Die res van Pakistan se vlagskip-T20-liga is Donderdag ná ’n virtuele noodvergadering tussen dié land se krieketbeheerliggaam (PCB) en span-eienaars met onmiddellike ingang uitgestel.

Die Pakistanse kolwer Muhammad Nawaz in aksie in verlede jaar se Pakistanse Superliga. Foto: Getty Images
Dít volg nadat nog drie spelers, wat sedert 20 Februarie aan die Pakistanse Superliga deelneem, positief getoets is vir Covid-19. Dié spelers was van twee verskillende spanne.
Altesaam sewe betrokkenes by die liga, waarvan ses spelers, is reeds positief getoets.
Die PCB het in ’n verklaring gesê hy het dié besluit geneem omdat die “gesondheid en welstand van die spelers voorop gestel word”.
Volgens ESPNcricinfo was die Australiese bybreekbouler Fawad Ahmed die eerste speler wat positief getoets is (op 1 Maart). Die volgende dag is nog twee spelers en ’n afrigter positief getoets.
Die PCB het vroeër Covid-19-inentings vir almal aangebied wat in die liga se bioborrel was.
Dale Steyn tel onder van die groot name wat in dié liga in aksie was. – Reuters, ESPNcricinfo