Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Charlie Llewellyn se ‘donker’ geheim
Charles Bennett Llewellyn het tussen 1895 en 1912 in 15 toetse vir Suid-Afrika gespeel. Foto: Getty Images
Dit was so hittete of Duanne Olivier het ’n rekord, wat al meer as ’n eeu lank staan, in die pas afgelope toetsreeks teen Pakistan geëwenaar. Foto: Gallo Images

Charlie wie?

Só het krieketondersteuners waarskynlik gereageer toe hulle hoor dat Duanne Olivier so byna Charlie Llewellyn se Suid-Afrikaanse rekord vir die meeste paaltjies in ’n reeks van drie toetse oortref het.

Met reg ook – Llewellyn het immers meer as ’n eeu gelede in sy laaste toets vir Suid-Afrika gespeel en is boonop reeds 55 jaar oorlede.

Olivier se 24 paaltjies teen Pakistan kon egter net-net nié die 25 slagoffers oortref wat Llewellyn in 1902 met sy stadige linkshandige boulwerk in ’n reeks van drie toetse teen Australië platgetrek het nie.

Dié rekord is egter nie die enigste rede waarom Llewellyn ’n plek in die geskiedenisboeke van Suid-Afrikaanse krieket het nie.

Hoewel sy dogter dit in 1976 ontken het, word Llewellyn wyd gereken as die eerste speler van kleur wat vir Suid-Afrika krieket gespeel het.

Hy is op 29 September 1876 in Pietermaritzburg gebore – die seun van ’n Engelsman en ’n swart vrou van die eiland St. Helena.

Hy is op 29 September 1876 in Pietermaritzburg gebore – die seun van ’n Engelsman en ’n swart vrou van die eiland St. Helena.

Llewellyn se dogter, wat in Engeland gewoon het, het egter gesê sy ma was ’n wit Engelse vrou. Tog word dit algemeen aanvaar dat hy wel die eerste speler van kleur was om Suid-Afrika te verteenwoordig – bykans ’n eeu voor Omar Henry toetskrieket vir sy land gespeel het.

Dié aanname word beaam deur ’n geskiedkundige, Roland Bowen, wat later onthul het dat Llewellyn homself op ’n toer in Australië in die 1910/’11-seisoen in ’n badkamer moes toesluit om weg te kom van die teenstanders se diskriminasie teenoor hom – skynbaar weens sy velkleur.

In Suid-Afrika het hy hom met tye as wit voorgedoen om ’n plek in spanne te kry. Dít is moontlik gemaak deur sy ligte gelaatskleur.

Volgens Wilfred Rhodes, ’n voormalige Engelse krieketspeler, het dit gelyk of Llewellyn “ ’n Engelsman is wat redelik deur die son gebrand is”.

Volgens Wilfred Rhodes, ’n voormalige Engelse krieketspeler, het dit gelyk of Llewellyn ’n Engelsman is wat redelik deur die son gebrand is.

Hoe dit ook al sy, Llewellyn was ’n veelsydige speler wat ’n uitstekende eersterangse loopbaan gehad het.

Nie net het hy in 15 toetse vir Suid-Afrika gespeel nie, maar hy het ’n enorme 267 eersterangse wedstryde vir onder meer Natal, Hampshire en London County gespeel.

In dié wedstryde het hy meer as 11 000 lopies geslaan en meer as 1 000 paaltjies platgetrek.

Hy is selfs in 1901 vir ’n Engelse toetsgroep gekies, maar het uiteindelik nie plek in die elftal vir ’n toets teen Australië gekry nie.

Hy het boonop in ’n span saam met die beste Engelse spelers van sy tyd deur Noord-Amerika getoer en in 1911 is hy as een van die Wisden Cricket Almanack se vyf Krieketspelers van die Jaar aangewys. Nadat hy uit eersterangse krieket getree het, het hy tot die ouderdom van 62 mededingende klubkrieket gespeel.

Llewellyn het sy eersterangse buiging in 1895 vir Natal teen Transvaal gemaak en sy nasionale buiging in die volgende jaar teen Australië.

Charlie Llewellyn (heel voor, links) in 1901 saam met sy Hampshire-spanmaats in Engeland. Foto: Getty Images

Hy het egter so-so vertoon en het gesukkel om gereeld die toetsspan te haal. In 1899 het hy na Engeland verhuis, waar hy vir Hampshire gespeel het.

Hy het vyf keer in sy loopbaan meer as 1 000 lopies in ’n graafskapseisoen aangeteken en ook vyf keer meer as 100 paaltjies in ’n seisoen platgetrek. In 1901, 1908 en 1910 het hy dié twee uitsonderlike prestasies in dieselfde seisoen behaal.

Een van sy hoogtepunte sluit ’n uitstekende beurt van 216 in wat hy vir Hampshire teen niemand anders nie as ’n besoekende Suid-Afrikaanse span aangeteken het.

Llewellyn is op 7 Junie 1964 in die ouderdom van 87 dood. Twee jaar voor dit was hy in ’n ongeluk waarin hy sy been gebreek het.

Bronne: ESPNcricinfo.com, cricketcountry.com, Wisden, sahistory.org.za, cricketbuzz.com

Meer oor:  Duanne Olivier  |  Suid-Afrika  |  Hampshire  |  Apartheid  |  Krieket  |  Rekord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.