Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Candice tree in bres vir Warner oor balpeutery

David Warner se vrou, Candice, het haar man se aandeel in Australiese krieket se balpeuterskandaal verdedig en voer aan daar steek meer in “SandpaperGate” wat eendag in ’n memoire onthul sal word.

Candice en David Warner. Foto: Getty Images

Candice Warner was vandeesweek ’n gas op die SAS Australia-televisieprogram waar sy gepraat het oor die derde toets teen die Proteas in Kaapstad en die pyn en lyding wat haar gesin deurgemaak het op daardie berugte toer in Suid-Afrika in 2018.

FoxSports berig sy tree in die bres vir haar gesin te midde van wat sy beskryf as die openbare kritiek dat sy en David “slegte ouers” is en dat sy “regtig ’n swak ma was” vir hulle drie klein dogtertjies.

“Ons het van Suid-Afrika na Australië teruggekeer, daar was ’n voorval met die Aussie-krieketspan, daar was balpeutery . . . Ek voel te veel mense is vinnig om te kritiseer of oordeel te fel oor my of my gesin,” sê sy.

Op die vraag of David hom aan balpeutery skuldig gemaak het, sê sy: “Nee. Dit is ander mense se mening. Hy het nog nooit sy kant van die storie vertel nie.”

’n Ondersoek het bevind David Warner het die aanvangskolwer Cameron Bancroft beveel om met die bal te peuter. Laasgenoemde is op beeldmateriaal betrap waar hy ’n stukkie geel skuurpapier gebruik om die toestand van die bal probeer verander.

Steve Smith, destyds die span se kaptein, was die enigste Aussie wat dadelik ná die toets deur die Internasionale Krieketraad gestraf is.

Hy is vir ’n toets geskors en was sy wedstrydgeld kwyt omdat hy as die span se leier “verantwoordelik” was vir die dade van sy spanmaats.

Maar Krieket Australië se eie ondersoek het gelei tot skorsings van ’n jaar vir Smith en Warner, terwyl Bancroft vir nege maande uit die spel gedwing is.

Warner het nog nie volledig sy rol in die skandaal verduidelik nie en daar is spanmaats wat voel dat hy te veel van die skuld op sy eie skouers dra.

Sy bestuurder, James Erskine, is al verskeie kere genader met lonende aanbiedinge vir sy kliënt om sy kant van die saak te stel. Die betrokke partye glo egter dit is beter om vir eers stil te bly en krieket te speel ná al die harde werk om Warner weer by die span te integreer.

Erskine sê Warner het ’n dagboek gehou en sal waarskynlik ’n boek publiseer wanneer sy loopbaan verby is.

“Daar sal ’n tyd en plek wees. Hy sal op die regte tyd ’n boek skryf,” sê Erskine.

Die Warners saam met hulle drie dogtertjies in Desember 2019. Foto: Getty Images

Candice sê mense laat hulle nie van die voorval vergeet nie.

“Ja, dit volg ons rond, maar selfs voor dit was daar voorvalle in Suid-Afrika waar mense probeer het om my te spot en verkleineer voor my familie,” sê sy.

“Dit het te make gehad met ’n voorval uit my verlede en hulle het gedink dit is snaaks. Ek het destyds ’n fout begaan, ek wil nie daaroor uitbrei nie.”

Candice en David is deur die loop van die Suid-Afrikaanse reeks gespot oor haar aand saam met die rugbyster Sonny Bill Williams by die Clovelly-hotel meer as ’n dekade vroeër.

David is selfs deur sy spanmaats vasgehou toe hy die Protea-paaltjiewagter Quinton de Kock op die trappe in die Durban-toets te lyf wou gaan nadat laasgenoemde glo ’n “onsmaaklike” uitlating oor Candice gemaak het.

Sy het later gesê die stres van die hele petalje in Suid-Afrika het bygedra tot haar miskraam.

– Sportredaksie

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.