Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Krieketbaas skets donker prentjie
Nabeal Dien, die Cobras se uittredende uitvoerende hoof, met Nuweland in die agtergrond. Foto: Denvor de Wee

Donker tye wag op krieket wanneer die Covid-19-inperking eindig, maar as administrateurs skeppend dink, kan die gevolge omseil word.

Nabeal Dien, die uittredende uitvoerende hoof van die Cape Cobras, het Woensdag op ’n aanlyn afskeidsnuuskonferensie gesê die koronavirus gaan beslis krieket se ekonomie nadelig beïnvloed.

“Ons moet onthou dat krieket se finansies reeds voor die virus in ’n benarde posisie was. Sake gaan nou net nog erger raak,” sê Dien.

Dien, wat sedert 2015 die uitvoerende hoof by Nuweland was, het gesê dit gaan moeilik vir die bonde wees as die komende seisoen se internasionale wedstryd agter geslote deure moet plaasvind.

“Onthou die provinsies kry nie regstreeks die uitsaaigeld vir internasionale wedstryde nie. Ons kry aanbiedingsgeld by Krieket Suid-Afrika.

Die Australiese krieketspan oefen op Nuweland vroeër vanjaar. Foto: Getty Images

“Dit dek nie koste van die wedstryde nie. Die tuisstadion is geregtig op 40% van die hekgeld van elke wedstryd. Nuweland is gelukkig dat ons altyd amper vol is en word ons koste deur die hekgeld gedek.

“As daar geen toeskouers is nie, gaan dit baie moeilik vir die provinsies wees om internasionale wedstryde aan te bied. Veral as ’n mens die ekonomiese toestande in ag neem,” sê Dien.

Dit is in KSA se finansiële belang om wedstryde aan te bied, al is dit agter geslote deure. Die beheerliggaam verdien die grootste deel van sy inkomste deur die verkoop van uitsaairegte van internasionale wedstryde wat plaaslik gespeel word.

Jacques Faul, die waarnemende uitvoerende hoof van KSA, het gesê dat hekgeld maar 3% of 4% van sy inkomste genereer.

“Bywoning van wedstryde in Suid-Afrika kan nie met Europa vergelyk word nie en dit is nie ’n groot deel van ons finansiële model nie.

“Dit is ook die rede waarom die Mzansi-Superliga die komende seisoen sal voortgaan, al is dit agter geslote deure,” sê Faul.

Dit is ook die rede waarom die Mzansi-Superliga die komende seisoen sal voortgaan, al is dit agter geslote deure.
Jacques Faul

Die groot vraag bly of enige internasionale krieket moontlik sal wees voor die einde van die jaar. Die finansiële druk beteken dat almal wil speel, maar dit is nog nie duidelik of internasionale reis moontlik gaan wees nie.”

KSA het onlangs drie T20-wedstryde later vanjaar teen Indië aangekondig. Dit kan die beheerliggaam glo $10 miljoen (bykans R180 miljoen) in die sak bring.

Maar die onsekerheid rondom die pandemie beteken dat dié wedstryde ook in die weegskaal is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.