Afrikaanse span sou instap nie. Ek dink dit was die regte besluit.”

St. Stithians het onlangs verskeie skitterende jong krieketspelers opgelewer en daar is tans 15 voormalige leerlinge van dié skool wat eersterangse krieket wêreldwyd speel. Twee van hulle – Kagiso Rabada en Wiaan Mulder – speel vir Suid-Afrika.

Saam met Campher en Brandon Glover, wat vir Nederland speel, is daar tans dus vier voormalige St. Stithians-leerlinge wat internasionale krieket speel.

Meer oor:  Tom Banton  |  Curtis Campher  |  Wim Jansen  |  Southampton  |  Engeland  |  Ierland  |  Eendagkrieket  |  T20  |  Toetskrieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.