Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Corrie sê waarom KSA Enoch kies

Krieket Suid-Afrika (KSA) het Enoch Nkwe nie vir die wolwe gegooi deur hom as die waarnemende Protea-spandirekteur vir die toer na Indië aan te stel nie, sê Corrie van Zyl.

Corrie van Zyl, Krieket Suid-Afrika se waarnemende direkteur van krieket. Foto: Gallo Images

KSA het verlede week aangekondig dat Nkwe die span op dié toer van drie T20-wedstryde en drie toetse in September en Oktober afrig. Dít ondanks dat die 36-jarige Nkwe slegs een jaar se ervaring as franchise-afrigter het.

“Ons sal nie ’n man by die diepkant ingooi as ons nie dink hy kan swem nie,” sê Van Zyl, KSA se waarnemende direkteur van krieket.

“Ek kyk na hoe hy gevaar het aan die stuur van ’n Mzansi-superliga-span met internasionale spelers soos Chris Gayle en Dan Christian, ons kyk na hoe hy saam met die sterk leierskap van Faf du Plessis sal saamwerk, en hoe hy saam met die res van die afrigtingspan gaan saamwerk.

“Ek kyk na sulke eienskappe en sien sterk leierskap. Ons glo in hom,” sê Van Zyl.

Die eerste jaar as franchise-afrigter van Nkwe, ’n voormalige eersterangse speler van Gauteng en die Lions, kon wel beswaarlik beter verloop het. Onder hom het die Jozi Stars die eerste MSL gewen en die Lions het twee titels – die meerdagreeks en die plaaslike T20-reeks – verower.

Daar is geen twyfel dat Nkwe ’n belowende afrigter is nie, maar ’n toer na Indië is ’n reuse-uitdaging, selfs vir ’n gesoute breier. Het KSA Nkwe die versekering gegee dat hy hom nie in die krieket-woestyn sal bevind as die jong, grootliks onervare Protea-span kleitrap nie?

“Hy het nooit vir só ’n versekering gevra nie, wat weer eens ’n aanduiding van sy karakter is,” sê Van Zyl.

“Ek dink wel dit sal onredelik (van KSA) wees om ná slegs een toer ’n oordeel oor hom te vel.”

Enoch Nkwe, die waarnemende Protea-spandirekteur. Foto: Gallo Images

Aan die plaaslike front is daar afrigters soos die Titans se Mark Boucher, die Cobras se Ashwell Prince en Malibongwe Maketa, wat die Proteas se hulpafrigter onder Ottis Gibson was, wat almal meer ervaring as Nkwe het. Van Zyl voel nietemin dat Nkwe nou die regte man is om by die Proteas in te staan.

“Daar is baie ander goeie afrigters, maar ons het hier gekyk na sekere ander aspekte, soos of hy en Faf mekaar goed gaan aanvul,” sê Van Zyl.

“Enoch is uiteraard net in ’n waarnemende hoedanigheid aangestel en ek hoop die ander afrigters sal aansoek doen as die pos geadverteer word. Ons het skitterende afrigters in die land.”

Krieket Suid-Afrika kan Malibongwe Maketa, wat as die Protea-hulpafrigter gepos is, dalk in ’n ander hoedanigheid ontplooi. Foto: Gallo Images

Een van dié afrigters, Maketa, is vroeër ook as ’n toekomstige Protea-breier gesien. Dit is juis daarom dat dié voormalige Warriors-afrigter in September 2017 as Gibson se adjudant aangestel is. Ná die teleurstellende Wêreldbeker-toernooi het hy saam met Gibson en sy ganse afrigtingspan die trekpas gekry.

Tog is dit nie die laaste wat krieketliefhebbers van Maketa gehoor het nie, verseker Van Zyl.

“Ons het planne vir hom. Ek het eintlik sopas met hom gepraat en ons gaan Donderdag om ’n tafel sit.

“Ek beskou hom as ’n skitterende afrigter en hy het verder ontwikkel met die ervaring wat hy by die Proteas opgedoen het.”

Van Zyl sê die res van Nkwe se afrigtingspan sal binnekort aangekondig word.

Meer oor:  Ksa  |  T20  |  Toetskrieket  |  Corrie Van Zyl  |  Eendagkrieket  |  Proteas  |  Enoch Nkwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.