Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
‘Conway beloon Kiwi’s vir hul lojaliteit’

In Nieu-Seeland het Devon Conway vertroue en lojaliteit gevind. Nou het dié gebore Suid-Afrikaner sy aangenome land met ’n koeëlronde 200 daarvoor vergoed.

Conway (29) se onkonvensionele krieketreis het Donderdag ’n hoogtepunt bereik met sy 200-tal in sy toetsbuiging teen Engeland op Lord’s in Londen.

Devon Conway in aksie in die eerste toets teen Engeland op Lord’s. Foto: Getty Images

In Suid-Afrikaanse krieketkringe was daar min verbasing oor sy spogvertoning.

“Ek is superbly vir Dev; ek het saam met hom gespeel sedert ons 14, 15 jaar oud was,” het Temba Bavuma uit die Karibiese Eilande aan Netwerk24 gesê. Bavuma is ’n oudleerling van St. David’s in Johannesburg en het in sy jongdae gereeld saam met Conway gespeel, wat op St. John’s skoolgegaan het.

“Mense wat saam met hom gespeel het, sal nie verbaas wees deur sy meesterlike kolfvertoning in sy toetsbuiging nie.

“Hy was nog altyd ’n uitsonderlik talentvolle speler en deur sy vasberadenheid en toewyding het hy dít op die wêreldverhoog gewys.”

Conway het vir jare sonder sukses probeer om deur te breek in die Suid-Afrikaanse franchisestelsel voordat hy in 2017 na Nieu-Seeland verhuis het. Terwyl Conway skittervertonings vir Gauteng in semi-professionele krieket gelewer het, het hy gesukkel om bestendig goed te vertoon vir die Lions.

In Nieu-Seeland het hy egter nie daardie probleem ondervind nie. In sy laaste tien eersterangse wedstryde vir Wellington het hy ’n gemiddeld van 69.46 gehandhaaf. Vandaar sy kans in die toetsspan.

Hulle het hom vertrou en nou vergoed hy hulle.

Adrian Norris, wat Conway by St. John’s afgerig het, het Woensdagoggend voor sy televisie reggeskuif om die eerste oggend van die toets te kyk . . . maar toe, slegs drie lopies later, slaan beurtkrag toe.

“Daarna het ek weer gekyk van toe hy op 105 gestaan het tot uitskeityd (Woensdagaand),” sê Norris aan Netwerk24.

“Devon was nog altyd ’n kolwer wat vrylik gekolf het. Oor die jare het hy volwasse geraak; hy is sielkundig sterker.

“Hy was nog altyd tegnies goed – hy speel die bal laat, onder sy oë. Hy speel die bal reguit, of slaan deur die dekke, of oor ekstra dekpunt. Die draaihou na die regby waarmee hy sy honderdtal bereik het, is ’n kenmerkende hou (hy span sy gewrigte vernuftig in om dié hou te speel).

Devon Conway vier sy honderdtal. Foto: Getty Images

“Hy het heeltemal op sy gemak gelyk, goed gebalanseerd en hy het nie ontsenu geraak nie, selfs al het (die Engelse sneller) Mark Wood hom ’n paar keer met kortballe gepeper. Sy kolfbeurt het baie lekker gevloei.”

Norris is dit eens dat Conway se bestendigheid in franchisekrieket in Suid-Afrika hom in die steek gelaat het.

“Devon is ’n lojale mens en hy soek lojaliteit en vertroue in ander mense. Dít het hy in Nieu-Seeland gekry. Hulle het hom vertrou en nou vergoed hy hulle.”

Die gewese eersterangse krieketspeler Omphile Ramela was Conway se kaptein by St. John’s. Ramela het Woensdag op Facebook geskryf “swak talentbestuur” het daartoe gelei dat Conway koers gekies het.

“Van sy afrigters het na hom verwys as ’n ‘amateur-boelie’ en dat hy nie sukses in internasionale krieket sou behaal nie,” skryf Ramela.

Conway is die 12de Suid-Afrikaner van geboorte wat ’n honderdtal in sy toetsbuiging aanteken – maar net ses van hulle het dit vir die Proteas gedoen. Kepler Wessels het ’n honderdtal in sy toetsbuiging vir Australië geslaan, terwyl Andrew Strauss, Matt Prior, Jonathan Trott en Keaton Jennings dit vir Engeland gedoen het.

Conway is ook die sesde speler wat sy buiging op Lord’s met ’n honderdtal vier. Drie van dié ses spelers is Suid-Afrikaners, maar ook nie een ’n Protea nie. Prior en Strauss is die ander twee.

Hy het ook nou die hoogste debuuttelling op Lord’s, beter as die Indiër Sourav Ganguly se 131 in 1996. Ironies genoeg deel Conway en Ganguly ’n verjaardag (8 Julie).

Conway se telling is die tweede hoogste deur ’n Kiwi in sy buiging, met Mathew Sinclair (214) in die eerste plek.

Jacques Rudolph se 222 teen Bangladesj in Chittagong in 2003 is die beste telling deur ’n Suid-Afrikaner in sy debuut en die tweede beste in die geskiedenis, naas die 287 wat RE Foster in 1903 vir Engeland teen Australië aangeteken het.

Meer oor:  Toetskrieket  |  Devon Conway  |  Nieu-Seeland  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.