Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Cobras, Warriors in gunstige posisie

Met twee rondes oor in de plaaslike T20-krieketreeks het die Cape Cobras en die Warriors Woensdagaand hul posisie aan die bopunt van die punteleer verstewig en is gunstig geplaas om tuishalfeindstryde te verseker.

Die Cobras het die Titans in die Paarl geklop, terwyl die Warriors ’n oortuigende bonuspuntsege oor die Lions bewerkstellig het op die Wanderers en daarmee die Johannesburgers uit die tweede plek geskouer het.

Die Warriors se sterkolwer Gihahn Cloete. Foto: Gallo Images

’n Aanvangsvennootskap van 107 lopies tussen Gihahn Cloete en Matthew Breetzke het die grondslag gelê vir die Oos-Kapenaars se klinkende sege met nege paaltjies.

Dit nadat die tuisspan tot 144/6 beperk is in hul kolfbeurt.

Slegs ’n handjievol toeskouers het hierdie wedstryd bygewoon en in die laaste seisoen waar hierdie reeks aangebied word, blyk dit asof hierdie kompetisie ’n stadige dood sterf.

Weens swaar reën die afgelope tyd is daar nou reeds ’n ongekende tien kragmetings wat heeltemal uitgereën het en geen uitslag kon oplewer nie.

Die Cobras is in die eerste plek op 23 ligapunte, gevolg deur die Warriors met 21, daarna kom die Lions met 19 en die Titans met 15. Hulle is die vier spanne wat op die oomblik die plekke vir die halfeindronde beklee.

Die Dolphins met 12 en die Knights met 10 is egter wel ook nog nie uit die wedloop nie, maar sal heel moontlik albei hul laaste twee wedstryde moet wen.

Die laaste twee ligakragmetings vir al die spanne word hierdie naweek beslis.

Vrydagaand speel die Cobras en die Lions in Kaapstad, die Warriors speel in Port Elizabeth gasheer vir die Dolphins en die Titans is tuis in Centurion teen die Knights.

Die laaste reeks van kragmetings wat die halfeindstryde sal bepaal is Sondag.

Dan kom die Dolphins en die Cobras teen mekaar te staan in Durban, die Warriors en die Knights speel in Oos-Londen en die Titans is weer tuis in Centurion teen hul buurman, die Lions.

Wat Woensdagaand se kragmeting op die Wanderers betref, het die jong Breetzke sy loopbaanbeste telling van 72* (45 balle, 5x4, 4x6) aangeteken, terwyl Cloete 54 van 33 balle geslaan het, met sewe viere en twee sesse.

Die Lions se beurt het net mooi die teenoorgestelde begin, met verskeie paaltjies wat vroeg verloor is, insluitende dié van Rassie van der Dussen (2).

Sy Lions-spanmaat in die Wêreldbekergroep, Dwaine Pretorius (48 van 27 balle) het teen die einde die beurt bietjie aansien gegee, maar hul telling was nooit genoeg om die verwoede slaanwerk van die Warriors-aanvangspaar baas te kon raak nie.

Meer oor:  T20  |  Warriors  |  Cobras  |  Plaaslike Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.