Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Protea-drukkies sneuwel weens Covid-19

Vir iemand soos die Suid-Afrikaanse vrouekrieketspeler Chloe Tryon, wat weet hoe om die wilgerlat in te lê, was dit ’n uitdaging om die afgelope week die eerste keer in meer as vier maande weer ’n kolf vas te hou.

Dié 26-jarige veelsydige speler en haar spanmaats het vandeesweek die eerste keer sedert vroeg Maart weer in spanverband geoefen. Hulle het te midde van die Covid-19-pandemie ’n oefenkamp in Pretoria gehou.

Protea-vrouekrieketspelers wens mekaar geluk in ’n wedstryd by die T20-Wêreldbeker-toernooi vroeër vanjaar in Australië. Sulke drukkies is vir eers taboe. Foto: Getty Images

En, erken Tryon, ’n boorling van Durban, dit wás ’n uitdaging ná die lang tyd van inperking.

“Die wag was baie moeilik. Vir my was dit net om terug te keer na die basiese dinge in al die aspekte van die spel,” sê Tryon volgens ’n verklaring van Krieket Suid-Afrika.

“Dit is ’n ruk sedert ek laas gekolf, geboul en veldwerk gedoen het, so dit was lekker om met die basiese dinge te begin en dit eenvoudig te hou. Ek wou nie sommer dadelik halsoorkop inklim nie,”

Die oefenkamp vorm deel van die Proteas se voorbereiding vir ’n toer, wat moontlik in September na Engeland sal plaasvind. Dan is daar ook die Wêreldbeker-toernooi, wat nog geskeduleer is om in Februarie in Nieu-Seeland te begin.

Weens die pandemie moes Tryon en haar spanmaats by ’n nuwe normaal aanpas – een waarvan drukkies nie deel uitmaak nie.

“Uit die aard van die saak wil jy gaan en vir jou spanmaats ’n drukkie gee, maar dit kan nie nou gebeur nie. Die nuwe protokol vir oefeninge is nogal moeilik en almal is effens deurmekaar,” sê Tryon.

Chloe Tryon lê die wilgerlat in tydens ’n oefenwedstryd teen Sri Lanka vroeër vanjaar. Foto: Getty Images

“Al die meisies is baie bewus van wat moet gebeur en almal het die afgelope week goed by die reëls oor sosiale distansiëring gehou en om te verseker dat alles ontsmet word.”

Hilton Moreeng, afrigter van die Protea-vroue, het waarskynlik voor die oefenkamp ’n paar aande wakker gelê en wonder in watter toestand die spelers ná so ’n lang tyd weg van die oefenveld sou wees. Maar die spelers het hom nie teleurgestel nie.

“Ons belangrikste oogmerk met die eerste oefenkamp was om mediese en fiksheidstoetse op die spelers te doen en ook dat die spelers terugkeer,” sê Moreeng.

“Die laaste keer toe ons saam was, was by die Wêreldbeker (T20 in Februarie en Maart in Australië) en daarom was dit belangrik om weer aan krieketdinge gewoond te raak. So ver het dit goed gegaan en ons is tevrede met waar die groep hom bevind.”

• Die hoëprestasiegroep sal weer op 16 Augustus in die Jakarandastad vir ’n tweede oefenkamp saamtrek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.